Eskom-bonusbesluit verwelkom

Argieffoto: GCIS

AfriForum het Eskom se besluit om nie vandeesjaar bonusse en salarisverhogings aan sy topbestuur toe te ken nie, asook nie vakatures in hierdie poskategorie te vul nie, verwelkom.

Die burgerregte-organisasie het egter versoek dat verdere stappe gedoen word om die kragreus te stabiliseer.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, het egter gesê hierdie aankondiging is vér van voldoende.

“Die toekenning van buitensporige bonusse aan topbestuur is wel ’n probleem, maar die staking daarvan is bloot kosmetiese veranderinge in ’n poging om die publiek se opinie oor die kragreus effens positiewer te maak. Dit spreek egter nie die kern van Eskom se probleme aan nie.”

Brink meen Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom, het verder erken dat Eskom se personeeltal minstens 30% minder moet wees.

“Dit is ’n konserwatiewe raming, aangesien Eskom luidens ’n 2016-studie deur die Wêreldbank sowat 66% te veel personeel het. Die gemiddelde jaarlikse salaris by Eskom word op nagenoeg R750 000 beraam.”

Hy meen die toekomstige besparing van ’n paar miljoen aan bestuurslede se vergoeding is dus ’n druppel aan die emmer van wat bespaar kan word indien kwessies soos ’n té groot werksmag, korrupsie en wanadministrasie behoorlik aangepak word. “Mabuza het egter geen tasbare planne aangekondig om die werksmag te verminder nie,” het Brink gesê.

Hy het verder gesê AfriForum het vandeesweek ’n voorlegging by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se openbare sitting in Midrand gedoen rakende Eskom se moontlike elektrisiteitstariefverhoging om R67 miljard in te vorder.

“Verskeie rolspelers het by hierdie geleentheid bewyse gelewer dat die verliese weens bedrog, wanadministrasie, oorbodige personeel en korrupsie by Eskom baie meer as hierdie bedrag beloop. Dit is onaanvaarbaar dat die verbruiker elke keer vir hierdie uitgawes moet pa staan, terwyl Eskom slegs probleme erken, maar nie moeilike besluite wil neem om dit reg te stel nie. Ons doen daarom ’n beroep op Eskom om nog groot en moedige stappe rakende hierdie probleme te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Arrah ·

Goed. Bestuursposte in die top strukture is teveel. Kan slim statikuste asseblief net bietjie syfers deurgee oor tegnikus per vebruiker. Dan kan die geheelbeeld van die persepsie dat Eskom te veel werknemers het miskien anders lyk of ten minste kan daar meer ware/akurate verslagewing wees oor die werklikke stand van sake t.o.v. personeel getalle en welke personeel noodsaaklik is vir Eskom se kern besigheid en watter personeel oorbodig is.

John ·

Hierdie is net ‘n stofdwarrel voor groot tariefverhogings wat telkens dis’ tyd elke jaar ge-eis word. Moenie te vrolik voel nie want kragonderbrekings is gewoonlik ook die manier om ons te wys wie is baas.

Avra ·

Hul moet dit met almal wat buite bargaining council val, doen. Ook met parlementslede. Natuurlik vir die volgende 5 jaar

Chris Ws ·

dink net hoeveel MILJARD RAND Escom kan verdien as hy sy werk doen en munisipaliteite wat hom miljoene skuld se skuld vorder.nee hy wag eers tot die skuld honderde miljoene beloop DAN wil hulle krag afsny na dorpe toe.Hoekom het Escom die rekenings so geweldig lank laat agter stallig raak??Daars groot fout by Escom.Kan Cyril dit nie raaksien nie??Jaag die top bestuur weg,hulle doen nie hul werk nie !

Elsa ·

Skakel die munisipaliteit uit en verskaf direk elektrisiteit aan mense wat hul rekening betaal. Dit werk in Margate.

Kosie ·

Onthou die staat is Eskom se aandeelhouer,dus word Eskom as politieke speelbal gebruik om stemme te behou. Gevolglik keer die staat aanhoudend indien Eskom krag wil afsny. Politieke aanstellings pootjie die besigheid gereeld. Indien Eskom sonder inmenging bestuur kon word sou die prentjie baie anders gelyk het.

Gemaskerde Sopbeen ·

NOU EERS? Hierdie moes van dag een af so gewees het. Dis so tragies dat die mens se geheue so kort is. Die eerste “prestasie bonusse” was betaal nadat hierdie instansie ‘n hele klomp van sy bates verkoop het…..sodat dit kan goed lyk op die boeke!! En van daar af het dit nog net nooit weer opgehou nie!!

juba ·

Ek is n tegnikus by eskom en my salaris is nie naastenby daai R750 000 per jaar nie, iemand geniet my R500 000.

Pieter ·

Bespaar van bo af.. ek weet nie hoe die gemiddelde salaris beteken word nie, want tegniese mense wat die werk doen, ontvang ‘n breukdeel hiervan, behalwe vir kruipers by bestuur. Eskom is ook oorgetransformeer en wittes kry nie bevordering nie. Ek ken mense wat daar werk!

Joshua ·

Skindernuus se dat Brian Molefese maandelikse salaris R720,000 was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.