Esidimeni: Selebano ‘was bang’ vir LUR

Dr Barney Tiego Selebano getuig by die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor (5 Desember 2017) Foto:: Brenda Masilela/ANA

Barney Tiego Selebano, geskorste hoof van die departement van gesondheid in Gauteng, het Woensdag by die arbitrasieverhoor oor die Life Esidimeni-tragedie gesê dit was vir hom moeilik om op te staan teen Qedani Mahlangu, voormalige LUR van gesondheid in die provinsie.

“Was jy regtig bang vir die LUR terwyl pasiënte doodgegaan het?” het afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke gevra.

Selebano het gesê, “Ja, dit was baie gespanne.”

Mosekene het vir Selebano gesê hy was nie wetlik verplig om te doen wat die LUR wou gehad het hy moet doen met betrekking tot die lewens van ander nie en as hy bang was dat hy sy posisie kon verloor, sou die wet hom beskerm. “Besef jy dit?” het Moseneke gevra.

“Ja,” het Selebano geantwoord.

Selebano het gesê dinge in die regering “het anders gewerk” en dat daar nie in daardie omgewing ruimte vir hom was om van sy seniors te verskil nie.

Adv. Adilla Hassim, vir Section 27, het Selebano gepols en wou by hom weet hoekom die departement homself verdedig nadat hy gewaarsku is oor die skuif van die pasiënte.

Section 27 het ʼn prokureursbrief aan die departement gestuur waarin hy die departement gewaarsku het teen die oorplasing van pasiënte. Daar is gedreig om regstappe te doen sou daar nie gehoor gegee word aan die waarskuwings nie. Die departement het homself verdedig en die saak hof toe geneem.

“Hoekom het die departement besluit om die saak hof toe te vat?” het Hassim gesê. Selebano het gesê die besluit is op grond van regsadvies van prokureurs geneem.

Selebano het gesê hy kan nie onthou wanneer die departement besluit het om homself teen Section 27 te verdedig nie. Hy het gevra vir tyd om deur die departement van gesondheid se beëdigde verklaring te lees.

Deel van die verklaring lui dat die departement aangevoer het dat Section 27 se bewerings ongegrond was en dat die departement die projek onder beheer het.

“Wanneer ek dit lees, kom ek agter hoe verkeerd ons dinge gedoen het. Dit was verkeerd van ons om nie ag te slaan op die waarskuwings nie, ons het dinge verskriklik verkeerd gedoen. Ons moes geluister het.”

Selebano het weer gesê as hy terug kon gaan in tyd sou hy dinge anders gedoen het. Moseneke het vir Selebano sy eie verklaring voorgelees dat die Takalani-fasiliteit goed toegerus is om vir psigiatriese pasiënte te sorg.

Altesaam 38 pasiënte is in Takalani dood en daar is twee berigte van beweerde verkragting by dié sentrum.

Moseneke het vir Selebano gevra of Mahlangu vir hom gevra het om dit te doen. “Ek kan as ʼn leier nie vingers wys nie. Ek vind dit pynlik as ʼn persoon,” het Selebano gesê.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Seker die grootste stuk waarheid wat Selebano kwyt geraak het sedert sy eie dan voor die kommissie, “dinge in die regering het anders gewerk”
Dis hierdie sistemiese verrotting wat die korrekte prosedures eerder die uitsondering as die reël maak. Hy verwys seker na viktimisering en uiteindelik afleggings indien hy nie saamspeel nie. Nou is dit in elk geval neusie verby en sy reputasie is flenters.

Groot menere ·

Groot menere terwyl hul geld kry en in groepe is, maar sodra verantwoordelikheid vat opkom, dan skielik was hul bang of dit is die of daai, kan nie onthou. Net soos enige ander moordenaar is hierdie ook moordenaars van gestremde mense. Die feit dat hul dit hof toe geneem het, sê ons sal doen wat ons wil en basta met jul. Hoe minder werk, hoe meer trips en rus, plaas uit.

Maggie ·

Ek se hierdie met baie respek.. dalk moet die afgetrede regter n jaar kom uithelp in in Staatsdiens Department om te besef hoe bang ons amptenare is vir mense in mags posisies wat dit misbruik…. luister na hulle regter en haal die uit wat die besluitnemings gefasiliteer het en nie die wat dit onder dwang moes uitvoer nie

snoefie ·

dis geen verskoning nie Maggie. hy is n mediese dr. hy het n eed geneem.

Dereck Le Roux ·

Wanneer almal glimlag elke einde van die maand op pad bank toe en glimlag nog steeds met skorsing met volle betaling waaroor sal hulle hulself bekommer oor ander se lewens? Gaankyk by staatshospitale en klinieke watter soort van traak my nie agtigheid daar heers onder die personeel, die voertuie wat hulle ry, die ure wat hulle werk, die staatsbyvoordele en hoeveel tyd hulleper pasient spandeer en hoeveel meer tyd hulle vat op tee tye en etenstye dan sal ons ‘n mooi prentjie kry wat daar werklik in die gesondheidsdepartement aangaan sonder om persepsies daar te stel.

Dries ·

Hoop adv. Gerrie Nel tree toe tot hierdie massamoord-saak. ALLE skuldiges moet swaar gestraf word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.