Esidimeni-tragedie: Dokter beskuldig LUR, hoof van departement

Dr. Makgabo Manamela (Foto: ANA)

ʼn Dokter wat geïmpliseer word in die mislukte oorplasing van byna 2 000 Life Esidimeni-pasiënte na NRO’s, beskuldig die voormalige LUR van gesondheid en hoof van haar departement as die mense wat haar opdrag gegee het om die pasiënte te begin skuif.

Dr. Makgabo Manamela, Gautengse direkteur van geestelike gesondheid, is geïmpliseer ná die ombudsman van gesondheid, prof. Malegapuru Makgoba, sy verdoemende verslag uitgereik het oor die meer as 140 pasiënte wat gesterf het weens die mislukte oorplasings.

Manamela is as die adjunkbestuurder van die projek aangestel om 1 700 pasiënte oor te plaas na verskillende instansies. Sommige pasiënte is in die sorg van hul families oorgelaat, terwyl ander na NRO’s en hospitale gestuur is.

Afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, wat die arbitrasieverhoor lei oor die Life Esidimeni-tragedie, wou by Manamela weet wie haar opdrag gegee het om die pasiënte na NRO’s oor te plaas.

“Dit was LUR [van gesondheid] Qedani Mahlangu en [haar departementshoof] dr. Teigo Selebano,” het sy geantwoord.

Manamela was ook verantwoordelik daarvoor om lisensies uit te reik aan die NRO’s, en volgens haar het slegs een NRO nie ʼn lisensie gehad nie.

Moseneke het Manamela ook gepols oor die gevolge nadat die lisensies aan die NRO’s uitgereik is, waarvan talle nie in staat was om na pasiënte om te sien nie, en talle pasiënte het weens verwaarlosing of verhongering gesterf.

“Hoeveel mense het by Takalani gesterf nadat jy ʼn lisensie uitgereik het?” wou Moseneke weet.

“Ek weet nie,” het Manamela gesê.

Minstens 38 pasiënte het by Takalani gesterf.

Die arbitrasieverhoor het ook gehoor dat Manamela 200 pasiënte na Takalani oorgeplaas het, alhoewel die kapasiteit slegs 40 was. Op ʼn vraag waarom sy toegelaat het dat volwassenes en kinders na dieselfde NRO oorgeplaas is, het sy gesê die volwassenes was verstandelik gestremd en word as kinders beskou, ondanks hul ouderdom.

Adv. Nonhlanhla Yina, wat die getuienis lei, het versoek dat Manamela sekere dokumente voorlees wat aandui watter NRO’s ondersoek is, en Takalani was nie op dié lys nie. Manamela het gesê sy het self Takalani besoek. “Maar mense het daar begin sterf, die gevolge van jou optrede was rampspoedig, wat het jy daaroor te sê?” Manamela het gesê sy het nie ʼn antwoord nie.

Moseneke het dit aan Manamela gestel dat sy die mag gehad het om die oorplasing van pasiënte na NRO’s, wat nie enige hulpbronne gehad het nie, te verhoed.

Manamela het bewerings van sommige NRO-eienaars wat aanvoer dat sy pasiënte op hulle afgedwing het, as “blatante leuens” afgemaak.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Piet Snot ·

Eindelik sien ons die gesig van die persoon wat direk vir die sterftes van al daai mense verantwoordelik is.

Dawie ·

Tipies in Suid Afrika as jy die geld ontvang is alles reg maar wil nie verantwoordelikheid ook aanvaar wat saam met die pos kom nie.

Dereck Le Roux ·

Piet ek dink daar is meer mense verantwoordelik wat tot orde geroep moet word tot op nasionale regeringsvlak wat skuil agter politieke
konneksies tot op die hoogste vlak vir hul beskerming.

Sussa ·

Hierdie vrou se hande is vol van die van die weerloosstes in ons samelewing. maar moenie die moontlikheid van ‘n private strafregtelike vervolging uitsluit nie…

Sussa ·

Hierdie vrou se hande is vol van die bloed van die weerloosstes in ons samelewing. maar moenie die moontlikheid van ‘n private strafregtelike vervolging uitsluit nie…

Basjan ·

Die vraag ontstaan: Wat is die uitendelike doel en motifering agter hierdie “ondersoek”? Gaan die skuldiges aan die pen ry of gaan die ondersoek net afgehandel word en niks gaan verder gebeur nie? Menige kommissies is al aangestel om sake te ondersoek, waarna ‘n mens niks weer daarvan hoor nie.

wielie ·

Hou op om tyd en geld te mors ………. gooi die skuldiges in die tronk.

Karin ·

Kla haar en al haar maatjies aan van moorde, want dit is wat dit was.

Hoe kon sy nie eens weet hoeveel mense in ‘n seker hool gesterf het nie? Want sy het nie omgegee nie.

Hoeveel kickback het sy uit alles gekry?

Moord!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.