Esidimeni-verhoor: Getuie vertel van sussie se verkragting

verwaarloosde-hospitaal-bed

Foto: Pixabay.com

ʼn Vrou, wie se suster een van die pasiënte was wat van Life Esidimeni na verskeie ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is, het Woensdag aan die arbitrasieverhoor gesê haar verstandelik gestremde suster is verskeie kere by Takalani-sentrum in Soweto verkrag.

Die getuie, wie se naam weerhou word om die identiteit van die verkragtingslagoffer te beskerm, bevraagteken bewerings dat Takalani in staat was om “gehaltesorg” aan pasiënte te bied.

“My suster is in 2013 verkrag. Sy het MIV-negatief getoets ná die verkragting, maar nou is sy MIV-positief en ons weet nie hoe dit gebeur het nie,” het die vrou aan die verhoor, onder leiding van afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, gesê.

Minstens 143 pasiënte het ná die oorplasing gesterf – meeste van verwaarlosing en verhongering. Altesaam 59 pasiënte word nog vermis.

Die getuie het gesê haar familie het eers van die verkragting te hore gekom nadat sy drie dae lank in die bed gebly het. “Ek is ontbied en toe ek daar aankom, het my sussie in haar kamer lê en slaap. Sy het nie gebad nie en het sleg geruik. Sy het ook ʼn septiese wond op haar privaatdele opgedoen.”

Sy het ʼn verduideliking geëis van die NRO, maar het nie ʼn bevredigende antwoord gekry nie. “Ons sussie het gesê dit was een van die pasiënte, maar die NRO het gesê die persoon is nederig, en my sussie het hom dalk uitgelok.”

Die saak is nie verder gevoer nie en niemand het dit by die polisie aangemeld nie.

Die vrou het gesê dit is ook nie die eerste keer dat haar sussie verkrag is nie. Sy het gesê haar sussie is by dieselfde sentrum verkrag, dié keer na bewering deur ʼn werknemer, en weer is niks gedoen nie.

Moseneke wou weet of haar familie weet hoe sy met MIV besmet geraak het. “Ons is nog steeds nie seker nie, maar miskien het sy besmet geraak toe sy vir ʼn jaar lank ontslaan is. Sy was altyd op straat en het eers laat in die aand teruggekom huis toe. Dis moontlik dat mense haar uitgebuit het,” het sy gesê.

Die getuie was deel van die groep mense wat betoog het teen die sluiting van Life Esidimeni, maar daar het niks van hul pleidooi gekom nie. Sy het gesê die groep het ook ʼn paar keer met die Gautengse departement van gesondheid vergader. Hulle is glo “belowe” dat die NRO’s ondersoek sal word en dat die pasiënte slegs oorgeplaas sal word na sentrums waar hulle die beste sorg sal ontvang. “Hulle het nooit vir ons geluister nie. Alles wat belowe is, het nooit gebeur nie.”

Haar sussie is later na Anani oorgeplaas, waar daar geen veiligheidswagte was nie, en die familie was deurgaans besorg oor haar veiligheid. Haar sussie het baie gewig verloor en lyk gehawend, het sy gesê. “Toe ons by Anani kom, was haar klere nie daar nie. Sy het ʼn vullissak gehad met klere wat nie hare was nie. Dit was vuil en onwelriekend.”

Haar sussie is daarna na Waverley-gesondheidsorgsentrum oorgeplaas waar sy goed versorg word.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Alles wat belowe is het nooit gebeur nie!! Dis mos die ANC se “trade mark”!! Hulle het nog nie eers beloftes nagekom wat hulle meer as 23 jaar gelede gemaak het nie!! Moenie wag vir wonderwerke nie!! Sodra hulle sakke gevul is, bedank hulle en kry STEEDS ‘n goue handdruk!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.