Eskom-bestuurder dan weer in hof oor korrupsie

Argieffoto

Die voormalige senior bestuurder van Eskom wat saam met vier ander persone daarvan beskuldig word dat hy miljoene rande vir Eskom-projekte in sy sak gesteek het, het Dinsdag in die Pretoriase streekhof verskyn. Sy saak is voorlopig uitgestel tot 10 November.

Volgens Sindisiwe Twala, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is Mangope France Hlakudi (48) se saak uitgestel om sy regspan geleentheid te gee om die dossier te bestudeer.

Hlakudi het in Desember saam met drie ander Eskom-hoës en ʼn direkteur en aandeelhouer van Tubular Holdings (Pty) Ltd op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery in die hof verskyn. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle nagenoeg R745 miljoen wat bedoel was vir Eskom-projekte gesteel het.

Hlakudi word daarvan beskuldig dat hy miljoene van Eskom-subkontrakteurs ontvang het in die tyd toe hy senior bestuurder van Eskom se Kusile-kragstasie was. Hy het op 13 November 2017 bedank.

Hlakudi is in Maart vanjaar van belastingbedrog aangekla. Maroela Media het vroeër berig hy het glo nie sy inkomste tussen 2016 en 2018 verklaar nie – wat ʼn verlies van sowat R30,2 miljoen vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) beteken het. Hy word in sy persoonlike hoedanigheid, asook as direkteur van drie maatskappye aangekla.

Die SAID maak nou aanspraak op dié geld.

In die klagstaat word uiteengesit hoe ondernemings, persone en subkontrakteurs van Eskom geld aan Hlakudi Translation en Interpretations CC oorbetaal het. Die volgende maatskappye word ook by die klagte betrek: Bon Serve Telekom; Tubular Construction Projects (Pty) Ltd (TCP); Abeyla Trading (Pty) Ltd; Tubular Technical Construction (Pty) Ltd, Cosira Tubular Joint Venture (Pty) Ltd; en Babinatlou Business Services CC (Babinatlou).

“Hierdie is een van die vele sake wat verband hou met bedrog by Eskom wat die NVG voor die howe wil bring,” sê Twala.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Prikkie ·

Daar is sekerlik nog BAIE meer as ses wie se hande in die till was?

Moet daar nie bietjie dieper gekrap word nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.