Eskom dreig om kragtoevoer na Vrystaatse munisipaliteit op te skort

Argieffoto (Foto: Mujahid Safodien/AFP)

Die Tokologo- plaaslike munisipaliteit in die Vrystaat het nog geen van hul Eskom-rekeninge vir vanjaar betaal nie. Die laaste bedrag van R 150 000 is op 5 Oktober 2021 betaal.

Die munisipaliteit is in die Lejweleputswa-distrik geleë en bedien dorpe soos Boshof, Dealesville en Hertzogville.

Maroela Media het vroeër berig hierdie munisipaliteit is een van 16 munisipaliteite in die Vrystaat wat Eskom teen die einde van Augustus gesamentlik meer as R17 miljard geskuld het vir dienste gelewer. Dit is ’n reusagtige toename van die R2,6 miljard wat die munisipaliteite teen Augustus verlede jaar geskuld het.

Volgens Johann Steenkamp, DA-raadslid in die Tokologo- plaaslike munisipaliteit, het die munisipaliteit se Eskom-rekening tans met sowat R173 miljoen gegroei, van ʼn skuldlas van sowat R7,7 miljoen in Januarie 2016.

“Die totale betaling van 2016 tot op hede is 2 03% van die totale rekening. Voorafbetaalde krag staan by ʼn 100%-invordering en daar is geen rede waarom dit nie aan Eskom betaal kan word nie,” sê Steenkamp.

Die munisipaliteit maak gebruik van Ideal Prepaid Power, wat elektrisiteit in die gebied versprei, saam met Mafumu-konsultante wat namens die munisipaliteit werk. Hierdie entiteite verkoop elektrisiteitskoepons en vorder ook sakeondernemings se agterstallige skuld in en onderneem om Eskom te betaal.

Volgens Eskom is geen dispuut verklaar nie en was geen afbetalingsplan onderhandel nie.

“Eskom doen regstappe om die kragtoevoer op te skort. Dit sal lei tot ontwrigting vir die gemeenskap en sakelui aangesien hulle reeds onder druk is weens beurtkrag en swak infrastruktuur.”

Die DA het ʼn dringende versoek aan die waarnemende munisipale bestuurder, Mpho Sehloho, die burgemeester, Boitumelo Seakge, en die speaker, Mathe Gaebee, gerig om die situasie te bespreek en terugvoer aan die raad sowel as die gemeenskap te gee oor hoekom die munisipaliteit nog geen betalings vanjaar gemaak het nie.

Die DA het ook versoek dat die finansiële hoof, Thabo Matile, dringend terugvoer gee oor die situasie en dat diegene wat vir die wanbetaling verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pannies ·

Eskom moes die toevoer al n jaar gelede afgesny het.
Dis al manier hoe die Munisipaliteite finansieële verantwoordelikheid gaan leer.
Jammer vir al die kliente wat hul rekeninge betaal het en ook gaan ly.
Dis n pynlike proses, maar op die langtermyn beter.

Jack ·

As daar nie geld is nie is daar nie geld nie.Die kaders maak eers hulle eie sake vol met die bietjie wat daar nog is en dan kan die skuld maar maand na maand ophoop.Wie weet meskien sal ESKOM dit afskryf ? Die Vrystaat is vir alle praktiese doeleindes verlore tot die land eendag ‘n nuwe en bekwame regering kan kry.Maar soos met honderde ander probleme sal die heropbou van provinsies genereasies en dekades neem.

Flip ·

Ek sou verwag dat in die omstandighede wat ons nou is dat eskom n weeklikse verslag vir die onbevoegde anc regering gee wat hierdie uitwys sodat hulle die ander onbevoegde kaders wat die munisipaliteite se geld nie oorplaas na eskom nie aanpor om bietjie te betaal. Die krag is klaar n krisis soos dit is dan betaal sekere gebiede waar brdrog hoogty vier nie hul rekening nie. Die volgende stap is 36% verhoging sodat die wat wel betaal die ander kan “dra”

casper ·

Hoe kan dit !!
As ek 2 maande nie betaal nie is my krag af !!!!

Antie Sarie ·

Le beslag op hul bank rekening. Waarom onskuldige publiek straf vir iets wat die munisipaliteit gedoen het

Lillian ·

En die burgemeester van die distriks raad en sy gade woon en ry in weelde ..

Marcello ·

As hulle nie kan betaal nie, lê maar beslag op die Munisipaliteit se bates, dan sal hulle vinnig ‘n plan maak. Dit is die Munsipaliteit se verantwoordelik as mense nie betaal nie, om dit van hulle te verkry, so sal die mense wat wel hulle verpligtinge nakom aan die Muns., nie daar onder lei nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.