Esidimeni: Families in trane ná geskorste hoof jammer sê

Familie van die Life Esidimeni-slagoffers was Vrydag tydens die arbitrasieverhore in trane (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Familie van die Life Esidimeni-slagoffers was Vrydag tydens die arbitrasieverhore in trane toe Tiego  “Barney” Selebano, geskorste hoof van die departement van gesondheid in Gauteng, die naasbestaandes om verskoning gevra het vir die 143 sterftes van psigiatriese pasiënte.

Adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, voorsitter van die verhore, het aan Selebano gevra om “uit sy hart” met die familie van die slagoffers en diegene teenwoordig by die verhoor te praat. Selebano het gevra of hy mag staan voordat hy die gehoor toespreek.

Hy het gesê hy het sedert die verhore besef mense is baie kwaad en dat hy dit kan verstaan wanneer hy name genoem word.

“Ek wil voor die families kniel en my kop buig – nie omdat ek bang is vir oogkontak nie, maar omdat ek nederigheid teenoor diegene teenwoordig wil wys. Ek sê aan die families: Julle het die volste reg om ons nie te vergewe nie. Julle het alle reg om kwaad te wees vir ons. Julle verlies is nie ons verlies nie – dis net julle verlies. Jy sit by die huis en mis jou ma of jou suster. Dis hoekom ek aanhou sê niemand kan dit [wat gebeur het] verduidelik nie. In kort: Ons het ʼn gemors gemaak. Ons het ʼn groot gemors gemaak,” het hy gesê.

Selebano, wat ʼn mediese dokter is, het gesê dié voorval het die publiek se vertroue in die openbare gesondheidstelsel geknou. Hy het gesê hy sal verstaan indien die familie van slagoffers besluit om hom nooit te vergewe nie.

Dr Barney Tiego Selebano getuig by die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor (5 Desember 2017) Foto:: Brenda Masilela/ANA

“Ek sal vir ewig aan die tragedie geken word – selfs in my oudag. My naam sal altyd gekoppel word aan die verlies van dié 143 lewens. Dit is ʼn swaar las om te dra.”

Familie van die slagoffers, diegene in die gehoor sowel as Moseneke het trane afgevee. Selebano het gesê hy gaan dit sy doel maak om al die families te besoek en om verskoning te vra. “Ek sal na die families toe gaan en sê: ‘Jammer ek het vir julle seer veroorsaak’. Ek wil hê julle moet my vergewe – vergeet van die departement.”

Hy het tydens die verhoor gevra dat afsprake met van die families gemaak word sodat hy dié proses van “vergiffenis” kan begin.

Selebano het vroeër erken dat hy toestemming gegee het dat die psigiatriese pasiënte na die fasiliteite van nieregeringsorganisasies verskuif word. Hy het ook erken dat die departement skuldig daaraan was om waarskuwings van familielede en psigiaters ten tyde van die proses te ignoreer.

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid, sal na verwagting eers in Januarie 2018 getuig. Die vinger is sedert die begin van die tragedie veral na Mahlangu gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Willemien ·

Onwaar kommentaar, Dr Selebano het vir regter Mosoneke gevra of hy asseblief kan staan as hy die mense toespreek. Uit respek.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Willemien
Jy is in die kol! Ons vra om verskoning vir die foutiewe sin – die berig is gewysig. Dankie vir jou valkoog!
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Anita ·

Wanneer hou dit op. Elke dag moet ons hoor hoe GIL die mense

Robert ·

Anita, dit sal nie gou ophou nie, die LUR moet nog kom bieg. Hierdei 2 mense is uiters arrogant. Dit kos eers ‘n dagvaardiging om hulle voor die komitee te kry. Dit spreek net van arrogansie. Altwee hierdie mense moet krimineel vervolg word en hulle moet tronk toe gaan. Hulle het mense indirek vermoor en dit is met voorbedagte rade gedoen. Die waarskuwings was daar maar hulle verwaandheid het hoogty gevier. Ek ys vir iemand wat deur die sogenaamde Dr Selebano moet ondersoek word vir enige kwaal. Hy is nie die graad wat hy verwerf het werd nie. Hierdie is maar net die punt van die ysberg wat in departemente aangaan wat deur die korrupte ANC bedryf word. Gelukkig gaan hulle die 2019 verkiesing verloor!!

Alida ·

Alle hel sou losgebars het as die situasie omgekeerd was. Dit is n afskuwelike insident en n sonde in die oe van die Here. Daardie mense was weerloos.

Geliefd ·

Dr Selobane, ek bid al dae lank vir jou. Jy het broos en onseker op TV voorgekom. Niemand moet klippe gooi, almal maak foute. My hart gaan uit na jou vrou en kinders. Soos jy sê jou naam sal altyd hieraan gekoppel wees.

Dis tragies en verskriklik wat met die pasiënte gebeur het, mag God Sy hand oor julle hou en julle vrede gee.

Mariette ·

Al wat ek wil weet …waar was die familie toe die geliefdes agteruit gegaan het?…Is dit geld wat nou gaan moet reg maak wat krom is….hulle besoeke was nie so aanmekaar by hulle familie…Hulle sou mos agter kom…Nou is hulle daar in hulle glorie

petra ·

Geen mens kan hierdie mense se pyn verstaan nie. Om vergifnis te vra gaan hulle nie terugbring nie. Hy moes vroeer daaraan gedink het toe hy papiere onderteken het. Sorry help nie meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.