Esidimeni-tragedie: Families en pasiënte sal vergoeding ontvang

esidimeni-tragedie-2017-08-10-02

V.l.n.r. is adv. Jacques Basson, dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, Helen Rust en Pieter de Jager. Rust en De Jager het familielede wat deur die Esidimeni-tragedie geraak is. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die duisende psigiatriese pasiënte en hul families wat deur die Esidimeni-tragedie geraak is, sal binnekort aan ʼn arbitrasieproses kan deelneem waardeur hulle vergoeding sal ontvang vir die verliese wat hulle gely het.

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het Donderdag tydens ʼn mediakonferensie in Centurion gesê die organisasie is nou amptelik deel van die alternatiewe geskilbeslegtingproses (ADR) oor die saak. Die proses behoort binne die eerste drie weke van Oktober plaas te vind.

“Helpende Hand beoog ook om families en gevalle wat nie in die ombudsman se verslag oor die tragedie geken is nie, maar wat skade of verliese gely het in die departement van gesondheid se besluit om pasiënte na onbevoegde nieregeringsorganisasies (NRO’s) oor te plaas, deel van die proses te maak,” het Brink gesê.

Helpende Hand het in Junie 2016 by Siyabadinga, ʼn NRO vir bejaardes en gestremdes in die Cullinan-omgewing, betrokke geraak nadat die NRO by verskeie organisasies om hulp aangeklop het. Siyabadinga het gesukkel om na psigiatriese pasiënte om te sien wat deur Gautengse departement van gesondheid in hulle sorg geplaas is. Die departement het onderneem dat die NRO onder meer gratis medikasie sou ontvang as hulle na die pasiënte sou omsien, maar daarvan het dadels gekom. Die personeel van Siyabadinga het later ook glo drie maande se salaris verbeur in ʼn poging om beter na die pasiënte om te sien.

Helpende Hand het skenkings van komberse, kos, basiese medikasie en ʼn wasmasjien aan die organisasie gemaak, maar het later ook ʼn dringende versoek om ʼn hofinterdik teen die Gautengse gesondheidsdepartement ingedien. Die interdik is egter deur die hof van die hand gewys en geen staatinstelling het opgetree om die organisasie te help voordat die Esidimeni-tragedie op die lappe gekom het nie.

Volgens Brink het die getal pasiënte wat gesterf het tydens die hele Esidimeni-krisis intussen van 94 na 110 gestyg.

Die gesondheidsombudsman het vroeër vanjaar in ʼn verdoemende verslag bevind meer as 100 psigiatriese pasiënte is dood nadat hulle van Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is. Die pasiënte is onder meer dood as gevolg van verwaarlosing en ondervoeding. Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, het bedank kort voordat die verslag bekendgestel is. Sy het vroeër gesê ʼn tekort aan geld het die oorplasing van die pasiënte genoodsaak.

Volgens adv. Jacques Basson, ʼn regskenner wat Helpende Hand bystaan in die saak, sal die formele arbitrasieproses van 2 tot 20 Oktober vanjaar plaasvind. Afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke is aangestel om toesig te hou oor die proses.

“Die doel van hierdie proses is om vergoeding te bepaal vir al die families wat geraak is deur die verskuiwing van pasiënte na NRO’s. Die families moet almal voor of teen Vrydag 25 Augustus ʼn arbitrasieooreenkoms by die departement van gesondheid onderteken. Families kan in persoon of deur ʼn regsverteenwoordiger aan die proses deelneem,” het Basson gesê.

Brink het verder gesê Helpende Hand sal graag as waghond wil optree om te verseker dat psigiatriese pasiënte in die toekoms deurentyd goeie gesondheidsorg van die staat en NRO’s ontvang.

“Ons verwelkom die staat se poging om maatreëls te tref om te verseker dat voorval soortgelyk aan die Esidimeni-krisis nie weer voorkom nie. Helpende Hand sal egter binnekort met die hulp van ons verskeie takke ook navorsing wil doen om te bepaal wat die werklike stand van geestesgesondheidsorg in die land is. So wil ons verseker dat daar werklike gestand gedoen word aan die Xhosa-woord ‘esidimeni’, wat waardigheid beteken,” het Brink bygevoeg.

  • Families van pasiënte wat skade gely het deur die Esidimeni-tragedie en hulp met die arbitrasieproses verlang kan ʼn e-pos stuur na Isabel Faurie by [email protected] of Helpende Hand skakel vir meer inligting by 012 644 4390.
  • Luister gerus ook na die onderhoud bo-aan hierdie berig om uit te vind hoe Helen Rust en Pieter de Jager, familielede van psigiatriese pasiënte, deur die Esidimeni-tragedie, geraak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.