Eskom-bedrieërs moet 20 jaar sit

Een van die eiendomme wat by die beperkingsbevel ingesluit word. (Foto: NVG)

Twee mans wat Eskom uit sowat R35 miljoen bedrieg het, is Dinsdag in die Palm Ridge- kommersiële misdaadhof tot 20 jaar direkte tronkstraf gevonnis.

Mosia Barnard Moraka, voorheen ʼn finansiële kontroleur by Eskom, en Victor Vilosi Tshabalala, eienaar van Megra Transport CC – ʼn diensverskaffer – het op dieselfde dag met die uitdien van dié vonnisse begin.

Maroela Media het vroeër berig dat die mans saamgespan het om die energiereus in te doen.

Megra het ʼn kontrak met Eskom gehad om steenkool by sekere myne af te lewer. ʼn Ondersoek het onthul dat Moraka en Tshabalala saamgewerk het om fiktiewe fakture te skep vir ʼn roete wat nie ingevolge die ooreenkoms met Eskom gedek is nie. Moraka het die bedrieglike fakture dan by Eskom ingedien, wat eindelik tot ʼn verlies van nagenoeg R35 miljoen vir die sukkelende kragvoorsiener gelei het.

Hulle is in September verlede jaar elk op 53 aanklagte van bedrog en diefstal skuldig bevind.

Die hof het ook ʼn batebeslagleggingsbevel toegestaan waarvolgens Moraka en Tshabalala se onderskeie eiendomme aan die staat oorhandig sal word. Dié eiendomme is reeds in September verlede jaar onder ʼn bewaringsbevel geplaas en sal nou verkoop word. Die wins sal direk aan Eskom betaal word.

André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, het die vonnisoplegging verwelkom.

“Dit is ʼn welkome mylpaal in Eskom se pogings om korrupsie in sy onderneming uit te roei.

“Hoewel die bedrae ter sake relatief beskeie is, stuur die skuldigbevinding en vonnis van hierdie misdadigers ʼn sterk boodskap aan alle Eskom-werknemers uit dat korrupte elemente geen plek in die organisasie het nie. Dit is een van vele korrupsiesake waarmee Eskom voortgaan waarby personeel betrokke is.”

De Ruyter sê dit is bevredigend om te weet dat belastingbetalers van die geld sal terugkry deur die verkoop van eiendomme wat op ʼn bedrieglike wyse verkry is.

Landdros Emmanuel Magampa het tydens die vonnisoplegging gesê dat Moraka en Tshabalala deur hebsug gedryf was en dat hy geen ander keuse gehad het as om ʼn 20 jaar‑vonnis op te lê nie.

Magampa het voorts gesê dat bedrog by ondernemings in staatsbesit die land se hulpbronne tap.

“As ’n Eskom-werknemer was Moraka in ’n vertrouensposisie. Dit was sy verantwoordelikheid om nie net waaksaam in die hantering van Eskom se hulpbronne te wees nie, maar om die onderneming teen diefstal te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boer

Ek hoop al die korrupte mense word so gevang. Dit is die begin, nou moet hulle Zuma en sy bende ook 20 jaar kry, want hulle het SAL, Denel, Poskantoor, Transnet ens se ondergang vir oorsaak. Lekker Oranje pakkie vir julle korupte diewe.

Diline

Kry vir julle – SKELMS – Geniet julle tydtjie in die tronk – julle sal nou baie tyd he om oor julle sondes na te dink!

krodedil

Daar is nog “Duisende Skelms” in Eskom wat moet tronk toe. Dis ‘n goeie begin.

Lillian

Nou vir die Guptas …

Thea

En so moet ons betaal vir goed soos hierdie!