Eskom ‘behou reg’ om Koko te vervolg

Matshela Koko (ANA File Photo)

Eskom het Vrydag in ʼn verklaring gesê hoewel hy Matshela Koko, die omstrede uitvoerende hoof van kragopwekking, se bedanking met onmiddellike effek aanvaar, wil hy dit duidelik stel dat hy steeds die reg behou om regstappe te doen in terme van enige skade wat die kragvoorsiener gehad het.

Koko het Vrydagmiddag sy bedanking bekend gemaak en gesê dit is in sy en sy gesin se beste belang dat hy bedank en dat hy dit doen sonder enige erkenning dat hy iets verkeerd gedoen het.

Volgens berigte is Koko deur Eskom daarvan beskuldig dat hy glo die parlement mislei het, dat hy vertroulike dokumente versprei het, en dat hy Eskom se gedragskode en sy verantwoordelikhede as uitvoerende hoof oortree het.

Eskom wou glo aanvanklik nié sy bedanking aanvaar nie omdat die bestuurskomitee wou hê dat ʼn dissiplinêre verhoor teen hom moet voortgaan.

Intussen het die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) Koko se bedanking verwelkom en ʼn beroep om Eskom gedoen dat hy wel vervolg moet word.

Ben Theron, hoof bedryfsbeampte van Outa, het gesê Koko is ʼn “oortreder wat nie verlos kan word nie omdat hy nie sy eie foute kan erken nie”. “Hierdie man moet aanspreeklik gehou word en vervolg word omdat hy vir die parlementêre ondersoekkomitee gelieg het deur te maak of hy onkundig is,” het Theron gesê.

“Dit is tyd dat Koko aanspreeklikheid aanvaar vir sy deel in die staatskaping en sy wangedrag binne Eskom wat nie aan die etiese kode voldoen het nie.”

Eskom het Koko aanvanklik in Augustus 2017 geskors waarna hy tereggestaan het op ses aanklagte, na bewering die versuim om ʼn konflik van belange te verklaar nadat ʼn maatskappy, Impulse International, ʼn tender van R1 miljard bekom het. Hy is verlede maand weer aangestel ná ʼn tugverhoor hom van enige oortredings vrygespreek het, maar is op 31 Januarie weer geskors nadat hy met nuwe aanklagte gedien is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.