Eskom: Donker prentjie ondanks nuwe finansiële hoof

Calib Cassim is in ʼn permanente posisie as die finansiële hoof van Eskom aangestel. Foto: Twitter

Eskom het Woensdag bevestig Calib Cassim is in ʼn permanente posisie as die finansiële hoof van die kragvoorsiener aangestel nadat hy 16 maande lank in dié pos waargeneem het.

Cassim is aanvanklik as waarnemende finansiële hoof aangestel ná die skorsing en gevolglike bedanking van Anoj Singh. Singh het in Januarie bedank nadat hy in September verlede jaar geskors is oor bewerings dat hy betrokke was by die onregmatige toekenning van kontrakte aan maatskappye wat bande met die Guptas het. Daar is ook beweer dat Singh geskenke en reise van die berugte familie ontvang het.

Cassim, ʼn gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester, se nuwe permanente aanstelling kom egter te midde van ernstige geldelike probleme by die kragvoorsiener.

Cassim sal as finansiële hoof verantwoordelik wees vir die bestuur van Eskom se finansiële strategie, insluitend finansiële beplanning, ekonomiese regulasie en die aansoeke rakende elektrisiteitspryse aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa).

Cassim het Woensdag Eskom se interim finansiële verslae bekendgemaak en erken die benarde situasie by die kragvoorsiener kan nie oornag omgedraai word nie. Inteendeel, daar word verwag dat die maatskappy se boeke eers teen 2023 verbetering sal begin toon.

Cassim het verduidelik Eskom is tans in ʼn skuldafhanklike likiditeitsposisie wat spruit uit lae tariewe, ʼn 0,8%-afname in verkope, die stygende koste van kragopwekking en werknemervoordele en ʼn voortgesette bouprogram.

“Die meeste van Eskom se finansiële ratio’s het agteruitgegaan en sal na verwagting oor die volgende ses maande nog verder verswak. Inkomste het met ʼn geringe 3% gestyg tot R98,1 miljard vanaf R95,5 miljard oor dieselfde tydperk verlede jaar. Tog het nettowins met 89% getuimel na R671 miljoen teenoor R6,3 miljard verlede jaar,” het Cassim gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wondermaarnet ·

Hopelik is die nodige ondersoeke gedoen na die kwalifikasie en bevoegdheid om die werk te doen. Grade kan aanlyn gekoop word teen ‘n baie billike bedrag.

R. Moore ·

Het hulle nie net gister weer miljarde by die AfDB geleen nie? Het ek net gedroom dat ek sulke berigte gelees het? Alles is baie onseker… Gaan ins sonder krag sit Desember? Gaan ons eiendom onteien word? Net ‘n eenvoudige Ja of Nee sal baie help asseblief!

Alida ·

Hy het n reuse taak wat op hom wag. Hoe sorteer mens die gemors uit wat die ANC agtergelaat het. Sterkte.

Thinus Erasmus ·

Kan ‘n finansiele ontleder my help asseblief:
Volgens die berig van 21 Nov waarsku Eskom dat hul skuldlas van R400 miljard (R 400 000 milj) tot R550 miljard kan styg.
Hul inkomste het laasjaar met 3% gegroei.
Daar was ‘n wins van net R671milj. teenoor die vorige jaar se R 6 300milj. – so hul het totaal vrot gevaar laas jaar maar dit was nog positief! En nou gaan hul seker bonusse vir die groot koppe uitbetaal omdat hul so goed presteer het!
My som is: Die wins is 1/10 van die vorige jaar met 3% groei, so hul benodig 30% groei om wins op vorige jaar vlak te kry, daarom soek hul tarief verhogings van bo 30%. Dan was daar -0.8% minder verkope maar dit bekommer hul nie, die tariewe moet nog op!
Hoe kan hul wins maak as hul meer wil leen om bedryfsuitgawes te finansier? En vergelyk die syfers: hulle voorsien tot R150 000 milj meer skuld teenoor laas jaar se R671milj wins. WOW! In elk geval hou die winsverklaring net totdat hul aansoek doen vir tarief verhogings – dan kerm hul weer oor die reuse verliese.
Oor nog vyf jaar reken ek, hul moeilikheid gaan presies dubbel wees as wat dit nou is tensy die staat ‘n tweede Eskom stig (skei opwekking en distrubusie), wat in daardie geval net so vrot sal vaar en die probleem sal dan nogsteeds dubbeld wees.
Eskom versnel voort – in ‘n mynskag af!

Ingryp ·

Teen 2023 verbetering toon? Dit is nie goed genoeg nie! Iemand sal moet ingryp en drasties optree. Waarom word staatsinstellings anders as privaat maatskappye hanteer? As jy nie ‘n wins maak nie, moet iewers afgeskaal word of meer inkomste bekom word. Dis soos jou eie persoonlike begroting. Jy kan nie meer uitgee as wat jy het nie en jy kan ook nie die hele tyd net skuld maak nie. Iewers gaan jy jou rieme styfloop!

Alida ·

Kyk hoe sukkel die DA om die ou ANC stadrade se vergrype uit te sorteer. Dit vat maande selfs jare om die agterstand in te haal en om die “verdwene” geld op te spoor en te verhaal.

Veronica ·

Kan n slimjan asb vir hierdie dowwe dolla verduidelik hoekom ons,die verbruiker, nie ons kragrekeninge direk aan Eskom kan betaal nie? Sodoende word dan mos verseker dat die betalings wel direk by hulle uitkom en nie in iemand anders se diep sak beland nie!?

Knapie ·

Die antwoord is vorr die hand liggend: Dan kan die mislikipaliteite nie só baie skep nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.