Eskom-beampte moes Tegeta ‘binne 3 ure’ betaal

Adjunkhoofregter Raymond “Ray” Zondo (Foto: Karen Sandison/African News Agency/ANA)

Snehal Nagar, hoof van finansies by Eskom se primêre energie-afdeling, het Dinsdag getuig hoe hy opdrag gegee is om binne drie ure R659 miljoen as ʼn voorafbetaling vir steenkool aan die Guptas se Tegeta Resources oor te betaal, sonder om Eskom se prosesse te volg.

Nagar, ʼn geoktrooieerde rekenmeester, het aan die kommissie van ondersoek na staatskaping gesê die versoek vir die Tegeta-betaling van die voormalige finansiële hoof Anoj Singh, het ten doel gehad om die stelsel “om die bos te lei”, aangesien die Eskom-stelsel vereis dat goedere, in hierdie geval steenkool, eers ontvang moet word voor enige betaling gedoen word.

Volgens dokumente voor die kommissie het die Eskom-tenderraad op 11 April 2016 om 21:00 vergader om die voorafbetaling aan Tegeta goed te keur. Ayanda Nteta het die pro-forma faktuur van R659 miljoen op 12 April per e-pos aan Nagar gestuur om die betaling te doen. Nagar het gesê hy het op dieselfde dag nog ʼn oproep van Maya Naidoo ontvang, wat in Singh se kantoor gewerk het, om die betaling aan Tegeta binne twee tot drie ure te doen. Sy het nie vir hom gesê waarvoor die betaling is nie. Hy was nie in daardie stadium daarvan bewus dat die tenderraad ingestem het om Tegeta te betaal, of dat die R659 miljoen ʼn voorafbetaling was nie.

“Ek het haar versoek om die opdrag formeel aan te stuur met stawende dokumente, sodat ander afdelings, soos die Eskom-tesourie, ook ingelig kan word. Daar was geen gesprek oor voorafbetalings tydens daardie telefoongesprek nie. Dit was net ‘jy moet vandag ʼn betaling doen’. Die besonderhede van die transaksie het eers later aan die lig gekom.”

Die Tegeta-raad het die volgende dag, op 13 April, vergader om die transaksie te finaliseer, dieselfde dag wat die betaling aan die Gupta-maatskappy gedoen is.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, wou by Nagar weet of sulke groot betalings gewoonlik en binne drie ure gedoen is.

Nagar het reageer en gesê dit is die eerste keer wat só opdrag uitgevoer is sonder om die nodige prosesse te volg. Hy het die verskillende fases van betalingsversoeke en kontrakte verduidelik.

Getuienisleier adv. Philip Mokoena wou by Nagar weet of Eskom begroot het vir die Tegeta-betaling.

“Ons begroot nie vir voorafbetalings nie,” het Nagar geantwoord. “Ons begroot om steenkool te koop. Dit is nie dieselfde nie. In hierdie geval probeer jy die stelsel fop. Dit is buite die normale manier van dinge doen. Die stelsel vereis gewoonlik dat goedere ontvang moet word voor betaling gedoen word.”

Nagar het gesê dit was ongehoord om nie opdragte uit te voer by Eskom nie. “Die Tegeta-voorafbetaling was ʼn verrassing maar ek dink, in daardie stadium, wou ons almal net die opdrag uitvoer en ons sou later besorg wees oor die besonderhede.”

Nteta, wat in daardie stadium aan die hoof gestaan het van Eskom se brandstofwerwing, het saam met Singh en ander uitvoerende beamptes gewerk om die Gupta-familie te help, tot nadeel van Eskom. Die ondersoek van Fundudzi Forensic Services deur die nasionale tesourie het bevind dat die R659 miljoen aan Tegeta betaal is om seker te maak die Guptas haal die sperdatum om R2,1 miljard te bekom om Optimum Coal van Glencore aan te koop. Die Guptas se Oakbay Investments het R600 miljoen gekort en kon nie finansiering bekom van banke en ander geldskieters nie. Eskom het hulle met die bedrag gehelp.

Die kommissie van ondersoek na staatskaping hoor getuienis aan oor die korrupsie en kaping van Eskom, die Gupta-familie, oudpres. Jacob Zuma, van sy kabinetslede en sy seun Duduzane Zuma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

GM ·

SjN, al wanneer iemand aangevat word vir korrupsie is: 1. As jou velkleur ‘n sekere kleur is, of
2. As jy nie meer van nut is vir die ANC kaders nie.

Gert van Wierdapark ·

Blikskottel maar daar is lekker gewoeker met Eishkom se Monopoly-geld. Singh seg spring met die geld, Nteta se hoe hoog en Nagar laat waai toe en worry later! DIE Eskom debakel/korrupsie is basies HOOG VERRAAD teen SA en sy inwoners!!! Die Goue Draad van Korrupsie/plundering moet terugwaarts nagevors word en die honderde miljarde Rande MOET verhaal kan word. Om tyd te spaar vir al die nuwe Oranje tronkpakkies, kan Bosasa dalk solank n tenderdokument daarvoor regkry…… He – he- he!

Vra maar net ·

Ja vra ek ook. Hoe is dit moontlik dat zuma nog vry is en die Guptas netniks oor kom nie. Hulle is nou weg nou wat nou.kan ons as burgers nie n saak maak ofdan by n weteld hof of wat ookal. Hierdie gespuis kan mos nie net wegkom met alles nie.

Bollie ·

As jy opgelet het, het die ou alles so mooi beplan dat hulle sukkel om hom te koppel aan enige van die uitlatings.. hy word mondeliks genoem, maar eposse, oproepe en vegaderings wat hy bygewoon het met bewysse moet nog te voorskyn kom

Dries du Toit ·

Nagar is hoof van finansies. Singh is finansiele hoof. Maak net nie sin nie dit is n gemors.

WAT VAN SAP ·

WAT VAN rekenaar stelsel, in die geval is dit SAP, hoe!!!!! ek vra……hoe!!! kry die mense reg om SAP so te omseil?
asb laat die mense van SAP ook verduidelik,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.