Esidimeni: Mahlangu bereid om te getuig

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng. Foto: ANA

Die ANC in Gauteng het Sondag weereens aantygings dat hy glo nie weet waar Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, haar bevind nie en dat sy huiwer om voor die arbitrasieverhoor oor die Life Esidimeni-voorval te getuig, verwerp.

Motalatale Modiba, woordvoerder vir ANC, het herhaal wat die ANC op 24 Oktober in ʼn verklaring gesê het.

Hy het gesê die ANC was glo al in gesprek met Mahlangu oor haar beskikbaarheid om voor die arbitrasieverhoor, wat deur adjunkhoofregter Dikgang Moseneke gelei word, te getuig.

“Sy het aangedui dat sy geen probleem het om te verskyn nie, maar dat sy nie op die lys van getuies is nie. Sy het kontak gemaak met die kantoor van die arbitrasie om die logistieke aspekte van die verskyning te bespreek,” het Modiba gesê.

Teen die einde van Augustus 2017 het Mahlangu aansoek gedoen om tydelik van haar pligte as lid van die provinsiale uitvoerende komitee onthef te word om haar nagraadse studie voort te sit. “Daarom is enige aantyging dat die organisasie nie weet waar sy haar bevind nie ongegrond. Qedani is steeds ʼn verkose lid van die provinsiale uitvoerende komitee.”

Die DA het vroeër Sondag gesê David Makhura, premier van Gauteng, se rol in die oorplasing van psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s, wat tot 141 sterftes gelei het, moet ondersoek word.

Dumi Masondo, geskorste voorsitter van die Gautengse Hersieningsraad vir Geestesgesondheid, het Vrydag aan die Esidimeni-arbitrasieverhoor gesê Makhura het vergaderings bygewoon oor die skuif van die pasiënte, en hy was dus bewus van die oorplasings, aldus DA-woordvoerder Jack Bloom.

“Dit is teenstrydig met Makhura se bewering dat hy nie geweet het dat die pasiënte na NRO’s oorgeplaas sou word nie, maar dat hulle na ander staatsgesondheidsgeriewe oorgeplaas sou word,” het hy gesê.

Masondo het ook gesê Mahlangu is opdrag gegee “deur mense bo haar” om die kontrak met Life Esidimeni te beëindig.

Sy het onder eed getuig en daarom moet haar bewerings ernstig opgeneem word, het Bloom gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.