Esidimeni: Selebano ‘het nooit waarskuwingsbrief gelees’

Dr Barney Tiego Selebano getuig by die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor (5 Desember 2017) Foto:: Brenda Masilela/ANA

Barney Tiego Selebano, geskorste hoof van die departement van gesondheid in Gauteng, het Dinsdag ontken dat hy ʼn brief gelees het van psigiatriese kenners wat die departement gewaarsku het oor die nagevolge daarvan om pasiënte van Life Esidimeni na NRO’s oor te plaas.

Dié brief het aangedui die besluit om pasiënte na NRO’s oor te plaas sal “verwoestende gevolge” hê.

Adv. Adilla Hassim, vir Section 27, het vir Selebano gevra hoekom hy nie die brief gelees het nie. “Dié brief is spesifiek vir die LUR gestuur,” het Selebano geantwoord.

Hassim het geantwoord: “Dit was aan dr. Makgabo Manamela [voormalige direkteur vir geestesgesondheid in Gauteng] gestuur en jy is ingesluit by die brief. Beteken dit niks as regeringsbeamptes by briewe ingesluit word nie?”

Selebano het geantwoord: “Hoekom veralgemeen jy deur te sê regeringsbeamptes?”

Afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het tussenbeide getree en gevra hoe dit moontlik is dat so ʼn reuse-ding vir hom te onbelangrik is om te onthou.

Selebano het verdedigend gesê: “Ek het nie gesê dis onbelangrik nie. Ek onthou nie dat ek hierdie brief gelees het nie.”

Selebano het teruggekap en vir Moseneke gevra hoe hy vir hom kan vra of hy nie onthou nie. “Tensy jy voorstel dat ek nie die waarheid praat nie?” het Selebano gevra.

Moseneke het gesê: “Nee, dalk is die voorstel dat jy die inhoud van die brief ignoreer het.” Selebano het aangevoer hy sou dit nooit gedoen het nie.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters (Sasop) en die Suid-Afrikaanse Angs- en Depressiegroep (Sadag) het die brief aan die departement geskryf, maar dit is geïgnoreer.

Manamela het tydens haar getuienis erken dat sy die brief gelees het, maar nie gereageer het nie.

“My base het ook die brief ontvang, hulle moes gereageer het. Dit was nie binne my vermoëns nie,” het Manamela gesê. Manamela het na Selebano en Qedani Mahlangu, voormalige LUR van gesondheid in Gauteng, verwys.

Selebano het Dinsdag gesê hy sou waarskynlik die proses om die kontrak met Life Esidimeni te beëindig stopgesit het as hy die brief gelees het.

Moseneke het Selebano aangevat op sommige van die waarskuwings wat deur kliniese sielkundiges gegee is dat die oorplasing van pasiënte nie koste sou bespaar nie. “Het jy daaroor gedink?” het Moseneke gevra.

“Jy vat my nou terug na 2015. Daar is so baie goed wat ek toe sou gedoen het,” het Selebano gesê.

Selebano het gesê wat gebeur het, is pynlik en nie iets wat maklik is om af te maak as niks nie. Selebano sal sy getuienis na verwagting Woensdag voortsit.

Minstens 143 psigiatriese pasiënte het gesterf, grootliks weens wanvoeding en erge verwaarlosing nadat hulle na ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is. Altesaam 59 pasiënte word steeds vermis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SKOKKEND ·

EK wil net graag weet of die VERMISTE pasiente al opgespoor is? Hulle families moet seker mal van kommer wees. BUITEN die verskriklike atrocity om die ander van honger en neglect te laat doodgaan, WAAR IS DIE VERMISTE pasiente? Hoekom het niemand ‘n antwoord nie?? Hoe kan jy 59 pasiente VERLOOR? Mense dit is ‘n tragedie . dit is MENSELEWENS, dit is mense se kinders se ouers, se familie, se susters en broers wat VERMIS is .. dis buiten die wat onnodig gesterf het .. maak nie saak watter toestand hulle gehad het nie dit was MENSE en hulle is ‘vermoor’.!!

Linda Gouws ·

Stem 100% saam. Het hulle dan gee n gevoel vir ander mense nie?

Patat ·

?
Ek is bevrees hulle het almal gesterf en hul sterftes is nie aangemeld nie en…
Ek het ‘n kind wat eendag in so ‘n plek sal moet bly na my afsterwe…
?

Eish ·

Ek wonder in die stilligheid hoe effektief die bevindings en aanbevelings van die kommissie gaan wees met amptenary wat so onbeskaamd lieg.

SjN ·

Wil nie verantwoordelikheid aanvaar nie en probeer altyd na iemand anders skuif, swak.

Tersia ·

Sit hom in een van daai plekke en VERLOOR HOM HEELTEMAL.!!!!!!

Andre ·

Is dit die ANC Vroueliga, die EFF en die vakbonde wat buite besig is met protesaksie wat ek hoor omdat hulle so omgee vir die mense? Of is daar nie politiekepunte te kry nie? Hartseer en gebroke families. Sies ANC, wie het hierdie mense en “dokters” aangestel? Kla hulle ook aan!!

piper ·

maar oor die marikana debakel is miljoene bestee en niks bereik nie. hier is heelwat meer lewens betrokke maar nie politieke punte te wen nie. ook nie n privaat instansie met baie geld teen wie n eis ingestel kan word nie.

Bertha Phillips ·

Ons seun was ook in een van die Life Sentrums – in Randfontein. Hy is verstandelike gestrem. Die eenheid was ongelooflik goed vir hom en ons. Daar was egter nie behoorlike inligting ooit deurgegee oor waar die pasiente geplaas gaan word nie. Die pasiente wat verstaan het, was erg getraumatiseerd deur die verskuiwing. Hulle is in bussies gelaai soos skape na n slagpale en nie geweet waar hul heen gaan nie. daar is ook geen voorsiening gemaak vir reElings sodat die verskuiwings rustig kon gebeur nie. Daar is ook nie omgesien na die pasiente se welvaart by sodat vriende min en of meer saam uitgeplaas is nie. Ons seun is vandag by die huis en dit gaan goed met hom, maar daar is ander pasiente wat eenvoudig nie huis toe kon gaan nie. Ons seun raak steeds ontsteld as hy van gebeure op die nuus hoor. Ons weet nie waar een van sy vriende vandag is nie. daar is ook nie voorsiening gemaak vir die getroue werkers nie. Hul is bloot werkloos gelaat. Groot hartseer vir almal.

Penellope Jones ·

As hy nie die briewe gelees het nie, waarom het hy die pos beklee?
As hy hoof van ‘n departement is, is om op hoogte te bly seker die belangrikste!

thelsa ·

Dit moet ‘n eg Suid-Afrikaanse siekte wees om om aan geheueverlies te ly sodra jy verantwoording moet doen. Dit is dalk ‘n Plan B wat hulle het. Tydens die WVK se verhore was al die blaam vir die besluite en uitvoering op die oorlede SAP en Weermag-bevelvoerders geplaas.

Anoniem ·

Glibberige paling wat speel met woorde. Praat al om en om die waarheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.