Esidimeni-tragedie: Dokter kry nie uitstel

Makgabo Manamela. Foto: ANA.

ʼn Dokter wat verbind word met die rampspoedige oorplasing van meer as 3 000 pasiënte van Life Esidimeni se aansoek om eers later voor die alternatiewe dispuutoplossingskomitee te verskyn is van die hand gewys.

Dr. Makgabo Manamela, direkteur van geestesgesondheid, is in die gesondheidsombudsman, Malegapuru Makgabo, se verslag oor die meer as 140 pasiënte wat dood is weens oorplasings onder verdenking geplaas.

Lerato Mashilane, Manamela se regsverteenwoordiger, het gesê sy kliënt behoort uitstel te kry. “My kliënt het geen inligting om haarself voor te berei om voor die verhoor te verskyn nie. Ek weet daar is geweldig baie inligting en my kliënt moet daardeur werk. Sy gaan dalk ekstra inligting nodig hê om antwoorde te kan verskaf. My kliënt word betrek by hierdie saak, so sy benodig die dokumente om haarself te kan verdedig en gepas te kan antwoord,” het Mashilane gesê.

Hy het verder aangevoer dit sal onregverdig wees vir sy kliënt om te getuig sonder om voorsien te word van die dokumente waarmee sy haarself kan voorberei.

Die afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het verbaas gelyk oor die versoek en het vir Mashilane gevra of hy wettige argumente het wat sy versoek kan staaf.

“Waar het hy gehoor ʼn getuie is geregtig op dokumente voor hulle getuig? Jou kliënt is ʼn getuie en nie ʼn party in die saak nie,” het Moseneke gesê.

Mashilane het aangevoer sy kliënt is anders as die ander wat voor die ondersoek moet getuig.

“Sy word ook beskou as ʼn beskuldigde en strafregtelike aanklagte staar haar dalk in die gesig. Daarom sal dit regverdig wees om haarself te kan voorberei.”

Moseneke het volgehou Manamela sal vrae gevra word wat binne die strekking van haar praktyk val en dat hy nie verstaan hoekom sy toegang moet hê tot dokumente nie.

Hy het vir al die regsverteenwoordigers die kans gegee om op Manamela se versoek te reageer.

Adv. Adila Hassim, vir afdeling 27, was van mening die uitstel sal geld kos en ʼn mors van tyd wees.

Manamela is talle kere uitgewys deur staatsamptenare, NRO’s, maatskaplike werkers en families as die persoon wat teenwoordig was toe pasiënte van Esidimeni-geriewe oorgeplaas is.

ʼn Verpleegster by een van die NRO’s het Dinsdag getuig hulle is gedwing om 26 pasiënte pleks van 10 in te neem nadat Manamela aan hulle die opdrag gegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

honourable member ·

Hierdie hele spul moet ontslaan word en van moord aangekla word.

SjN ·

Shame, sy weet nie wat sy geteken het nie en weet nie wat beteken verantwoordelik nie, en sy is n dokter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.