Eskom-bedryfshoof finaal van blaam onthef in Aveng-dispuut

Jan Oberholzer. (Foto: Eskom/Twitter)

Eskom se raad het opnuut benadruk dat geen bewyse van wangedrag teen sy bedryfshoof, Jan Oberholzer, gevind kon word in ʼn kwessie wat verband hou met die betaling van uitstaande skuld aan die maatskappy Aveng nie.

Die raad sê hy het adv. Nazir Cassim geraadpleeg oor die weg vorentoe in sy ondersoek ná ʼn werker se grief teen Oberholzer.

Die werker het aangevoer, ook voor die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek, dat Oberholzer Aveng se belange bo dié van Eskom gestel het deur druk op ʼn werker te plaas om uitstaande skuld van R40 miljoen aan Aveng te betaal.

Aveng is deur Eskom aangestel om die ontwerp, opknapping- en verbeteringswerk aan die spoorstasie waar steenkool vir die Majuba-kragsentrale afgelaai word, te behartig.

Vyf betalingsdispute het uiteindelik uit dié kontrak gespruit en ʼn onafhanklike beoordelaar het bevind Eskom moet in drie van die vyf gevalle die skuld betaal. Op aanbeveling van die Zondo-kommissie is die oorblywende twee betalings teruggehou.

Aveng het egter die hof hieroor genader.

Die hofuitspraak oor Eskom se betaling aan Aveng was die laaste uitstaande kwessie wat met die grief verband gehou het.

Op 11 September het die Johannesburgse hooggeregshof egter bevind Eskom móét die uitstaande skuld plus rente betaal. Eskom het reeds gesê hy gaan aan die bevel voldoen en dat die hooggeregshofuitspraak boonop Oberholzer se standpunt oor die betaling van die skuld handhaaf.

Cassim het Oberholzer in sy ondersoek ook van enige verkeerde dade onthef en die griefprosedure teen hom is afgesluit.

“Die Eskom-raad veroordeel die voortgesette, ongegronde en kwaadwillige bewerings teen mnr. Oberholzer. Dit het nie net die bestuur se aandag afgelei van die belangrike werk om die swak vertoning van Eskom se opwekkingsaanleg te verbeter nie, maar het Eskom ook onnodig in oneer gebring en ʼn toegewyde sleutelwerker se naam deur die modder gesleep met korrupsieskandale wat nie bestaan nie,” lui die raad se verklaring.

Die raad het opnuut sy steun aan Oberholzer gegee en gesê hy het volle vertroue in die bedryfshoof se integriteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Wys dit asb vir Julius dat hy kan ophou

Johann

Wie het gekl en AANGEHOU kla? Sekerlik is daar regs aksie van toepassing op iemamd wat kwaadwillig en wetend iemand in persoon en profesionele aard vals aankla? Of is die persoon/e onaanspreeklik vir die tyd en geld wat gemors is?

Casper

By die Zondo kommisie moes hy onder eed getuig het glo ek en toe lieg hy.Is dit nie meineed nie en strafregtelik vervolgbaar nie.Kan Mnr.Oberholzer nou seviele aksie teen die werker instel,ek glo absolute so want dit is naamskending.Sy integriteit en geloofwaardigheid is groot skade berokken.

shari

Stuur druiwe.

Kokerboom

Baie geluk en sterkte Jan.
Wys hulle en kry die Eskom gemors reg