Esidimeni: Oudgesondheidshoof hoor dán of hy moet getuig

Dr. Barney Selebano, die voormalige hoof van die Gautengse gesondheidsdepartement. Foto: http://www.health.gpg.gov.za

Die Johannesburgse hooggeregshof het uitspraak voorbehou oor die dringende aansoek van Barney Tiego Selebano, voormalige hoof van die Gautengse departement van gesondheid, om ʼn dagvaarding ter syde te stel wat hom opdrag gee om tydens die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor te getuig.

Regter Daniel Berger het gesê hy het genoeg tyd nodig om oor die saak te dink en sal Maandag sy uitspraak lewer. Berger het bygevoeg dat Selebano nie by die verhoor hoef te getuig tot die uitspraak gelewer is nie.

Die arbitrasieverhoor hoor tans getuienisse aan oor die mislukte oorplasing van psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni na grootliks ongelisensieerde NRO’s. Minstens 143 pasiënte is in die proses dood weens verwaarlosing en verhongering. Altesaam 59 pasiënte word steeds vermis.

Craig Watt-Pringle, vir Selebano, het vroeër aan die hof gesê om hom te dagvaar om te getuig sal soortgelyk wees aan om hom aan nog ʼn verhoor te onderwerp, siende dat hy reeds onderhewig is aan dissiplinêre stappe van sy werkgewer.

Watt-Pringle het vroeër gesê: “Lees tussen die lyne, die regering sê hulle wil hom kruisondervra. Dit is ʼn kommissie, nie ʼn arbitrasie nie.”

Watt-Pringle het bygevoeg Selebano het reeds vrae van die ombudsman beantwoord en het tans ʼn interne dissiplinêre verhoor hangende teen hom. Hy meen as Selebano dus gedwing word om by die arbitrasieverhoor te getuig, sal hy aan nóg ʼn verhoor teen hom onderwerp word.

Staatsaanklaer William Mokhari het egter gesê daar is geen voorgeskrewe formaat oor hoe arbitrasieverrigtinge uitgevoer moet word nie. “Al die partye van die arbitrasie is in ooreenstemming oor die verrigtinge en almal weet wat gebeur en watter prosesse gevolg sal word,” het Mokhari gesê.

“Hy was die hoof van die departement, hy is die een wat die dokumente afgeteken het. Hy moet die arbiter kom bystaan. Hy moet gaan en sê ‘ek was nie betrokke nie,’” het Mokhari gesê.

Selabano is in Februarie geskors vir growwe wangedrag en onbekwaamheid en sy gedrag is by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) aangemeld soos aanbeveel in die gesondheidsombudsman, Malegapuru Makgoba, se verdoemende verslag oor die Life Esidimeni-projek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierre ·

As hy niks het om weg te steek nie sal hy getuig ongeag die feit dat hy reeds geskors is en ondersoek word. Iemand moet pa staan vir die wat hulle lewens verloor het en vir die wat vermis word. Indien die antwoorde voldoende en geloofwaardig was sou dit nie nodig gewees het vir hom om te moet getuig nie. Hoe kan mense afsluiting vind as daar nie konkrete antwoorde is nie. Dis mos iets soos 143 moordklagtes.

So staan op mnr en neem verantwoordelikheid vir jou dade,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.