Esidimeni: Getuie gepols oor opgrawing van liggame

Levy Mosenogi, die hoofdirekteur van beplanning by die Gautengse departement van gesondheid. Foto: ANA

Die voortdurende vertraging in die proses om die liggame van voormalige Life Esidimeni-pasiënte te laat opgrawe om patologiese bewyse te bekom, kan veroorsaak dat die ondersoek na die tragedie tevergeefs is, het die arbitrasieverhoor Donderdag gehoor.

Genl.maj. Charles Johnson, ʼn senior polisiebeampte betrokke by die strafregtelike ondersoek na die Esidimeni-tragedie, is deur adv. Adila Hassim kruisondervra onder meer oor twee aparte briewe wat deur die organisasie Section 27 aan die SAPD gestuur is. Die briewe sit die omvang van die tragedie uiteen en noem moontlike misdade wat gepleeg is, maar nooit deur die polisiebestuur oorweeg is nie.

“Kan jy verduidelik hoekom daar sedert die brief op 20 September 2016 aan die SAPD gestuur is, geen dringende stappe gedoen is om ondersoek in te stel nie. Die brief is aan die Atteridgeville-stasiebevelvoerder, die kommissaris van die polisie, die minister en kapt. Mwanza van die Atteridgeville SAPD gestuur. Tot vandag toe het Section 27 nog geen reaksie op die brief ontvang nie,” het Hassim aan Johnson gesê.

“Hoekom is daar geen liggame opgegrawe nadat hierdie saak onder die polisie se aandag gebring is nie?” Johnson het gesê dit is die eerste keer dat hy van die briewe aan die polisiebestuur hoor.

“Ek weet nie van hierdie kommunikasie nie. As dit aan die stasiebevelvoerder gestuur is, soos jy sê, dan moet hy of sy aanspreeklik gehou word. Daar is ʼn wetlike verpligting om op te tree. Ek kan nie daarop kommentaar lewer nie aangesien die briewe nie aan my gerig was nie. Die oomblik toe die Esidimeni-saak onder my aandag gebring is, het ek opgetree. Ek weet nie hoekom die polisie nie opgetree het nie.”

Hassim verteenwoordig meer as 50 families van die Life Esidimeni-slagoffers.

“Dit is nou al meer as ʼn jaar sedert die liggame begrawe is en op baie van hierdie liggame is daar nie nadoodse ondersoek gedoen nie. Is dit nie noodsaaklik dat die liggame opgegrawe word sodat die oorsaak van dood bepaal kan word nie?” het sy aan Johnson gevra.

“Jy het in jou getuienis genoem dat die opgrawings nog nie gedoen is nie omdat jy vir ʼn deskundige se insette wag.”

Johnson het geantwoord: “Nee, ek wag nie vir ʼn deskundige se insette om die opgrawings te doen nie. Ek het getuig dat ons met die finalisering van ons ondersoek gelei is deur ʼn patoloog en die NVG oor die haalbaarheid van opgrawings om die oorsaak van dood te bepaal. Dit was my getuienis.”

Hassim het Johnson gevra: “So geen opgrawings is gedoen nie? As dit nie haalbaar is nie, hoe doen julle die ondersoek? Hoe bepaal julle die oorsaak van dood as die liggame vir meer as ʼn jaar al begrawe is en, namate tyd verloop, dit al moeiliker raak vir ʼn opgrawing om enigiets bruikbaar op te lewer? Hoe gaan dit later haalbaar wees as dit nie nou haalbaar is nie?”

Johnson het hierop die regsproses verduidelik om liggame te laat opgrawe, wat sal begin met die ondersoekbeampte wat ʼn staatsaanklaer moet nader om ʼn hofbevel vir so opgrawing te versoek.

Hassim het geantwoord dat haar vraag nie gaan oor die opgrawingsproses nie, maar oor die rede waarom daar steeds geen opgrawings gedoen is nie gegewe dat die polisie vasgestel het dat die pasiënte nie werklik weens natuurlike oorsake gesterf het soos deur die NRO’s beweer is nie.

Johnson het gesê hy kan nie ʼn hof nader om ʼn opgrawing te versoek as hy nie enige bewyse het nie. Daar moet ʼn ondersoek gedoen word.

Adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke het gevra hoekom die polisie nie ʼn dringende aansoek by die hof ingedien het om die opgrawings te laat doen nie. “Die vraag is, nadat jy toegegee het hierdie is ʼn dringende saak, hoekom het jy nie opgetree om die opgrawingsbevele te kry nie. Of hoekom is daar nie dringend ondersoek ingestel in die lig van duidelike versoeke nie? Bewyse mag dalk verdwyn. Weet jy hoekom jou kollegas nie dadelik opgetree het nie? Van die minister reg deur tot die stasiebevelvoerder?” het Moseneke gevra.

“Ek weet nie,” het Johnson geantwoord. “Die enigste rede hoekom ons as die ondersoekers nie die opgrawings gedoen het nie is omdat ons gelei is deur die aanklaer met wie ons gereeld vergader om die stand van die ondersoek te bespreek. In hierdie stadium het ons nog geen aanduiding van die NVG gekry om op te grawe nie. Ons as die polisie het dit ook nie so versoek nie.”

Moseneke het gesê dit is ʼn algemene feit dat met elke dag wat verbygaan, dit meer waarskynlik is dat ʼn nadoodse ondersoek onbeslis sal wees. “Dit is ʼn bekende feit in forensiese patologie dat binne die eerste ses maande in die somer en miskien nege maande in die winter, ontbinding byna voltooi is. Ná ʼn jaar gaan jy waarskynlik net met die beendere van die liggaam sit. Wat [Hassim] basies sê is weens die polisie se versuim om sedert September verlede jaar op te tree, sal die ondersoek van die liggame wat begrawe is nie juis bruikbaar wees nie?”

Johnson het gesê hy stem saam met Moseneke. Hy het ook met Hassim saamgestem dat daar ondersoek ingestel moet word hoekom sy kollegas nie vroeër oor die Esidimeni-tragedie opgetree het nie. Volgens Johnson moet die ontvangers van Section 27 se briewe geroep word om in die arbitrasieverhoor te verskyn en vrae hieroor te beantwoord.

“Ek was aangestel om die dood van die pasiënte wat vanaf Esidimeni geskuif is te ondersoek. Die waarnemende nasionale kommissaris moet besluit wie sal die versuim om op Section 27 se briewe te reageer ondersoek, nie ek nie.”

Die mislukte oorplasing van meer as 3 000 voormalige Life Esidimeni-pasiënte na ongelisensieerde NRO’s het daartoe gelei dat 141 van hulle weens honger en verwaarlosing gesterf het. Altesaam 59 van hierdie pasiënte word steeds vermis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae