Esidimeni: Gesondheidshoof aanvaar aanspreeklikheid

Dr Barney Tiego Selebano getuig by die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor (5 Desember 2017) Foto:: Brenda Masilela/ANA

Barney Tiego Selebano, geskorste hoof van die departement van gesondheid in Gauteng, het Woensdag verantwoordelikheid aanvaar vir die sterftes van 143 psigiatriese pasiënte wat van Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s oorgeskuif is.

“Ek aanvaar aanspreeklikheid, dit het onder my toesig plaasgevind,” het Selebano aan afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke gesê tydens die tweede dag van sy getuienis voor die arbitrasieverhoor.

Selebano se dringende aansoek om ʼn dagvaarding wat hom dwing om tydens die verhoor te getuig ter syde te laat stel, is verlede week met koste van die hand gewys.

Selebano het ook toegegee dat die pasiënte dood is weens onder meer nalatigheid.

Selebano het erken dat hy die plan om die pasiënte van Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s oor te plaas goedgekeur het. Hy het gesê hy het nie die fasiliteite geïnspekteer soos hy vir sy bestuurders gevra het om te doen nie.

“Dit is nie haalbaar vir die hoof van ʼn departement op enige plek in die land om elke liewe projek op die grond te bestuur nie. Dit is hoekom jy jou bestuurders vertrou. As jy hulle nie kan vertrou nie, wie kan jy dan vertrou?” het Selebano gevra.

Selebano, ʼn mediese dokter, het gesê as hy van beter geweet het sou hy nooit dié reuseprojek toegelaat het nie. Hy kon egter nie verduidelik waarom sy departement voortgegaan het om pasiënte te skuif toe hulle eie psigiaters en families teen die oorplasing gewaarsku het nie.

“Ten spyte van al die waarskuwings het jy en die LUR [Qedani Mahlangu] voortgegaan met die projek. Was dit arrogansie van die bestuur?” het Moseneke gevra.

“Nee, ek is nie ʼn arrogante persoon nie,” het Selebano gesê.

“Die dood is die hoogste prys wat hierdie pasiënte betaal het. Daar is ook oorlewendes van hierdie tragedie. Hoekom het jy voortgegaan ten spyte van die waarskuwings?” het Moseneke gesê.

“As ek die vooruitsig gehad het, sou ek gestop het.”

“Maar jy is gewaarsku?” het Moseneke gevra.

“Dit is moeilik vir my om terug te gaan 2015 toe en die stand van my denke toe te bepaal. Ek aanvaar dat daar waarskuwings was,” het Selebano geantwoord.

Selebano het ook bekend gemaak dat hy navraag gedoen het om Life Esidimeni moontlik te koop en besef het dis moontlik om dit kontant te koop om kontinuïteit te verseker. Hy kon nie verduidelik hoekom hy dit nie gedoen het nie.

“Hoekom het jy nie die fasiliteite gekoop eerder as om die pasiënte oor te plaas nie? Dit kon ons hierdie hele tragedie gespaar het,” het Moseneke gesê.

Selebano het gesê as hy in die toekoms in kon sien, sou hy dit gedoen het.

Moseneke het vir Selebano gesê hy was volgens wet verplig om stappe te doen om skade te vermy.

Adv. Adila Hassim, vir Section 27, het gesê die regering was van plan om R20 miljoen in 2015, 2016 en 2017 te bestee, en het vir Selebano gevra hoekom die geld nie vir die sorg van Esidimeni-pasiënte aangewend kon word nie.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Aanvaarding van verantwoordelikheid impliseer nie net lippediens wanneer jy in n hoek gedryf is deur oorweldigende bewyse nie, ook die gevolglike sanksiemaatreels wat hopelik in die pyplyn is. Hierdie is tronksake.

Alida ·

Hy is onbevoeg verklaar hoe op aarde kan sy medewerkers dan bevoeg wees?

Blom ·

HULLE IS ALMAL SKULDIG!!! VAN BO TOT ONDER!!!!! Hierdie gespuis is nie in staat om te verstaan hoeveel mense hulle eintlik vermoor het nie!!! Sterkte aan die families wat deur hierdie trauma moet gaan en elke dag moet kyk in die gesigte van hierdie moordenaars van hulle geliefdes!! Ek persoonlik sou myself nie kon beheer het as dit met my familielid gebeur het nie.

Johann Marx ·

Dit bly maar elke keer ‘n ontnugtering om te beleef hoe ‘n sekere gedeelte van die mensdom, ongeag hulle vlak van opvoeding, NIE oor die vermoë beskik om die uitkoms van hulle dade in ag te neem terwyl hulle daardie dade pleeg nie? Dis hoekom ons tronke en tronke vol “onskuldige” mense het……gaan vra maar enige gevangene.

M A ·

Dis nie altemit nie. Ek hoor by iemand wat met gevangenes gewerk het dat een misdadiger nie kan verstaan wat gebeur het nie. Hulle het dan voor elke rooftog gebid vir sukses. ?

M A ·

Die grootkoppe word nou ondersoek, wat heeltemal reg is. Wat ek nie kan verstaan nie is hoe jy so n onmens kan wees wat hulpelose afhanklikes van die honger laat doodgaan terwyl jy sorg dat jy genoeg het. Dit gaan nie oor ongelisensiëer nie of NRO nie, dis basiese menslikheid. As daar dan nie kos of vaardighede was nie, kon mens tog sekerlik hulp vra. My hart huil vir die mensdom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.