Eskom-bedryfshoof wys sy kaarte

Jan Oberholzer. (Foto: Eskom/Twitter)

“Ek was nie so naïef om ʼn klop op die skouer te verwag wanneer ek korrupsie en onderprestasie aandurf nie, maar ek het nie gedink dit sal hierdie dimensie aanneem en vir langer as ʼn jaar voortduur nie.”

Só sê Eskom se bedryfshoof, Jan Oberholzer, teen wie daar in ʼn smeerveldtog van ʼn kollega ernstige bewerings van korrupsie, nepotisme en viktimisering gemaak is. Die bewerings is intussen in drie onafhanklike ondersoeke as vals bevind.

Nog bewerings waarvan Oberholzer kwytgeskeld is, sluit in dat hy versuim het om sy aandele in Stefanutti Stocks te verklaar, dat hy kontrakte vir Stefanutti Stocks goedgekeur het, dat hy betrokke was by die ontsaglike toename in die waarde van ʼn kontrak wat aan Black & Veatch toegeken is, asook beweerde ongerymdhede rakende ʼn skikking van R40 miljoen met Aveng.

Gevolge van onderprestasie

Mark Chettiar, Eskom se voormalige algemene bestuurder van steenkool en skoon tegnologie, wat die klagtes teen Oberholzer ingedien het, was die projekportfoliobestuurder van onder meer die onvoltooide Majuba-spoorprojek en die nuwe asdamprojek by die Camden-kragstasie. Oberholzer moes Chettiar aanspreek vanweë sy onderprestasie rakende die meerderheid van die projekte binne sy portefeulje.

“Die Majuba-spoorlyn wat so onnodig sloer, het tot gevolg dat daar ongeveer 1 200 trokke elke dag per pad moet loop om die steenkool te vervoer, teen ʼn bykomende koste van R300 000 per dag. Vertragings by die asdamprojek het veroorsaak dat die hele Camden 1 600 MW-opwekkingsaanleg maande lank buite werking was en het tot minstens een fase beurtkrag in Julie en Augustus 2020 gelei. Dit het verder veroorsaak dat diesel van meer as R1 miljard in die gasturbines gebrand is om kapasiteit beskikbaar te stel. Dis die soort probleme wat die maatskappy en die land baie geld kos. Dit is dus duidelik: indien dit nie jou geld is nie, het dit geen waarde nie,” sê Oberholzer.

Die derde ondersoek na beweerde verkeerde optrede deur Oberholzer is deur Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, gedoen. Hierdie ondersoek en die vorige twee, deur adv. Eric Mkhawane en adv. Nazeer Cassim, het Oberholzer van enige skuld onthef, met die Eskom-verslag wat dit duidelik stel: “Geen van die ondersoeke het enige bewyse vir die beweerde wangedrag wat in mnr. Chettiar se klagstaat genoem word, gevind nie. Daar word aanbeveel dat die raad die bedryfshoof se optrede as regverdig, deursigtig, volgens prosedure en professioneel bevestig, en dat hy sy kontraktuele mandaat vervul het deur in die belang van sy werkgewer Eskom op te tree.”

In sy verslag waarsku De Ruyter ook teen ʼn skynbare patroon waarvolgens onderpresteerders hulself as fluitjieblasers voorhou wanneer hulle oor hul swak prestasie aangespreek word, ʼn neiging wat geheel en al in stryd is met die verlangde hoëprestasiekultuur wat Eskom graag by sy werknemers wil kweek.

Volgens Oberholzer is Eskom deurtrek van korrupsie. “Ek pak daardie korrupsie en swak prestasie aan en dit het die potensiaal om negatiewe reaksie te ontlok. Gedurende ʼn telefoniese gesprek met Chettiar vroeg in September 2019, ná nog ʼn uiters negatiewe verrassing rakende die Camden-projek, het ek Chettiar reguit gevra om te gaan nadink oor of hy regtig vir hierdie werk uitgeknip is. Dit het aanleiding gegee tot ʼn grief en klagstaat wat Chettiar teen my ingedien het en dit was die kruitvat vir al die gebeure wat plaasgevind het,” sê Oberholzer.

Klagtes en korrupsie

Jan Oberholzer. Foto: Eskom/Twitter

Die klagstaat is op 17 Oktober 2019 deur adv. Eric Mkhawane hanteer. Chettiar het ʼn aantal ongestaafde, baie ernstige beweringe gemaak in sy grief, waarvan hy een teruggetrek het met die aanvang van die verhoor. Hy is die geleentheid gegun om al die beweringe te bewys, maar met die uitsondering dat Oberholzer die f-woord gebruik het, kon hy geen van die beweringe bewys nie en is Oberholzer daarom onskuldig bevind.

Eskom se voorsitter/interim uitvoerende hoof, mnr. Jabu Mabuza, het daarna opdrag gegee dat konsekwensiebestuur op Chettiar toegepas moet word, gegewe sy wangedrag rakende die ongegronde en onbewese beweringe. Op 20 Januarie 2020 is Chettiar met ʼn formele dissiplinêre klagstaat gekonfronteer. Die formele kennisgewing het dit duidelik gestel dat “indien skuldig bevind word, sal Eskom, gegewe die ernstigheid van die wangedrag, ʼn sanksie van ontslag instel”.

Chettiar is sedert die einde van Januarie 2020 met siekteverlof, maar eis intussen ʼn skeidingspakket van R41 miljoen.

Korrupsie is ʼn groot kwessie by Eskom en daar word streng maatreëls ingestel om te verseker dat korrupsie doeltreffend bestry word, asook dissipline en integriteit gekweek word, sê Oberholzer. Die kragreus betaal tans geheel en al te veel vir goedere en dienste, waaronder alledaagse dinge soos gebottelde water, toiletpapier en swartsakke. “Waar jy ʼn 500 ml-botteltjie water vir R6 kan koop, betaal ons R45; waar jy R2 vir ʼn rolletjie toiletpapier kan betaal, betaal ons R22; en waar ʼn enkele swartsak jou R2 uit die sak behoort te jaag, koop Eskom dit vir R54,” verduidelik hy.

Volgens Oberholzer is hierdie gedrag onder die vergrootglas en sal Eskom nie onetiese optrede duld nie. Die probleem is egter dat daar nog niemand in ʼn oranje oorpak beland het as gevolg daarvan nie, voeg hy by. Maar dit gaan nog gebeur; iemand gaan nog in die tronk beland, en binnekort.

Talle mense en partye wat by die smeerveldtog teen Oberholzer betrokke is, het nog nooit eens probeer om sy kant van die storie te hoor nie. Watter voordeel trek hulle hieruit, wonder Oberholzer. Al antwoord wat vir hom sin maak, is dat dit moontlik polities geïnspireer mag wees, of blote taktiek om die aandag van die korrupte gedrag en onderprestasies binne Eskom af te trek.

“Dit vat aan ʼn mens”

Jan Oberholzer. Foto: Eskom/Twitter

Die afgelope 12 maande was ʼn moeilike tyd vir Oberholzer en sy familie met onophoudelike media- en sosialemedia-aanslae. Hy het in ʼn stadium 24 uur sekuriteit by sy huis gehad en het lyfwagte wat hom moet rondry. Hy en sy familie ontvang oproepe van mense wat hom as afskuwelik uitkryt. Dit vat aan ʼn mens, gee hy toe.

Tog het hy geleer om daarmee saam te leef. “Ek glo die Vader sal sy hand van beskerming oor ons hou. Ongeag wat ek die afgelope 12 maande verduur het, het ek Chettiar vergewe en aanbeweeg. Ek het ook vrede gemaak met die feit dat mense sonder selfrespek nie oor die vermoë beskik om andere te respekteer nie,” sê Oberholzer.

Wat gebeur ná hierdie saak? “Daar sal volgendes wees, ek is nie naïef daaroor nie. Ek sal egter aanhou om te doen wat my gewete dikteer, wat ek opreg glo en waarvoor ek aangestel is. Ek het geleer dat dit ʼn man met waarheid, moed, oortuiging en vasberadenheid verg om aan te hou om te doen wat reg is, ongeag die terugslae, want uiteindelik sal die waarheid en geregtigheid seëvier.”

Gaan hy Eskom vaarwel toeroep, noudat sy onskuld bewys is? Hy erken dat hy dit al bedink het. “Maar daar is nie ʼn kans nie, ek gaan nie vir dié wat so hard werk om van my ontslae te raak, die bevrediging gee nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Wielspore ·

Well done, hou so aan, raak ontslae van skelms en mense wat nie hulle werk doen.
Die tendens van ‘n smeer veldtog indien jy aangevat word agv swak werk is ‘n algemene probleem in SA.

Kokerboom ·

Welgedaan Mnr Oberholzer. Saam met mnr De Ruyter herbou asb Eskom tot die eens trotse instelling wat dit was. Roei die korrupsienes uit. Ons ondersteun julle.

Piet ·

Die dag wat daar mense met boeie daar uit stap gaan ‘n blink dag wees vir SA. Ons moet almal help om daai momentum dan voort te sit laat dit regdeur regeringsinstansies gevat word. En dan moet dieselfde in die privaat sektor gebeur, die Steinhoff varke en mense wat ons ons geldeenheid manipuleer soos City Group en ABSA, wat reeds skuldig bevind aan dit maar ‘n belaglike boete gekry het, moet kort op hulle hake wees oppad tjoekie toe.

B-Man ·

Mooi so Jan. Bly getrou aan jou beginsels en geloof. Daar sal uitkoms wees vir die wat volhard! Dankie vir die voorbeeld wat jy ook stel aan ander wit mans. Hef aan lê voor!

Leeuwyfie ·

Jan ek weet jy’t baie ervaring, maar ek gaan hierdie ieg noem: Doen alles soos die boek, hê kopieë van alles en kopieë van daai kopieë. Bêre dit veilig op 3 verskillende plekke sowel as op hardeskyf en in die wolk. Neem elke gesprek op, van oproepe tot vergaderings. Soos jy probeer om korrupsie uit te roei, gaan die korrupte jou probeer uitroei, dus sal hulle jou met klein goed probeer vang, soos ‘n naweek wegbreek as geskenk, ens. Wees bedag daarop. Verder moet jy seker maak jou foon is nie gekuberkraak nie. Verander jou wagwoorde gereeld. Hou jou doen en late privaat. Maak seker dat besighede wat “presies op die regte tyd” kom, ‘n goeie rekord het.
(By ons is ingebreek, net daarna los ‘n “sekuriteitsmaatskappy” hul brosjure by ons, later moes ons ontdek dat hulle die was wat die inbraak georkestreer het om hulself by ons in te lyf en sensitiewe inligting te kry, dit was soos die flieks)
Die korrupsie lê diep. Hou jy net jou neus skoon.
Baie sterkte en baie dankie. Byt vas.

Pieter ·

Lang verhaal oor sy korrupsie ondersoeke. Eskom het my ook met korrupsie by my werkgewer aangekla, na ek gekla het oor prosesse by Kusile. Na heelwat finansiële uitgawes en verliese het die hof die korrupsie probleem self by Eskom uitgewys instede van my, maar Eskom het nooit om verskoning kom aanklop nie.

Onthou dit is nie Eskom wat te veel betaal vir goedere nie, maar die Eskom kragverbruiker. Soos Eskom vir my sê: die verbruiker dok op vir Eskom uitgawes.

Eskom = vrot spul

Hennie ·

Begin ‘n eis teen die sogenaamde korrupte fluitjie blaser…. Laat hy slapelose nagte beleef. Ons Afrikaanses is heeltemal te geneë om te vergewe….

Chris ·

Jan Oberholzer staan nie agter die deur nie – hy is onomkoopbaar en eerlik – hy sal die magte van satan veg solank hy toegelaat word.

Connie ·

Mnr J. Oberholzer baie dankie vir dit wat jy al gedoen het. Moet asb nie laat die wat jou wil uit he, wen nie. Ons staan saam met jou, en bid vir jou. Met jou aan die stuur, wat al die vrot kolle uitlig, sal Eskom weer eendag n waardig kragstasie wees soos voorheen. Dankie.

Moedeloos ·

Sedert Januarie 2020 met siekverlof. Sjoe hoeveel dae siekverlof kry die man dan om nog n skeidingspakkete te wil beding? As hy ongeskik is om te werk laat hy gaan soos baie van die mense daarbuite hul werke moes los agv gesondheid.

Tino ·

Lyk my ons het nou 2 manne aan die stokke wat dinge gaan reg ruk.

Alles sterkte en welgedaan met wat julle vermag tot op hede! Hier kom ‘n goeie ding

Chettair moet dalk Eskom R41m betaal vir skeiding, hoop by land in die tronk. Waar ‘n rookie trek…

agnes ·

Ons is so dankbaar dat julle daar is om redding te bring en ons bid dat julle behoue Sal bly. Ons almal weet dat k staan vir kannie en ons maak staat op julle. Gaan asb voort en sterkte!

Dries ·

“Chettiar is sedert die einde van Januarie 2020 met siekteverlof, maar eis intussen ʼn skeidingspakket van R41 miljoen.” Goeie genugtig. Hoeveel soekverlof het hy dan? Is dit betalende siekverlof? Hoekom siekverlof? Skaam om gesig te wys? Dan, hoekom skeidingspakket? Hy behoort eerder die geld wat spandeer is vir die Oberhozer saak terug te betaal en te bedank. Sal graag wou weet wat die onkoste van hierdie ondersoek en saak was. Ons sal seker nooit weet nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.