Eskom, ANC moet pa staan vir kragkrisis

(Argieffoto: Reint Dykema)

Dit is “oneerlik” van Eskom om die land se huidige kragkrisis aan die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne toe te skryf.

“Ons beleef al die afgelope 14 jaar ʼn opwekkingskrisis en die onvermydelike waarheid is dat die ANC eiehandig vir die debakel verantwoordelik is,” sê Ghaleb Cachalia, die DA se skaduminister van openbare ondernemings.

Eskom het dié week tydens ʼn mediakonferensie gesê dat hy nie onbepaald gasturbines as noodkragopwekking kan gebruik nie, aangesien die oorlog tussen Rusland en Okeraïne die prys en beskikbaarheid van brandstof beïnvloed.

Cachalia skryf die land se jongste ronde beurtkrag – én die kommerwekkende moontlikheid van fase 6-beurtkrag – toe aan Eskom se onvermoë om sy dieselgebruik en instandhouding van sy steenkoolkragsentrales te beplan, asook sy onvermoë om die elektrisiteitsaanbod en -vraag te bestuur.

Eskom het vandeesweek gewaarsku dat beurtkrag na fase 6 of hoër verhoog kan word, sou sy diesel- en damvlakke uitgeput word.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP van minerale hulpbronne en energie, sê die feit dat Eskom se opwekkingseenhede oud is en soms onverwags onklaar raak, is al ou nuus.

“Oor die afgelope weke het die onvoorspelbare uitwerking van die Oos-Europese oorlog deel van die vergelyking geword. Ruoliepryse het geweldig gestyg, met die gevolglik noodwendige styging in dieselpryse. Dié toestand kan nog maande voortduur, of vrede kan dalk binne dae gesluit word – die onvoorspelbaarheid vererger die krisis.

“Die belang van dieselpryse vir elektrisiteitsvoorsiening is dat oopsiklus-dieselkragopwekkers die enigste tegnologie is wat op kort kennisgewing aangeskakel kan word om die uitwerking van piekverbruik of onvoorsiene breekskade te verlig.

Cachalia én Boshoff meen die gebruik van oopsiklusgasturbines is onbekostigbaar en onvolhoubaar. Maroela Media het vroeër berig die hardloop van só ʼn gasturbine kos sowat R700 000 per eenheid per uur, aangesien dit 14 liter diesel per sekonde gebruik.

Cachalia is oortuig die ANC het tot dusver opgetree as ʼn bemiddelaar vir Eskom se voortgesette gebruik van krisis-elektrisiteitsopwekking en dít teen groot en onvolhoubare koste.

“Kragverbruikers wat die vernietigende uitwerking van hierdie krisis wil afweer, sal hul eie planne moet maak,” sê Boshoff op sy beurt. “Die prys van sonpanele en rugsteunbatterye moet nie meer met munisipale kragtariewe vergelyk word nie, maar met die skade van langdurige en gereelde kragonderbrekings.

“Wat tans gebeur, is dat internasionale skommelings die staat se leemtes vermenigvuldig. Burgers is dus genoodsaak om hulself daarteen te beskerm, ongeag of hulle dink dat dit hul verantwoordelikheid behoort te wees of nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Swerwer ·

Dit is omdat die ANC Kader gedink het geld word van bome gepluk en nie geleer is waar dit vandaan kom nie. Tweedens geen idee wat dit beteken om te werk vir jou geld nie, en dit wat jy verdien jou familie moet onderhou, jou kinders opvoeding gee. Ons ouers / voorgeslagte het geswoeg en sweet
om ‘n beter lewe aan ander te bied, dit is nie mahala gekry nie. Ons voorgeslagte het die land ontwikkel met harde hande arbeid, niks het in hul skote geval en verniet aan hulle gegee nie. Net soos ons nog swoeg en sweet om ons kinders opvoeding te gee en alles moet betaal. Huise, motors en kos val nie uit die lug nie en ons Regering voor die huidige een wat aan bewind is, het nie vir ons verniet laat skool gaan nie, ons het nie verniet huise ontvang nie en ons het nie verniet Universiteit toe gegaan nie.

Di ·

100% korrek – Dis van al die “mahala” stories dat die land bankrot en totaal en al vernietig is. As jy nie vir iets werk nie, is dit maklik om als net af te brand of te vernietig

Marius ·

Hoe gouer ons van die kragnetwerk kan afkom deur van sonenergie, gas en wind gebruik te maak hoe beter. Van hier af gaan die bankrot eskom nog verder agteruitgaan en is ver verby die omdraaipunt.

Jr ·

En daar’s nog mense daar buite wat dink de Ruyter is n saving angel. Erge loadshedding onder hom as met enige iemand anders.

Retha ·

Jr, vertel my hoe maak jy gebreekte masjienerie in bestek van jaar of twee reg. In 25 jaar is daar geen onderhoud aangegaan op die Turbinus nie, nou moet André dit in die kort tydjie regmaak. Gaan stel jou self tot beskikking en help vinnig met al die herstel werk. Lyk asof jy al die antwoorde het

Jr ·

Ja en lyk my jy het vir hom n valentyns kaart gestuur. Ek sal n krag stasie van lyn afvat een vir een, dit heeltemal refurbish en dan maintaince doen met bevoegte mense. Dan sal ek substasies tackle een vir een in dorpe. Van lyn af haal en hernuut een vir een. So hy moet net sit en mooi lyk en nie doen wat hy by die onderhoud for sure gesê hy kan doen. Dis HOEKOM HY DIE WERK GEKRY. Stuur vir hom weer n valyntyns kaart volgende jaar. Hy is USELESS. WATSE GEDEELTE VERSTAAN JY NIE

quartus ·

Ek weet nie of dit korrek is nie maar ek hoor de Ruyter is in die VSA op die oomblik. Dit ka dalk verklaar waarom oms nou skielik in hierdie gemors beland het

Kobus ·

Hy is daar want hy soek beleggers want onse ANC is net behep met SAL.

Jr ·

Jy moet vra of jy werk by die anc kantore kan kry om verskoonings vir hulle te uitdink

JL ·

Absoluut. Die “gesiglose magte” sal ook alles doen om Mnr. De Ruiter te diskrediteer.

Jacobus ·

Jy is 100% korrek, hy en Jan Oberholzer is daar geplaas deur die ANC regering om al die skuld vir Escom se val te vat. Want hulle is wit!!!
Ek moes dit al self hoor BLAME IT ON THE WHITE as iets verkeerd loop.

Pietertjie ·

Is dit nie Covid se skuld ook nie? Of die sikloon oor Nambabwe?

Cherokee ·

Miskien moet Eskom maar by Makro, Game Stores of elders, ‘n kragopwekker gaan koop.

annie ·

En as Eskom bly ontken dat hy die pa van die probleemkind is; ons nou aan die ontvangkant is en onderhoud moet betaal. Vat hom hof toe. Waar is Gerrie deesdae? Ons weet waar die grysperd is: Om nog betaal uit ons sakke vir Eskom-skuld te gaan organiseer.

Waarnemer ·

Baas Jan se die opwekkers gee in as gevolg van………ouderdom en ongekwalifiseerde werkers…..twak man…dit is as gevolg van die ANC wat alles skielik op een slag oppak….as gevolg van die feit dat Rama sy eie krag reus in werking wil stel dat alles by Eskom verkeerd loop…sabotasie op sabotasie …as gevolg van…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.