Eskom boer steeds agteruit

(Argieffoto: Maroela Media)

Eskom het sy tussentydse uitslae vir die sesmaandetydperk tot einde September bekend gemaak en sê ondanks voortgesette bedryf- en finansiële uitdagings, het hy ʼn netto wins ná belasting van R1,6 miljard aangeteken.

Inkomste het tot R158,6 miljard gestyg; ʼn styging van 9,5% van die R144,8 miljard wat in September 2022 aangeteken is. Dit word hoofsaaklik toegeskryf aan die gunstige uitwerking van tariefverhogings in die 2024-boekjaar.

Eskom verkoop egter steeds minder krag, en verkoopsvolumes het met 5,9% gedaal van dieselfde tyd verlede jaar.  Die daling word toegeskryf aan verskaffingsbeperkings, asook die laer vraag na krag van verbruikers weens taai ekonomiese omstandighede. Boonop wek talle verbruikers toenemend hul eie krag op. Nie-tegniese verliese – wat insluit die diefstal van krag weens onwettige koppelings, peutery met meters en spookverkope – dra by tot die dalende verkoopsvolumes.

Eskom se finansiële prestasie is in die eerste helfte van die jaar gewoonlik beter as in die tweede helfte, met die wintertyd wat gekenmerk word deur hoër tariewe en verkoopsvolumes as in die somermaande. Minder instandhoudingswerk word ook in die winter gedoen om in die vraag na krag te probeer voorsien en op te maak vir laer winterproduksie aan die hernubare kragkant.

Die kragvoorsiener waarsku egter dat hoewel hy in die afgelope ses maande ʼn wins getoon het, hy ʼn ná belasting-verlies van R23,2 miljard vir die einde van die boekjaar verwag. Die rede hiervoor is voortgesette swak opwekkingskapasiteit, tariewe wat nie die koste van opwekking weerspieël nie, hoë rente op skuldterugbetalings en wanbetaling van verbruikers.

Die beskikbaarheid van aanlegte versleg steeds en dit gee aanleiding tot meer beurtkrag en op hoër fases.

Beurtkrag moes op 183 dae – altesame 3 578 uur, oftewel 149,1 dae – ingestel word.

Die energiebeskikbaarheidsfaktor staan boonop op gemiddeld 55,3%. Dit is laer as die teiken van 60% wat vir September gestel is en ook laer as die teiken van 65% wat vir Maart volgende jaar neergelê is.

Minder krag, minder inkomste  

Eskom se oopsiklus-gasturbine by Gourikwa. (Argieffoto: Eskom)

Die gesukkel om aanlegte aanlyn te hou, het ook ʼn uitwerking op Eskom se bankstate.

Oopsiklus-gasturbines is teen ʼn (gesamentlike) koste van R18 miljard bedryf om 2,9 TWh te lewer.

Primêre energiekoste het met 10,1% toegeneem en van R85,1 miljard tot R77,3 miljard in September verlede jaar gestyg. Dit het verdere druk op Eskom se finansies geplaas.

“Die onbevredigende bedryfsprestasie en negatiewe ekonomiese omstandighede het steeds ʼn regstreekse uitwerking op Eskom se finansiële volhoubaarheid en dit beteken ons moet moeilike keuses maak tussen likiditeit, die gebruik van oopsiklus-gasturbines om beurtkrag tot voordeel van die ekonomie te minimaliseer en ons besteding aan bedryfsherstel- en kapitaalbestedingsprojekte,” sê Martin Buys, waarnemende finansiële hoof by Eskom.

“Ons finansiële prestasie word ook gepootjie deur onvoldoende tariewe, kosteverhogings wat hoër as inflasie is, wanbetaling deur sommige klante en die hoë koste van skuld.

“Ons omkeerplan fokus op hierdie drie sleutelgebiede. Ons hoop is ook gevestig op die regering se skuldverligting, die munisipale skuldverligtingsprogram en die oorgang na tariewe wat koste weerspieël.”

Intussen bly Eskom se vlakke van skuld onvolhoubaar hoog.

Die regering het ʼn reddingsboei van R78 miljard in die 2024-boekjaar vir Eskom bewillig. Hiervan is R16 miljard in Augustus ontvang, nog R20 miljard in Oktober en R5 miljard in Desember. Die res sal in die huidige boekjaar betaal word.

Eskom het in die tydperk onder hersiening rente van R18,1 miljard terugbetaal en kapitaal van R30,9 miljard. Die betalings is gedoen met surplusbedryfskontantvloei met steun van die regering.

Munisipale skuld bekommer

(Argieffoto: Maroela Media)

Munisipaliteite se wanbetaling bly ʼn groot probleem en Eskom probeer op velerlei maniere om agterstallige skuld van plaaslike owerhede in te vorder.

Teen September het agterstallige munisipale skuld aan Eskom op meer as R70 miljard gestaan; dit is ʼn skerp toename van die R58,5 miljard waarop dit in Maart gestaan het.

Die 20 grootste wanbetaler-munisipaliteite is verantwoordelik vir 76,7% van al dié agterstallige skuld, maar Eskom hoop dat die munisipale skuldverligtingsprogram dié vlakke gaan help verlaag en Eskom se bedryfskontantvloei mettertyd sal help verbeter.

Tot dusver het 52 munisipaliteite goedkeuring of voorlopige goedkeuring van die nasionale tesourie gekry om deel te vorm van die program. Dié owerhede is verantwoordelik vir 86% van agterstallige skuld (soos op 31 Maart). Nog 20 wanbetalende munisipaliteite (nog 11% van agterstallige skuld) het vir munisipale skuldverligting aansoek gedoen en wag op goedkeuring van die tesourie.

Geen skuld is nog afgeskryf nie omdat munisipaliteite vir ʼn jaar lank aan bepaalde voorwaardes moet voldoen voordat Eskom die eerste derde van die skuld afskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Verkoopsvolumes neem af, maar tariewe gaan op? Eskom het nie ‘n toekoms nie.

Waarom ·

Eskom is gou om munisipaliteite se wanbetaling uit te wys maar Soweto se biljoene rande skuld word nooit genoem nie.

Frank ·

Sal graag wil weet HOE die “Koste van opwekking” uitgewerk word. Word die korrupsie, geldmors, rente, afskryf van skuld van nie betalers en talle ander onbevoegdheids besigheidsuitgawes ingesluit?

Papsak ·

Solank bee in beheer bly gaan niks reg kom nie vat dit weg en daar gaan lig kom vir alles

SjN ·

Daagliks klim daar groot betalende kliente van die grid af en nog steeds kan hul nie voorsien in behoefte nie.

Anel ·

Hoe kleiner die aanvraag hoe hoër die koste, want, die kaders moet vreet. En ons armgatte, wat nie sonpanele kan bekostig nie, moet maar betaal! En solank die spul adn bewind is sal niks regkom nie!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.