Eskom: Al hoe moeiliker om dié skip om te draai

Argieffoto: GCIS

Korrupsie, ondoeltreffendheid en ʼn gebrek aan instandhouding.

Dít is volgens die energiekenner Ted Blom die grootste redes waarom Suid-Afrikaners die afgelope paar weke wéér onder die gewraakte beurtkragstelsel deurgeloop het.

Korrupsie knaag

Blom sê egter die probleme by Eskom is allermins nuut en hy meen dié drie sleutelprobleme moet so gou moontlik by die beleërde kragvoorsiener uitgestryk word.

“As Eskom korrupsie met steenkoolaankope uitsorteer, kan dit hom tussen R10 miljard en R30 miljard bespaar. As hy na sy personeelgetalle en oorbetaalde werkers kyk, kan hy nóg R30 miljard per jaar bespaar. En as hy sy hernieubare kragkontrakte regruk, kan hy vanjaar sowat R50 miljard bespaar,” sê Blom.

“As Eskom dié drie afdelings opruim, kan hy meer as R100 miljard per jaar bespaar, wat dan geld beskikbaar sal stel om sy skuld van amper R500 miljard te help afbetaal.”

Ted Blom. Foto: Facebook

Blom sê die vlakke van korrupsie by Eskom is bykans verbysterend en hy raam die koste van ondoeltreffendheid en korrupsie oor die afgelope dekade op nagenoeg R1,4 duisend miljard. Benewens dié bedrag wat verlore gegaan het, gaan Eskom sowat R1,7 duisend miljard benodig om die stelsel weer reg te ruk.

Hy sê sou dít gedoen word, kan die kragtarief bykans dadelik gehalveer word. Dit sou weer beteken drie miljoen werksgeleenthede wat die afgelope tien jaar verlore gegaan het omdat maatskappye hulle deure weens hoë kragtariewe moes sluit, kan weer herwin word.

En terwyl Suid-Afrikaners in die donker sit, is daar oënskynlik geen haas om die kragsentrales Kusile en Medupi reg te ruk nie.

Blom sê terwyl die aanvanklike bedrag vir Medupi nagenoeg R33 miljard was, staan dit nou op sowat R170 miljard. Die kragsentrale is steeds nie voltooi nie en Blom voorspel dat dit eers teen 2026 behoorlik aanlyn gaan kom.

Kusile het dieselfde probleem. Dit gaan belastingbetalers eindelik sowat R300 miljard kos en ook dié kragsentrale gaan waarskynlik eers teen 2026 afgehandel wees.

Die Ingula-pompopgaarskema is minstens afgehandel, sê Blom, maar die koste daarvan het van ʼn geraamde R9 miljard na R40 miljard opgeskiet.

“Daar is geen politieke wil om korrupsie uit te sorteer nie,” sê Blom, wat beteken dit word al hoe moeiliker om dié skip om te draai.

Doen omvattende vaardigheidsbepaling

dr-dirk-hermann-blf-konferensie-2019-02-14

Dr. Dirk Hermann is die bestuurhoof van die vakbond Solidariteit. Foto: Reint Dykema.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die aanstelling van André de Ruyter as uitvoerende hoof by Eskom is ʼn gulde geleentheid om ingrypende verandering by die kragvoorsiener te bewerkstellig. Hy sê daar sal egter gesien moet word of politici De Ruyter die vryheid gaan gee om moeilike besluite te neem. “Hoeveel mag gaan daar aan hom gegee word? Gaan hy toegelaat word om vry en radikaal op te tree?”

Hermann sê De Ruyter gaan ook die rol van sakereddingspraktisyn by Eskom moet vervul. “Die rede hoekom daar groot ingryping by byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) kan wees, is omdat die sakereddingspraktisyn omvattende magte het om in te gryp.”

Hy sê Solidariteit is bekommerd dat politici De Ruyter nie gaan toelaat om sy werk behoorlik te doen nie.

Hermann sê ook Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, doen in dié stadium alles moontlik om die ligte te help aanhou.

“Een van die probleme wat daar tans is, is dat mense in spesifieke gebeurtenisse soek na die redes vir beurtkrag. Dit is voorvalle soos sabotasie, nat steenkool of ʼn stukkende vervoerband. Hulle sê dan as dié probleme opgelos word, is die groter probleem ook uitgesorteer.

“Die probleem by Eskom is egter sistemies en kan nie op enkele gebeurtenisse gepak word nie. Dit help nie jy soek net na operasionele redes en los nie die sistemiese probleme op nie,” waarsku Hermann.

Hy sê daar moet ook dringend ʼn omvattende vaardigheidsbepaling by Eskom gedoen word. Op dié manier kan daar vasgestel word waar te veel werkers is en waar vaardigheidstekorte is. Hermann sê daar is byvoorbeeld te min ingenieurs en ʼn tekort aan ambagslui, terwyl daar ʼn opgeblase bestuurstruktuur is wat die kragvoorsiener ongelooflik baie geld kos.

“Daar moet begin word met behoorlike belyning. Ons dink daar is ʼn vaardigheidsmispassing by Eskom,” sê Hermann.

Eskom se redes

Eskom het die afgelope paar jaar die skuld vir sy onvermoë om betroubaar krag op te wek op ʼn legio verskillende faktore gepak, maar ʼn hele paar ou verskonings word telkemale opgedis wanneer daar aan Suid-Afrikaners verduidelik moet word waarom daar wéér ʼn ronde beurtkrag op hulle afgedwing word.

Dié redes sluit in: voortslepende probleme by Kusile en Medupi; nat steenkool; ʼn te hoë vraag na elektrisiteit; verminderde invoere; winterstoestande; koue; stakende werkers en die groot gunsteling, onbeplande instandhouding.

Amptelike opposisie

Gwede Mantashe. Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Die DA het intussen ook ingrypings voorgelê wat die amptelike opposisie meen dadelik ʼn ommeswaai by Eskom kan veroorsaak en van bogenoemde probleme kan help oplos.

Dit sluit in die verdeling van Eskom in twee entiteite, naamlik opwekking en verskaffing – en die DA sê die twee afdelings moet onafhanklik van mekaar bedryf word.

Die DA stel ook voor dat toestemming dadelik aan onafhanklike kragvoorsieners gegee moet word om meer krag aan die netwerk te verskaf. Die party sê as die minister van energie, Gwede Mantashe, nie dadelik werk daarvan maak nie, moet hy summier in die pad gesteek word.

Die DA meen Eskom moet toegelaat word om steenkool by enige verskaffer te koop, nie net dié verskaffers op ʼn beperkte lys nie; die kragvoorsiener moet toegelaat word om diesel belastingvry en teen kosprys by PetroSA te koop; kragverbruikers moet almal voorafbetaalde meters gebruik sodat betaling tydig kan geskied; en Eskom-werkers moet tot noodsaaklike diens verklaar word en verbied word om te staak.

Kersfees by elektriese lig

Suid-Afrikaners het vandeesmaand vir die eerste keer die ongekende fase 6-beurtkrag beleef, maar pres. Cyril Ramaphosa het intussen beloof dat beurtkrag Dinsdag (voorlopig) iets van die verlede gaan wees en dat Suid-Afrikaners minstens nie dié Kersdag in die donker gaan deurbring nie.

Die meeste groot nywerhede sluit binne die volgende paar dae vir die Kersvakansie wat druk op die stelsel behoort te verlig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

jongste oudste gewildste
André André

En vir die mense wat glo nat steenkool brand maklik of beter as droë steenkool: Nat steenkool is inderdaad ‘n kollosale probleem. “Wet coal doesn’t burn. It clogs up crushing plants, breaks conveyor belts and turns to mud-like sludge”, said Tutuka power station manager Ryno Lacock. Tutuka will swallow 10,6-million tons of coal this year and produce about 3-million tons of ash. Half of this coal comes from the New Denmark Colliery run by Anglo Coal, next door to the power station. This coal is loaded into a massive silo which holds 12 000 tons of coal. It’s crushed, then… Lees meer »

Sarel

Maak van bo af skoon, te veel bestuurders, te veel politieke aanstellings, te min kennis.

Koos

Eskom net soos Saa top struktuur oorlaai met groot salarise en het nie n benul wat hulle doen skrik wakker voor dit te laat is

Frans C

Dit behoort na 25 jaar duideli te wees dat suksesvolle sg Bevrydingbewegings soos die ANC nie noodwendig suksesvolle regerings betekeen nie. Omdat die ANC party eenheid bo Suid Afriika stel is die kanse mi skraal dat Eskom werkliik reggeruk sal word.

P Heigers

Soos met alles in ons land lê die probleem ANC by korrupsie
Dit veel makliker vir die ANC om die korrupsie in die land met sy beleid van “camouflage and protection methods” te verskans as om die probleem op te los