Esidimeni: Tragedie eis ook lewe van geliefdes

Argieffoto: http://www.jameschesley.com/

Die Life Esidimeni-tragedie het nie net die lewens van 141 psigiatriese pasiënte geëis nie, maar ook van sommige van hul familielede wat al meer emosionele druk en spanning ervaar het namate die sage ontvou het.

Familielede van die slagoffers het Dinsdag in die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor getuig en vertel hoe die oorplasing van hul geliefdes na onwettige en ongeregistreerde NRO’s hulle geaffekteer het.

ʼn Emosionele Lesiba Legwabe, wie se broer, Mothofela, wat ʼn epilepsie-lyer was, in Cullinan dood is nadat hy van Life Esidimeni oorgeplaas is, het aan die arbitrasieraad gesê dat sy vrou siek geword en gesterf het as gevolg van sy broer se dood.

“My broer se dood het veroorsaak dat my vrou ook gesterf het. Sy het soos ʼn afkophoender rondgehardloop om haar swaer te probeer opspoor en is deur die regering van bakboord na stuurboord gestuur,” het hy aan adv. Tebogo Hutamo gesê, wat namens die Gauteng-regering om verskoning gevra het.

“Sy is dood van stres. Ek het my broer in Augustus 2016 begrawe en my vrou in Desember. Jou verskoning is nie vir my aanvaarbaar nie. Ek is nou ʼn wewenaar terwyl jy nog jou vrou het. Ek het my mense hierdeur verloor.”

Mothofela is by die Cullinan NRO dood nadat hy 33 jaar by Life Esidimeni deurgebring het.

Legwabe het ʼn beroep op die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Valke gedoen om “hul werk te doen” en die oortreders aan die pen te laat ry. “Ons verkies mense tot die regering om ons te lei, nie om ons dood te maak nie. My vrou sal in vrede rus as ons agter die kap van die byl kan kom. Voor sy dood is, het sy my gevra of ons daarin kon slaag om uit te vind wat met Mothofela gebeur het. Tot vandag toe weet ons nie,” het hy gesê.

“Jou verskoning en die regering wat hierdie saak hanteer is ʼn druppel in die oseaan. Kinders is in 2007 dood, maar jy en die arrogante LUR het nie geluister nie. Julle het die raad van Section 27 geïgnoreer. Ons sou nie vandag hier gewees het as julle net geluister het nie.”

Christine Nxumalo het Maandag getuig hoe haar suster, Virginia Machapela, se dood by die Precious Angels NRO in Atteridgeville, Pretoria, Machapela se dogter geaffekteer het vir wie sy na die tyd in haar huis moes inneem. Machapela se dogter, Shanice, het op die dag wat die arbitrasieverhoor begin het ineengestort en gesterf.

“Ons het haar die afgelope naweek begrawe. Sy was nie siek nie. Sy het net verkoue gehad en het medisyne daarvoor gedrink. Ek het haar gevra om saam met my na die verhoor toe te kom, maar sy het laat wakker geword en ek kon agterkom sy sou nie vandag hierheen kom nie,” het Nxumalo gesê.

Shanice het pas 21 jaar oud geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willie ·

Die EMC wat kwansuis so studeer moet aangekal word van moord! Sy en haar medepligtiges. Wat n nationale skande!

E.K. ·

Die weerloses in ons land…gestremdes, ou mense, kinders…Siek verby en dit gaan net aan en aan, elke liewe dag. Ons hoor net nie van alles.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.