Esidimeni-tragedie: Nóg ʼn hoë bedank

Dr. Makgabo Manamela (Foto: ANA)

Skaars twee dae nadat dr. Barney Tiego Selebano, geskorste hoof van die Gautengse departement van gesondheid, uit sy amp bedank het, het dr. Makgabo Manamela, die geskorste direkteur van geestesgesondheid, in sy voetspore gevolg.

Selebano en Manamela was deel van die beamptes wat in 2017 Life Esidimeni- psigiatriese pasiënte na ongelisensieerde NRO’s geskuif het waarna 143 van die pasiënte gesterf het. Die meeste pasiënte het hoofsaaklik aan hongersnood en erge verwaarlosing gesterf.

Dit het tydens die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor aan die lig gekom Manamela was tydens die Life Esidimeni-projek daarvoor verantwoordelik om lisensies aan NRO’s uit te reik. Volgens haar het slegs een NRO nie ʼn lisensie gehad nie. ʼn Ondersoek het egter onthul dat verskeie NRO’s nie lisensies gehad het nie.

Van haar ander verpligtinge was om die fasiliteite te besoek en te bepaal of die NRO gepas was om na psigiatriese pasiënte om te sien. Sy het slegs vier van die 27 NRO’s besoek.

Sy het gesê sy aanvaar dat die families kwaad is vir haar omdat sy lisensies geteken het vir NRO’s waar hul geliefdes dood is. Sy stem egter nie saam dat mense nie sou gesterf het nie as sy nié die lisensies uitgereik het nie.

Manamela het die gehoor geskok toe sy gesê het sy het eers terwyl sy getuig het, besef dat die uitreik van die lisensies verkeerd was, want volgens haar was alles binne die raamwerk van die wet gedoen.

Sy het tydens haar vier dae in die getuiebank die blaam van die krisis op Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid, en Selebano geplaas en alles teen haar ontken.

Selebano het Maandag sy bedanking ingedien te midde van ʼn reeks dissiplinêre aanklagte teen hom as die provinsiale hoof van die departement van gesondheid.

Selebano, ʼn mediese dokter, het in trane die families om verskoning gevra toe hy sy getuienis tydens die arbitrasieverhoor in Desember afgehandel het.

Mahlangu het bedank toe die skandaal aan die lig gekom het. Sy sal na verwagting tussen 22 en 26 Januarie getuig.

Die VF Plus het in reaksie op die bedankings gesê dit is ʼn bewys dat daar nou van die sinkende skip afgespring word om verdere vervolging te probeer vermy.

Philip van Staden, VF Plus-LPW in die Gautengse wetgewer, het dit duidelik gestel dat Selebano nie vervolging gaan vryspring nie. “Manamela moet haar ook staal vir verdere vervolging. Die VF Plus sal toesien dat almal wat ʼn aandeel in die Esidimeni-tragedie gehad het, vervolg word,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Antjie ·

Strafregtelik én sivielregtelik kan mens nie “vervolging” vryspring deur te bedank nie. Ek dink buitendien die planne vir interne verhoor was effe voorbarig as dit nie ʼn ondersoek was om ook die NVG te help nie. Privaat persone se eiendom kan ook bevries word om die staatsdiens teen die eise te beskerm wat hulle tans lamlê. Dis net wanneer mense niks doen dat sulkes kan wegkom.

SjN ·

Bewys dat daar nie verantwoordelik opgetree was nie, dankie VF vir jul optrede.

Theresa B ·

Bedank en stap by ‘n ander werksplek in met nog ‘n groter salaris en gaan aan asof niks fout is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.