Eskom-beampte bevestig twyfelagtige Huarong-transaksie

Sincedile Ebenezer Shweni, Eskom se tesourie-beampte (Foto: Dimpho Maja/African News Agency/ANA)

Sincedile Ebenezer Shweni het Maandag Andre Pillay se getuienis bevestig hoe uitvoerende beamptes van Eskom ʼn leningstransaksie van R25 miljard van die Chinese Huarong-batebestuursmaatskappy bekom het, ondanks interne waarskuwings.

Shweni se getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping volg ná Pillay, hoof van tesourie by Eskom, se getuienis verlede week. Hy het getuig hoe die voormalige uitvoerende hoof, Seun Maritz, voormalige finansiële hoof Anoj Singh en die raad van Eskom “Russiese roulette” met die land se ekonomie gespeel het tydens die Huarong-transaksie en gesê dié ooreenkoms het byna die land se ekonomie in duie laat stort. Shweni is die korporatiewe spesialis oor finansiering by Eskom se tesourie-afdeling.

Hy het gesê die transaksie is nie aan die bates- en aanspreeklikheidskomitee (Alco) voorgelê nie. Die Alco ondersoek en keur prosesse goed by Eskom en Singh was in daardie stadium die voorsitter van die komitee.

Die getuienisleier wou by Shweni weet: “Het dit ʼn negatiewe impak gehad op die hantering van die aanbod, gegewe dat dit nie aan Alco voorgelê is nie?”

Shweni het dit beaam. “Alco het baie streng maatreëls om prosesse te verifieer. Hierdie aanbod was eerstens nuut en dit beteken die bepalings en voorwaardes was nie eerbaar nie. Daar was verskeie prosesse waaraan hierdie transaksie nie voldoen het nie.”

Shweni het gesê hy moes die transaksie se bepalings hanteer en daar was interne besware oor die fasiliteitsfooie – insluitend die prys, toewydingsfooi, kansellasiefooi en ander fooie wat in die ooreenkoms uiteengesit is. Ná die bepalingsooreenkoms onderteken is, is ʼn reis na China gereël. Shweni was nie deel van die afvaardiging na China nie. Singh, Pillay, Poobie Govender en Prish Govender het die reis onderneem waarvoor Eskom betaal het.

Eskom het in 2015 die ooreenkoms met Huarong aangegaan. Die Chinese entiteit het die kragvoorsiener genader met ʼn aanbod om $1,5 miljard (ongeveer R25 miljard) aan Eskom te leen om kragstasies te bou of te restoureer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George in Bloem ·

Die klomp ANC narre staan in elkgeval almal om die “cookie jar” met hulle hande in hom. Hoeveel en watter kragstasies is al met daai 25 miljard gebou? Al hierdie prys heffing is nie om Eskom te “red” of “kragvoorsiening te verseker” nie maar eerder om ak hierdie roekelose lenings se rentes te probeer bybring. Dis maar wat gebeur as onbevoegde korrupte mense in posisies aangestel word waarvoor hulle nie eers naastenby gekwalifiseer is nie. Daar le donker dae voor vir hierdie land,ons ekonomie en ons mense as gevolg van hierdie spul.

John ·

Interessant dat ‘ander’ mense eintlik die vlieè in die salf is sodra misdrywe gepleeg word, nou weer by Eskom, veral ‘n Afrikaner… Die Afrokane is in beheer maar hul hande is afgekap en nou is hulle voor in die koor by die kommissie met die waarheid…. die volle waarheid…. en weet ook presies wie die culprits is… presies.

Skroef ·

Sean marits maak jou maar rwg vir n oranje pakkie. Die res gaan skotvry weg kom.

wraggies ·

Kan nie dink dat Maritz so onnosel was nie, hopelik sal hy getuig oor die omstandighede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.