Esidimeni: Qedani moet getuig, sê Helpende Hand

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng. Foto: ANA

Solidariteit Helpende Hand wil hê die gewese LUR vir gesondheid in Gauteng, Qedani Mahlangu, moet in die arbitrasieproses kom getuig oor die onnodige sterftes van tientalle gestremdes. Helpende Hand voel dat sy die arbitrasieproses moet bywoon om die gevolge van onoordeelkundige besluite te verantwoord. Die oud-LUR het in Februarie 2017 bedank ná die omvang van die sterftes bekend geword het.

Die derde week van die arbitrasieproses is reeds aan die gang, maar Mahlangu het steeds nie getuig nie.

Die arbitrasieverhoor vind plaas onder leiding van afgetrede regter Dikgang Moseneke. Die verhoor handel oor die tragedie waar talle pasiënte wat aan geestelike versteurings lei, gesterf het nadat hulle van Life Healthcare Esidimeni na nieregeringsorganisasies oorgeplaas is. Die departement het gesê die besluit het ten doel gehad om kostes te bespaar en nuwe gesondheidsdiensverskaffers toe te laat.

Helpende Hand het by die arbiter, oudregter Moseneke, en die ander regspartye toestemming gekry om met Mahlangu kontak te maak. Die regsverteenwoordigers gaan nou poog om ’n dagvaarding uit te reik om Mahlangu te dwing om te kom getuig. Sy is tans in die Verenigde Koninkryk waar sy studeer en was tot dusver nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Die regsverteenwoordigers vir families van gesinne wat gesterf het, dring almal daarop aan dat Mahlangu gedagvaar word om te getuig. Helpende Hand steun die gedagte ten volle en het met ’n petisie begin om die Nasionale Vervolgingsgesag te vra om haar te vervolg.

“Dit is egter baie beter as Mahlangu vrywillig by die arbitrasieproses kom getuig,” sê dr. Danie Brink, hoof- uitvoerende direkteur by Helpende Hand. “Ons wil dit vir haar duidelik maak dat Suid-Afrikaners en veral die families van die afgestorwe pasiënte van haar wil hoor. Dit is in nasionale belang dat sy kom verduidelik waarom sy die besluit geneem het om die gestremde pasiënte te skuif.”

Volgens die ombudsman, Malegapuru Makgoba, se verslag wat in Februarie 2017 vrygestel is, is die hoofrede vir die sterftes die onbevoegdheid van almal wat betrokke was by die projek. Dit het onlangs bekend geword dat daar nie net 94 pasiënte dood is nie, maar 141 pasiënte wat gesterf het as gevolg van Mahlangu se besluit om hulle te skuif.

Volgens Brink is hierdie pasiënte die mees weerloos van weerloses. “Die gestremdes, wat op geen manier vir hulle eie regte kan opstaan nie, het ons na aan die hart gelê en ons het regsadvies gaan inwin.

Helpende Hand wil die publiek aanmoedig om die petisie te steun sodat ons kan seker maak die gewese LUR ry aan die pen vir haar swak besluite.

Helpende Hand nooi die publiek uit om die arbitrasieproses te ondersteun en om die petisie te teken: klik hier of stuur ‘n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

kat ·

Mooi man kry haar hier!!!!!!
Help nie om weg te hardloop nie!!

Mielie ·

Baie mense ia dood agv haar besluite en optredes. Sy moet ook soos die doodskis manne behandel word….

marous ·

Sit haar alleen in ‘n baie klein kamertjie saam met al die gestremdes en hul families ….vir ‘n maand.

Eish ·

Voorwaar is die vrywillige opsie die beter een. Dit sal ook goed wees om n getuiedagvaarding te kan bekom. Sou dit nie die gewenste uitwerking hê nie, moet jul geensins gewetenswroeging koester deur n paar vingers te breek en kniekoppe te kraak nie.

Die Bell Pottinger oorwinning is nog vars in die geheue van die Britte en deur n saak soos hierdie aan die groot klok te hang, kan dit n internasionale herrie afgee wat ek seker is die Britte en die universiteit wil vermy. Hul is hoeka op Peter Hain se aandrang besig om die Staatskaping se geldwasdag te ondersoek. Smee die yster terwyl die vuur nog warm is.

Oe-la-la ·

Die regte ding is – arresteer en kla aan en daag voor die hof.

Johanna Botha ·

Wat my betref moes sy al in n oranje oorpak gewees het !

zoom zoom ·

Sy is dan oorsee waar sy kamtig studeer. Wie gaan betaal om haar na SA te vlieg en hoeveel maande gaan dit neem om haar in ‘n hof te laat getuig. Hierdie is nie net ‘ n woerts warts ding nie. Maar laat sy moet getuig is waar.

Johannes van Staden ·

Sy moes dalk iets gestudeer het voor sy die pos gekry het en 141 mense se dood veroorsaak het !

Kat ·

Massamoordenares?Om in n ander land te gaan studeer maak haar nie onskuldig nie.Sy besef dit seker nie.Ly dalk aan volstruis sindroom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.