Eskom, Deloitte bereik skikking

Argieffoto: GCIS

Die ouditgroep Deloitte gaan R150 miljoen aan Eskom terugbetaal nadat die partye ʼn skikking bereik het.

Die partye was in dispuut oor dienste wat Deloitte tussen April 2016 en September 2017 aan Eskom gelewer het. Die skikking sal in ʼn later stadium ʼn bevel van die hof gemaak word.

In ʼn gesamentlike verklaring voer die partye aan dat die skikkingsbedrag ooreengekom is na uitgebreide onderhandeling tussen die partye ten einde uitgerekte en duur litigasie te voorkom.

Die partye het verder ooreengekom dat ondersoeke deur Eskom en Deloitte geen bewyse van staatskaping of korrupsie opgelewer het nie. Eskom het voordeel getrek uit die dienste wat Deloitte gelewer het en trek steeds voordeel daaruit.

Dit is ook ooreengekom dat daar tegniese onreëlmatighede in die verkrygingsproses was en Deloitte aanvaar dat hy deel was van dié proses. Deloitte is wel geregtig op vergoeding vir die waarde van die dienste wat hulle aan Eskom gelewer het.

Eskom het in Oktober gesê hy wil die toeken van twee kontrakte aan Deloitte ter syde laat stel en meer as R200 miljoen van die ouditfirma probeer verhaal.

Eskom het destyds gesê hy het inligting tot sy beskikking wat wys dat Deloitte besig was met onregverdige, onbillike, ondeursigtige en onmededingende aktiwiteite waar die ouditfirma inligtingsessies met Eskom-amptenare wat nie op rekord was nie, gebruik het om voorstelle in te dien en dat hulle kontrakte gekry het al was hul pryse ver bo die van hul mededingers.

Eskom-kontrakte is glo aan Deloitte toegeken ondanks die feit dat hul pryse vyf keer hoër as die van hul mededingers was.

Volgens Eskom was Deloitte se prys in een van die tenders R79 miljoen teenoor die net minder as R16 miljoen en R9 miljoen van twee mededingers, en in die tweede tender was Deloitte se prys R88,8 miljoen teenoor R14,5 miljoen, R13,25 miljoen en R6,59 miljoen van drie mededingers.

Jabu Mabuza, voormalige voorsitter en direkteur van Eskom, het destyds gesê dit toon suiwer korrupsie aan die kant van Deloitte en die uitvoerende beamptes van Eskom wat hierdie kontrakte gefasiliteer het sonder om ag te slaan op die volhoubaarheid van Eskom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

Hoe is dit dat niemand hoor van die vasvat van die betrokke persone nie….of kom dit nog….slakke pas

Scalla ·

Watter persoon/e het dit goedgekeur en gemagtig, ondersoek hulle.

Paul ·

Deloitte, KPMG – ‘n Mens sou verwag die mense se integriteit en geloofwaardigheid sal bo verdenking wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.