Esidimeni: Mahlangu gedagvaar om te getuig

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng. Foto: ANA

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, is gedagvaar om in Desember voor die arbitrasieverhoor oor die Life Esidimeni-voorval te getuig.

Mahlangu het egter aangedui sy sal eers einde Januarie 2018 beskikbaar wees om te getuig.

“Die voormalige LUR word deur Ngcebetsha Madlanga-prokureurs verteenwoordig en sy het deur haar prokureurs laat weet dat sy tussen 21 en 31 Januarie eers beskikbaar sal wees om te getuig. Ons het egter die besluit geneem om haar te dagvaar om op 6 Desember te verskyn,” het Tebogo Hutamo, vir die staat, Maandag gesê.

Hutamo het bygevoeg dat dit moeilik was om Mahlangu op te spoor. Hy het aanvanklik aan die arbitrasieverhoor gesê dat Mahlangu nie kan verskyn nie omdat sy voorberei vir eksamens wat sy in die buiteland moet skryf.

“Die enigste moeilike ding is nou waar sy haarself bevind. Ons het haar prokureurs versoek om ons van haar formele adres te voorsien sodat die dagvaarding afgelewer kan word,” het Hutamo gesê.

Waar Mahlangu haarself bevind, het onder die loep gekom ná daar berig is dat sy in die Verenigde Koninkryk is en by die London School of Economics (LSE) studeer. Die Mail & Guardian het egter Saterdag berig die LSE het geen rekord van haar registrasie as student nie.

Die ANC in Gauteng het Sondag weereens aantygings dat die party glo nie weet waar Mahlangu haar bevind nie en dat sy huiwer om voor die arbitrasieverhoor oor die Life Esidimeni-voorval te getuig, verwerp.

Motalatale Modiba, woordvoerder vir ANC, het gesê die ANC wás glo al in gesprek met Mahlangu oor haar beskikbaarheid om voor die arbitrasieverhoor, wat deur adjunkhoofregter Dikgang Moseneke gelei word, te getuig.

“Sy het aangedui dat sy geen probleem het om te verskyn nie, maar dat sy nie op die lys van getuies is nie. Sy het kontak gemaak met die kantoor van die arbitrasie om die logistieke aspekte van die verskyning te bespreek,” het Modiba gesê.

Teen die einde van Augustus 2017 het Mahlangu aansoek gedoen om tydelik van haar pligte as lid van die provinsiale uitvoerende komitee onthef te word om haar nagraadse studie voort te sit. “Daarom is enige aantyging dat die organisasie nie weet waar sy haar bevind nie ongegrond. Qedani is steeds ʼn verkose lid van die provinsiale uitvoerende komitee.”

Mahlangu word wyd blameer vir die mislukte oorplasing van meer as 3 000 psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s. Minstens 141 van dié pasiënte is in dié NRO’s dood as gevolg van verwaarlosing en honger. 59 van dié pasiënte word steeds gesoek.

Barney Selebano, die hoof van die Gautengse gesondheidsdepartement, en Makgabo Manamela, direkteur van geestesgesondheid by die departement, is ook gedagvaar om voor die verhoor te verskyn. Hulle is vroeër geskors kort nadat die gesondheidsombudsman se verslag oor die Life Esidimeni-tragedie vrygestel is.

Moseneke het gesê die verhoor sal aan die einde van 2017 tot ʼn einde kom. “ʼn Dagvaarding gee nie vir ʼn getuie ʼn keuse om te getuig nie. Dit gee vir hom ʼn datum waarop hy moet getuig. Dit is belangrik dat hierdie verrigtinge voor einde 2017 afgehandel word,” het Moseneke gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kannaland ·

Van die 141 mense wat dood is is nie almal deur slegs verwaarlosing en honger dood nie, ek verstaan soos wat ek op ander media gelees het dat van hulle is opsetlik vermoor sodat hulle sosiale toelaes maandeliks gevat kan word, selfs na hulle dood. Dit is moord in die ernstigste graad en die waarheid moet oopgevlek word.

Ekke ·

Regter Moseneke – hou asb. voet by stuk, sodat hierdie verskriklike saak afgehandel kan word. Moet asb. niks net laat verbygaan nie. Dit is ‘n skryende skande wat hier gebeur het.

Kannaland ·

Eh lees die skuldiges het die oorlede pasiente se SASSA geld getrek en bly trek selfs na dood, dalk was dit n motief om hulle opsetlik nie te laat leef nie?

MANIE ·

Dit is wat gebeur as jy onkundige mense wat hulle slim hou in posisies aanstel waarvoor hulle nie opgewasse is. Nie eens noem dat hulle graag die salaristjek aanvaar maar geen verantwoordelikheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.