Eskom en die pad vorentoe

Die krisis by Eskom is van so aard dat, indien dit nie opgelos word nie, dit Suid-Afrika en sy ekonomie saam met die elektrisiteitsreus oor die afgrond kan laat stort.

Dit is die mening van kenners in die energiebedryf wat hierdie week met Maroela Media oor Eskom se uitdaging gesels het.

Eskom het nog nie weer beurtkrag ingestel sedert verlede week Donderdag nie, nadat Suid-Afrikaners vroeër die week vir die eerste keer in die geskiedenis met fase 4-beurtkrag te doen gekry het.

Dringende onderhoud benodig

Andrew Etzinger, senior algemene bestuurder vir aanvraag by Eskom, het in ʼn onderhoud met Cape Talk Radio erken die land se elektrisiteitsvoorsiener  ʼn fout gemaak het toe daar besluit is om onderhoudsonkoste te besnoei. Die geld wat vir opknappingswerk bedoel was, is glo gebruik om die Kusile en Medupi-kragsentrales te help bou.

“Onderhoudbesteding is oor die afgelope twee jaar teruggesny en dit het beslis ʼn impak gehad op ons vermoë om elektrisiteit te lewer. Ons het vyf kragsentrales wat nou 38 jaar oud is en die eenhede benodig ekstra sorg en aandag om die ligte aan te hou,” het Etzinger gesê.

Eskom het oor die afgelope vyf jaar glo sy besteding aan onderhoud met 50% ingekort weens finansiële tekortkominge.

Piet van Staden, ʼn voormalige voorsitter van die Energie-intensiewe Gebruikersgroep (EIUG), het gesê Eskom sukkel nou met verouderde infrastruktuur, wat dringende onderhoud benodig terwyl die twee “nuwe” kragstasies steeds sukkel om genoeg elektrisiteit te lewer ná 10 jaar en ongeveer R300 miljard se bouwerk. Medupi lewer tans net tussen 50% en 60% van sy kapasiteit en Kusile net 20%.

Van Staden glo om die agterstallige onderhoudwerk by van die ouer kragsentrales in te haal, minstens twee jaar sal verg.

“ ʼn Mens sal van ʼn kant af met goeie instandhoudingswerk moet begin. Eskom sal die regte vaardighede moet kry waar dit makeer en mense sal gemotiveer moet word om die ekstra myl te loop. Dit sal verder ook goeie leierskap verg om hierdie alles reg te kry. Eskom sal hom geleidelik uit die moeilikheid moet uitwerk.”

Argieffoto

Eskom se begroting klop net nie

Eskom se skuld beloop nou meer as R420 miljard en die kragvoorsiener stoei om selfs net die rente op die skuld te delg. Sy operasionele kostes vir 2017/18 was R132 miljard.

Munisipaliteite en Soweto se skuld aan Eskom beloop meer as R30 miljard. Die kragvoorsiener kry nie die skuld ingevorder nie en kan ook nie net die elektrisiteit afsny nie.

Eskom se verkope daal met 1% per jaar wat ʼn bose kringloop veroorsaak waar die kragvoorsiener tariewe moet verhoog, wat beteken verkope verminder verder omdat verbruikers weier om te betaal of sorg dat hulle onafhanklik van die netwerk word.

Korrupsie, wanbestuur en ʼn tekort aan steenkool het ook bygedra tot die probleme by Eskom.

“Eskom is tegnies insolvent. Hulle kan nie hul skuld afbetaal nie en Eskom se bedryfskostes is veel hoër as wat hul inkomste is

“Die finansiële en tegniese probleme, instandhouding van aanlegte en groot korrupsie het alles bygedra tot die toestand waarin Eskom homself nou bevind,” het Deon Reyneke, adjunk-hoofsekretaris van die energiebedryf by Solidariteit, gesê. Dié vakbond verteenwoordig tans sowat 7 000 van die kragvoorsiener se werknemers.

Reyneke meen Eskom se probleme het begin toe die kragvoorsiener van sy tegniese vaardighede ontslae geraak het om swart ekonomiese bemagtig slaafs na te volg.

“Dit het aanleiding gegee tot swak besluitneming omdat mense aangestel is wat nie altyd die nodige ondervinding gehad het nie. Ek weet van ʼn groep goeie ingenieurs wat weg is na die Filippyne waar hulle nou ʼn nuwe kragstasie bou omdat hulle eenvoudig nie die druk wat wanbestuur by Eskom veroorsaak het, verder kon uitstaan nie.

“Die reddingsboeie en selfs die lening wat Eskom by die Chinese ontvang het, verdwyn byna onmiddellik omdat die kragvoorsiener se skuld so enorm is.

“Solidariteit het Dinsdag bevestiging gekry dat Eskom slegs ʼn waarborg het vir finansiële bystand tot einde Maart. Die R15 miljard wat banke aan Eskom geleen het, sal dan op wees en geen verdere lenings sal dan toegestaan word nie.”

Van Staden verwag egter Tito Mboweni, minister van finansies, sal Woensdag ʼn belangrike aankondiging tydens sy begrotingsrede maak wat moontlik kan behels dat die staat sowat ʼn R100 miljard van Eskom se skuld op sy eie rekening sal oorneem.

“Nersa sal binnekort ook ʼn aankondiging maak oor die tariefverhogings. Ons behoort binne ʼn maand van nou ʼn goeie idee te hê waarheen Eskom se finansies op pad is.”

’n Argieffoto van Kusile-kragstasie. Foto: Khulu Pasiwe (Eskom), Twitter.

Die ontbondeling van Eskom

Reyneke het gesê dit sal drastiese stappe verg om Eskom te red. Hy glo ʼn stap in die regte rigting is die ontbondeling van Eskom in drie afsonderlike eenhede wat verantwoordelik sal wees vir kragopwekking (generasie), elektrisiteitsverspreiding (distribusie) en die netwerk (transmissie).

“Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het weer gesê ontbondeling beteken nie privatisering nie, maar daar sal ook moet gekyk word na privatisering en afleggings op die langer termyn.”

Reyneke meen as Eskom in kleiner eenhede afgebreek word kan daar maklik bepaal word watter divisie maak geld en kan buitelandse beleggers lok. Hy glo ook dit sal makliker wees om goeie finansiële bestuur by die kleiner eenhede toe te pas.

Van Staden meen ook die ontbondeling van Eskom is ʼn goeie besluit omdat die toekoms van elektrisiteitvoorsiening wêreldwyd besig is om te verander.

“Ek glo dit kan ʼn geleentheid bied om in die toekoms al meer hernieubare energiebronne by die plaaslike netwerk te betrek en steenkoolstasies op die lang termyn uit te faseer.

“Die idee is beslis nie om Eskom terug te vat na hoe kragvoorsiening in die 20ste eeu daaruit gesien het nie, want dit gaan anders lyk in die toekoms.”

pieterboth-substasie eskom

Argieffoto: Facebook

ʼn Databasis van ingenieurs

Teen Maandag was daar 220 ingenieurs, tegnici en goedgekwalifiseerde ambagslui wat geregistreer het op Solidariteit se databasis van kundiges wat die kragvoorsiener wil bystaan.

Solidariteit het die databasis aan Gordhan aangebied nadat die minister ʼn beroep gedoen het op kundiges om Eskom te ondersteun.

Reyneke het gesê dat hy glo die regering het dit nodig geag om Italiaanse ingenieurs se hulp by Eskom te betrek omdat van dié land se ingenieurs gehelp het om dele van Medupi en Kusile te ontwerp.

“Ek glo egter die minister wil ook graag Suid-Afrikaanse ingenieurs, wat tans in die buiteland werk, weer terugwerf omdat hulle juis nou in die lande wat Gordhan genoem het, werksaam is.”

Eskom is nou ernstig

Volgens Reyneke bestaan die voorstelle om Eskom te ontbondel reeds van 1999 af.

“Eskom was toe nog nie in ʼn krisis soos wat dit nou is nie en die krisis is werklik skrikwekkend. Ek dink die ministerie en vakbonde besef nou die ernstige aard van die probleme by die kragvoorsiener.”

Reyneke glo Suid-Afrika moet Eskom nou ʼn kans gee om sy sake reg te ruk.

“Eskom het nou nuwe bestuur en dit gaan moeilik wees om die vorige bestuur se finansiële gemors reg te ruk en dit sal nie oornag kan gebeur nie.”

Hy sê Suid-Afrikaners kan help deur hul eie elektrisiteitsverbruik te bestuur en krag te bespaar, asook korrupsie aan te meld.

Reyneke waarsku egter dat die land nog lank nie beurtkrag afgeskud het nie.

“Ek vermoed ons gaan weer ʼn tyd binne waar steenkool te nat sal wees om te verbrand en die wintermaande lê nog voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jerry ·

As Suid Afrikaners nie nou saamstaan en die regering dwing om Eskom te privatiseer nie, sal Eskom nie vorentoe privatiseer nie omrede privatisering nie deel is van die DNA van sosialisme nie!

MJ Kroezen ·

Geen ingeneur op julle data basis sal wil terug kom nie sodra hulle begin werk en bevele gee of aanbevelings maak sal hulle uitgeskel word as rassiste

Ai. ·

Reyneke glo Suid Afrika moet Eskdom nou n kans gee om……..om te wat Reyneke,hoeveel aandele het jy in die gemors van n skip wat nou vinnig sink?
Hoe kan besighedes in Suid Afrika hul produkte en produksie effektief hou met n diens wat naby aan n sirkus geval is?
Hoeveel het die elektrisiteit prys opgegaan in vergelyking met ander lande kom ons vat net die laaste tien jaar,hoekom so hoog so vinnig ? Hoekom moet die belasting betalers en krag betalers gestraf word vir vry ryers wat parasiteer in die maar net een geval so 30 miljard uitstaande in Soweto?
Hoeveel kanse het die lot nodig is dit nie miskien tyd vir meer as een kragvoorsiener wat die monopolie hou nie??? Dit is oor en oor bewys die lot is idee loos, hopeloos verby! Hoe kan Eksdom se probleme opgelos word wel kom ons dink bietjie……onderhoud kan dalk help,wat van hul gebruik van plaaslike ingeneurs….hmmmmm oe ja n helse probleem hul is mos te wit so die lot ploeter eerder voort met haat in hart en dryf die hele sisteem en land se ekonomie die grond in! Ja nee dit maak nou baie sin…Maar vra bietjie daardie hulpelose hardkoppige haat draende anti-wit lot wat hul plan is en jy sal sekerlik sien hul het nie een nie! Sorry Reyneke maar nog n kans? Mense as jul kan gaan gas, en solar selfs opwekkers maar die dieselfde lot gaan jou daar ok rook met belaglike petroleum pryse…Regtig pateties man!

Deon ·

Ai, Solidariteit het meer as 6,000 lede by Eskom. Indien 15,000 of meer mense afgedank word gaan dit katastrofies wees vir Solidariteit. Afleggings by Sasol, Transnet, Denel en myne en ander baie sektore in ‘n gehawende ekonomie gaan hulle verder seermaak. So, Solidariteit moet Eskom ook maar help red.

Tanya ·

Sa moet eers die skems vas trek. En 1 maatskapy kry om al die staads se geld te beheer. En niemand toelaat om acc te vat nie . En ook die Comtas niks gee nie sal hierdie land gered word anders gaan dit donker wees soos eskom.

ne ·

Nou kon hulle nog nie vasstel waar al die miljarde heen is nie? Skroef die mense wat daar gewerk het op en kyk of die geld verhaal kan word. Belastingbetalers kan nie skelms onderhou nie! Waar word die Zuptas betrek? Hulle kan maar terug betaal.

George in Boshof ·

Julle droom. Niks sal Eskom “regmaak” terwyl die spul narre van die ANC die septer swaai nie,absoluut niks want die HELE bestuur sal vervang moet word en selfs middelbestuur. Boonop sal duisende oorbodiges afbetaal moet word en miljarde se skuld ingevorder MOET word al beteken dit krag na Soweto moet gesny word. Verder sal blanke ingeneurs en middelbestuur teruggelok moet word om ordentelike bestuur en besigheidsbeginsels asook finansiele dissipline toe te pas en die korruptes moet tronk toe. GEEN van hierdie broodnodige maatreels sal onder hierdie patetiese ANC regering,wat self vrot van die korrupsie is,toegelaat word nie. Soos die Engelsman se “we can kiss Eskom goodbye”!

George in Bloem ·

Daar is baie planne wat Eskom sak kan red.Probleem is hulle is te wit en soos almal weet dra dit glad nie die ANC se goedkeuring weg nie. Boonop word ver te veel ANC kaders en familie lekker skatryk op die rug van hierdie asemrowende mislukking wat homself tans afspeel. Dis ‘n skreiende skade hoe die toekoms van miljoene op die altaar geplaas word ter verdere verrykking van ‘n paar reeds stinkryk korrupte ANC elites.

Scruffie ·

Na 94 het hulle mos gedink alles hou vir altyd en niks gedoen om die land se infrakstuur op te skerp nie so nou is die meeste in hul maai Escom SAL en so veel meer Sterkte ANC maar ek dink julle baklei teen donder weer

Ore ·

Kom ons maak eenvoudige somme.
Het Brian Molefe al sy onregmatige pensioen van R30m terugbetaal? Is daar bewyse?
Eskom se personeel het verdubbel en daarmee saam het die salaris rekening die hoogte ingeskiet.
Onproduktiewe personeel kry steeds bonusse
Indien munisipaliteite die hulle rekenings vereffen aan Eskom sal daar nie heeltyd verhogings gevra word en verskonings aangebied word waarom onderhoud nie gedoen kan word nie.
Indien elke plakkershut ‘n vaste bedrag van R50 pm betaal,sal daar oorgenoeg fondse vir Eskom wees om in bedryf te bly.Nee,moenie aanvoer plakkers leef swaar nie,elke plakkershut het ‘n DSTV skottel op.
Slim ouens dien nou op kommissies,verdien groot geld en geen aksie gaan plaasvind nie.
SA is die enigste land ter wereld waar 80% van die belastingbetalers nie vir die regerende party stem nie,kan dalk meer wees

Skrikwakker ·

Eskuus , gaan ver terug met ou nuus , jare terug selde storie, Eskom, SAA, ensv ensv. Tyd laat ons terug staan sodat al daai skippies finaal sink. Die appel is vrot vir te lank. Landswyd !!

Drikus Kotze ·

Vraag: Gaan elk van die drie ontbondelde eenhede met R140 miljard begin? Of wie gaan die R240 miljard terug betaal?

Judge Dredd ·

Minder krag gebruik? – Maar dan betaal ons ook minder geld.
Terwyl Eksdom se loon uitgawes nog dieselfde bly.

Maria ·

As jy in enige ander plek bly en nie betaal word jou krag gesny so hoekom mag soweto sin nie gesny almal moet onder dieselfde kan geskeer word

Stella ·

Eskom is maar net ook n Gubta geval net n ander naam,so duidellik soos daglig

Wat kan ek sê? ·

Jare gelede het die Weermag ‘n oefening geloods om die “ou” manne te probeer teruglok weermag toe. Dit was ‘n ophemeling van die persoon vermoeë en heuning smeerdery van ‘n ander wêreld. Op een van die briewe wat ek onder oë gehad het, het die persoon agterop die vormbrief die vieslikste kommentaar gemaak, geskryf in “mensmis”. Nodeloos om te sê, dit was ‘n totale, globale mislukking. Kan nie dink dat enige van die weggejaagde blankes sou belangstel om terug te kom Eskom toe nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.