Esidimeni: Geskorste hoof beskuldig ondergeskiktes

Dr Barney Tiego Selebano getuig by die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor (5 Desember 2017) Foto:: Brenda Masilela/ANA

Tiego Selebano, geskorste hoof van gesondheid in Gauteng, het sy ondergeskikte, dr. Makgabo Manamela, beskuldig vir die Esidimeni-tragedie, en gesê sy was die leier van die span wat die onsuksesvolle oorplasings geïmplementeer het.

Selebano het Dinsdag voor die arbitrasieverhoor getuig ná sy dringende aansoek om ʼn dagvaarding tersyde te stel, Maandag met koste van die hand gewys is.

Selebano is geskors in die lig van die aanbevelings deur die gesondheidsombudsman Malegapuru Makgoba ná minstens 143 psigiatriese pasiënte gesterf het toe hulle van Life Esidimeni na ongelisensieerde en onbekwame NRO’s oorgeplaas is.

Hy het tydens sy getuienis gesê Manamela en haar span het ʼn plan beraam hoe die pasiënte oorgeplaas sal word en sy verantwoordelikheid was om die plan goed te keur.

Afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke wou weet of die plan ooit geïmplementeer sou word sonder sy goedkeuring. “Dit kon nie [voortgaan nie], maar as die bestuurders sê dit is die plan, dit werk, dan is jy, as hoof van die departement, onder druk [om dit goed te keur]. Sodra dit goedgekeur is, dan neem jy aanspreeklikheid,” het Selabano gesê.

Hy het volgehou die besluit om die kontrak met Life Esidimeni te kanselleer, was ʼn kollektiewe proses deur die provinsiale departement van gesondheid. Hy het verduidelik die departement was finansieel onder druk en hulle het gehoor hulle sou dieselfde gehalte sorg kry vir die pasiënte, teen laer koste.

Manamela, geskorste direkteur van gesondheidsdiens in die provinsie, het vroeër geweier om enige skuld te aanvaar oor die afsterwe van die pasiënte en het volgehou dit was ʼn “spanpoging” en sy kan nie alleen die skuld dra nie.

Manamela was tydens die projek in beheer daarvan om lisensies aan die NRO’s uit te reik en, volgens haar, het slegs een NRO nie ʼn lisensie gehad nie. Dit het egter aan die lig gekom dat verskeie NRO’s ongelisensieerd was. Haar pligte het ook ingesluit om die fasiliteite te ondersoek, maar sy het slegs vier van die 27 sentrums besoek.

Selebano het gesê hy het eers deur die media uitgevind dat die pasiënte gesterf het en hy is ook in kennis gestel toe hy ʼn oproep ontvang het van Aaron Motsoaledi, nasionale minister van gesondheid. “Die minister het gesê, ‘Barney, jy moet hierdie NRO’s gaan sluit, ons kan nie nog sterftes bekostig nie’.”

Moseneke wou by Selebano weet of die NRO’s geassesseer is voor die lisensies uitgereik is. “Dr. Manamela en haar span was verantwoordelik vir die assessering van die NRO’s en toe die plan aan my voorgelê is, het hulle gesê die NRO’s was oukei. Ek weet nie eens hoe om ʼn NRO te assesseer nie.”

Hy het gereeld daarna verwys dat daar “druk” was om die projek aan die gang te kry.

Patrick Ngutshana, hoof van getuienis, wou by Selebano weet waar die druk vandaan gekom het.

“Dit het van LUR Qedani Mahlangu gekom,” het Selebano geantwoord.

Selebano het toegegee dat die projek bespoedig is, en dat die pasiënte na NRO’s gestuur is voor dit geassesseer is, terwyl die fasiliteite nie geskik was nie.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johanna Botha ·

Ag dis die hele probleem …dis altyd iemand anders of jy se net ….” I didn’t know ” Geeen maar GEEEN verantwoording of gevolge al gaan daar hoeveel dood onder jpu toesig en leierskap ….waneer stel ons mense aan diens wat die werk KAN doen ! Die hele gemors is presies hoe die anc werk !

JZ ·

Dit is reg,Dit is die ANC se leuse op eenige vraag wat hy nie van hou nie”DIT IS NIE EK NIE, EK WEET NIE, EK WAS NIE BY NIE.”

John ·

Skande… skande… skande. En binnekort is hy weer in ‘n top jop…

Eish ·

Ek het nie meer byvoeglike naamwoorde oor om die regering se kapasiteitsgestremdheid te beskryf nie.
Dus volstaan ek met die 1983 vertaling van Prediker 10:16
” Ellende wag vir die land waarvan n slaaf koning is en waar amptenare vroeg in die dag begin feesvier. “

Giggel ·

Wat verwag jy van iemand wat slegs ‘n algemene praktisyn met minimum ervaring het in administrasie OF gespesialiseerde gesondheidsorg wat aangestel word as HOOF van ‘n staatsdepartement.

ongelooflik dom ·

Eish jy is weereens reg. Dit gaan egter verander – nie nou al nie – maar dit gaan. Die manne wat die velskoene dra gaan weer eendag in beheer wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.