Esidimeni-tragedie: ‘Ons is jammer’

Levy Mosenogi, die hoofdirekteur van beplanning by die Gautengse departement van gesondheid. Foto: ANA

Die trane het Woensdag gevloei toe die hoofdirekteur van beplanning by die Gautengse departement van gesondheid om verskoning gevra het oor die oorplasing van Esidimeni-pasiënte na NRO’s wat tot die dood van 118 psigiatriese pasiënte gelei het.

Levy Mosenogi het aan die arbitrasievoorsitter, adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, gesê hy probeer sy bes, maar daar lê ʼn massiewe taak voor hom. “Dit was moeilik vir my. Ek wil jammer sê aan almal wat geraak is. Ek aanvaar ek het mense seergemaak. Ek het met die families gepraat, maar hulle het op my geskree en ons kon mekaar nie vind nie. Ek vra om verskoning namens myself, my kollegas en die departement van gesondheid,” het hy gesê.

Families van die oorledenes het hardop gesnik terwyl Mosenogi gepraat het. “Ek weet julle moet steeds genees. Ek moet self ook nog genees.”

ʼn Emosionele Mosenogi het ʼn beroep op die ANC gedoen om te verseker dat gekwalifiseerde en ervare gesondheidskenners in plek is om die departement van gesondheid te bedryf, ʼn departement wat hy as “kompleks” beskryf het.

“As senior staatsbeamptes moet ons die waarheid praat. Kan administrateurs, met ander woorde tegnokrate, asseblief toegelaat word om hul werk te doen en politici die toesigwerk doen,” het hy gesê.

Mosenogi het vroeër gesê hoewel sy adjunkprojekbestuurder geskors is, is daar geen dissiplinêre prosesse teen hom ingestel nie. Hy het ʼn span van 20 mense vir Esidimeni gelei en beklee steeds die pos in die provinsiale departement.

Die gesondheidsombudsman het vroeër vanjaar in ʼn verdoemende verslag bevind die 118 psigiatriese pasiënte is dood nadat hulle vanaf Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is. Die pasiënte is onder meer dood aan verwaarlosing en ondervoeding.

Qedani Mahlangu, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, het bedank kort voordat die verslag bekendgestel is. Sy het vroeër gesê ʼn tekort aan geld het die oorplasing van die pasiënte genoodsaak. Die hoof van die departement, Barney Selebano, is geskors.

Moseneke het Woensdag aan Mosenogi gevra wat geword het van die ander beamptes in sy span en die mense wat daaraan gewerk het om die pasiënte oor te plaas. “Dissiplinêre prosesse is teen die meeste van die spanlede ingestel. Die direkteur van die Tshwane-gebied is na Ekurhuleni oorgeplaas. Hy het appèl aangeteken en gewen. Geen ander stappe is teen die ander beamptes gedoen sover ek weet nie.”

Hy het gesê daar was geen ontlontingsessie of assessering van wat gebeur het nie. “Nadat die HOD geskors is en die LUR bedank het, was die moraal baie laag. Nuwe leierskap het ingekom, maar die werksverhoudinge was nie goed nie… Ek dink iemand moes ons almal ten minste bymekaargekry het en geassesseer het wat met die Esidimeni-projek gebeur het, maar dit het nie gebeur nie. Ons het nie met mekaar gepraat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Dries ·

Dit is massamoord ,kla hierdie regering aan by die wereldhof .

Org ·

Stem dit is massa moord, as die Duitsers tot vandag toe nog aangekla word vir moord op die Jode, hkm kan hulle nie ook aangekla en vervolg word nie.

Domvraag ·

Mosenego het ook seer. Is iemand van sy familie dan ook dood?? Om nou omverskoning te vra is onaanvaarbaar. As jy nie instaat is om die werk te kan doen nie dan hoort jy nie in die pos nie.
Weer n bewys dat onbevoegde aanstellings nie werk nie. Hulle almal moet krimineel aangekla word van moord..

Boet Fasie ·

Nou wil Levy Mosenogi huil en se hy is jammer, trane en jammer gaan nie weer die mense lewend maak nie -Dit is MOORD

Piet Pompies ·

Dit gaan oor bevoegtheid om die werk te kan doen waarvoor jy aangestel is. In die geval wil dit voorkom of verkeerde besluite geneem is ten koste van mense se lewens. Verantwoordelikheid gaan saam met jou besluite en as jy nie jou pligte kan nakom moet jy eenvoudig die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Om verskoning te maak vir jou optrede is in orde, maar die optrede kan nie sonder straf verbygaan.

Onaanvaarbaar ·

Ja hoor jammer maak NIKS reg nie. Julle het geweet wat julle doen maar gestremde mense is mos nie belangrik nie, hulle kan mos nie kla nie, hulle lewens ‘matter’ niks. Die ERGSTE is is dat hulle van VERLWAARLOSING dood is … hoe leef julle met julleself saam? Wie het die toestemming gegee om mense na ONGEREGISTREERDE instansies (soms sommer huise) oor te plaas om ‘n paar sent te spaar? SHAME ON YOU!!!Eers wanneer mense doodgaan sien mens hoe ONBEVOEGD mense soos julle in julle poste is (wat julle nie verdien nie) . SKANDELIK!

Onaanvaarbaar ·

Daar is geen verskoning hiervoor nie, dit beteken nie net hulle het EEN fout gemaak nie, dit beteken ook dat hulle nie OPGEVOLG het om te kyk hoe dit met die pasiente gaan nie. Dit skreeu ten hemele 118 pasiente is dood maar julle wil dit met ‘n bedanking en ‘n jammer regmaak? Dit was mense se broers/susters/ooms/tannies/ma’s en pa’s wie se dood julle direk aandadig aan is.

Sjo! ·

Een mens sterf en jy kan se ok ondersoek die voorval om seker te maak daar was nie nalatigheid betrokke maar genade 118??? Wie is in beheer van sake, voel hul so min vir mense lewens of is die n geval van onbevoegheid bemagtiging op sy ergste??? Nee verskonings sal nie doen die hele lot moet tronk toe!

C+T ·

Net ‘n vraag. Is die voorlegging waarin hierdie onsinnige skuif voorgestel en goedgekeur is beskikbaar vir die publiek?Sal help om die getuienis wat nou gelewer word te verifieer. Die beamptes aanvaar elke maand hulle salarisse – so hulle moet verantwoordelikheid aanvaar vir hulle dade. Hulle moet aangekla en ontslaan word. Geen verplasings en verlagings in range nie.

Lientjie ·

Hierdie mense se woordeboek moet asb vervang word met ‘n behoorlike volledige een, want hulle woorde boek het net 1 word in “SORRY”

Justice ·

Lientjie hier op die plaas is die woord al vervang met “eish” wat groot skade voorspel.

maplotter ·

Hierdie onkundige mense is vooraf deur kundige mense gewaarsku oor presies wat die gevolge sal wees maar hul absolute arrogansie het hul blind en doof gemaak. Hul koppe moet waai. Ongelukkig is die regering vervuil van die onkundige amptenarre.

henk ·

Al waaroor die man jammer en spyt is, is die feit dat hy nou in die moeilikheid is. Verder voel hy NIKS!

SKOKKEND ·

Moet van massamoord aangekla word. Dan wou hulle nog lieg ook oor hoeveel mense regtig dood is. Ek wonder self of dit net 118 is. Daai mense kon nie vir hulle self opstaan en kla nie want hulle kan nie die verskil tussen reg en verkeerd onderskei nie. Hoeveel familie lede het geloop en soek na hulle geliefdes en rondgestuur van die een instansie na die volgende instansie toe nie, net om later te hoor hy/sy is in een of ander mortuary hulle moet maar gaan kyk of die persoon wat hulle na soek nie dalk daar is. Dis absoluut on aanvaarbaar wat gebeur het. Trane, wat se trane krokedil trane miskien??????

Uvonka ·

You picked a fine time to apologize!! Noudat 118 mense dood is, wat gaan dit help? As hulle bevoeg was in hulle poste, kon die onnodige afsterwes verhoed word. Sorry gaan niks reg maak nie. Hy sal seker ook ontslaan word met ‘n vet tjek in die sak!

Boet Fasie ·

Dit is wat gebeur as jy mense in poste aanstel terwille van kleur en regstellende aksie. Persone wat moontlik aan die minimum kwalifikasies en vereistes voldoen – ‘n RAMP wat 118 mense se lewens kos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.