Eskom borg R43 miljoen se ontbytkonferensies

                                                                                                 Foto: GCIS

Foto: GCIS

Colin Matjila, waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, het vir omstredenheid gesorg by die kragvoorsiener oor ʼn kontrak van R43 miljoen om The New Age (TNA) se ontbytkonferensies te borg, het Mail & Guardian Vrydag berig.

Die nuwe kontrak behels dat Eskom, wat finansieel in die knyp is, vir drie jaar lank elke maand minstens een ontbytkonferensie borg, volgens die berig. Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het glo bevestig dat sy genader is weens kommer oor Matjila se goedkeuring van die kontrak.

“Ek neem nie die besluite nie, en ek sal nooit iemand afraai om ʼn persoon aan te kla of te skors nie,” het Brown glo aan die koerant gesê. Sy het bygevoeg die raad van Eskom ondersoek steeds die aangeleentheid.

Die kontrak oorskry glo Eskom se begroting vir borgskappe en bevat ook glo nie ʼn uitgangsklousule nie. Eskom se regsverteenwoordigers het glo reeds voor Matjila se goedkeuring van die kontrak hulle kommer hieroor uitgespreek.

Matshela Koko, waarnemende handelshoof van Eskom, het gesê die kontrak met The New Age is deel van Eskom se “voortgesette verhouding” met die maatskappy en dat die verhouding al begin het voor Matjila se ampstermyn as waarnemende uitvoerende hoof.

Gary Naidoo, woordvoerder vir die Gupta-familie wat The New Age besit, het gesê: “Hierdie kontrak is nie met die destydse waarnemende uitvoerende hoof onderhandel nie, maar met die funksionele bestuurders by Eskom en Nazeem Howa, TNA se uitvoerende hoof.”

Matjila kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het Woensdag in sy mediumtermyn-begrotingsraamwerk aangekondig dat die regering sowat R20 miljard bymekaar wil maak om Eskom met sy kontantvloei-probleem van R225 miljard by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Francois ·

Ekskuus…! Lees ek reg? En ons moet maar net Eskom se hoër tariewe betaal, omdat hulle totaal en al onbevoeg is om enige oordeel aan die dag te le..Is ons die gans wat die goue eiers le?

Francois ·

Wat van Eskom borg R43m se Son Verhittings stelsels! Dan sal die ligte dalk aanbly.

Anton ·

Francois ek stem saam wat te erg is is net te erg ons hoop net die ondersoek gaan tot iets positief lei maar ek weet nie

Gerhard Bezuidenhout ·

Wat n skande ! Hierdie klomp BEE morone het geen idee van finansies nie . Dit is verregaande en verraad teen die belastingbetaler en dan moet daar jaarliks n ruim reddingsboei uitgegooi word.Ek hoop dat die Openbare Beskermer hul binnewerk ondersoek en dat die skuldiges aan die kaak gestel word. Die dag wanneer Escom geprivatiseer word sal dinge eers verander.

Drieks ·

Ja mense, ons sit met groot probleme. Alles wat die ANC ‘n hand in het, val uitmekaar, en daar is geen skaam kry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.