Eskom-fluitjieblaser getuig oor ‘intimidasie, dreigemente’

Argieffoto: GCIS

ʼn Geskorste uitvoerende lid van Eskom het Woensdag aan LP’s verduidelik hoe hy geteiken, geïntimideer en gedreig is nadat hy ʼn “fluitjieblaser-verslag” saamgestel het wat handel oor kommer oor korrupsie by die kragvoorsiener.

Abram Masango, die geskorste uitvoerende direkteur van groepskapitaal by Eskom, getuig voor ʼn parlementêre ondersoek oor bewerings van staatskaping by Eskom. Masango het gesê hy het ʼn verslag oor wanadministrasie en korrupsie by die kragvoorsiener ingedien by die voormalige voorsitter, Ben Ngubane. Ngubane word in die voormalige openbare beskermer se verslag oor staatskaping deur die Gupta-familie geïmpliseer.

Die verslag is in Februarie verlede jaar ingedien. Masango het bygevoeg hy het nie verwag dat dit wat in die verslag was, die volgende maand tydens ʼn raadsvergadering bespreek sou word nie. Hy was onder die indruk dat hy die verslag vertroulik gedeel het.

“Ek het die verslag saamgestel en was nie bewus dat my lot bepaal sou word nie. My geloofwaardigheid en integriteit is gedaag, my pos is in gedrang gebring en ek het onveilig gevoel.”

Hy het ook getuig dat die voormalige uitvoerende direkteur vir kragopwekking, Matshela Koko, hom in Maart 2015 na ʼn vergadering genooi het by Melrose Arch in Johannesburg. Hy is tydens dié ontmoeting voorgestel aan Salim Essa, ʼn bekende bondgenoot van die Gupta-familie. Hy was “ongemaklik” toe Koko hom gevra het om sy selfoon te oorhandig.

Koko het hom glo tydens die vergadering meegedeel dat vier uitvoerende lede die volgende dag afgedank sal word. Dit sluit die voormalige waarnemende uitvoerende hoof Tshediso Matona, direkteur van finansies Tsholofelo Molefe, uitvoerende hoof van groepskapitaal Dan Marokane, en Koko self in.

“Mnr. Koko het daarna gesê die drie lede sal nie na hul poste by Eskom terugkeer nadat hulle geskors is nie, maar hy het my vertroulik meegedeel dat hy wel na dieselfde pos sal terugkeer.”

Koko het na sy amp teruggekeer. Die ander drie is egter afgedank en het goue handdrukke ontvang. Dit word wyd aanvaar dat hulle uitgeskuif is om plek te maak vir diegene wat gewillig sou wees om die weg te baan vir die Guptas.

Masango het gesê toe hy Essa ontmoet het, het hy nie geweet wie hy is nie, maar het intussen “die kolletjies verbind”.

Hy dink Koko is iemand wat net pligte uitvoer “en het waarskynlik opdragte gekry om uit te voer”.

Masango het ook getuig hoe hy ʼn paar keer agtervolg is en foto’s van hom geneem is. Hy het maatreëls in plek om sy gesin se veiligheid te verseker.

“Ek het nie onlangs iets gesien nie, maar die maatreëls wat ek in plek gestel het om myself en my gesin veilig te hou, is steeds in plek. Mense bel my – mense wat ek nie ken nie. Soms gee hulle voor om die polisie te wees en hulle wil my in hegtenis geneem… So dis wat ek deurgaan.”

Masango is in November verlede jaar geskors en hou vol die redes wat vir sy skorsing gegee is, naamlik “onverklaarde konflik van belange en algemene korrupte gedrag”, is vaag en hy het nog nie enige duidelik oor die aanklagte teen hom ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Thinus Erasmus ·

Lagwekkend: verskuif die blaam deur die onskuldige van die misdaad wat jy gepleeg het, te beskuldig en dan kan jy mos lekker detail verskaf. Jy weet presies wat gebeur het. En dan glo al die dommes jou en die ander word as politiese opertuniste afgemaak. Viva: African National Corruption & Gupta incorporated.

Justice ·

Die persoonlike prys wat fluitjieblasers moet betaal maak in meeste gevalle die kool die sous nie werd nie – dit begin met intimedasie, persoonlike finansiele onkostes wat uitendelik lei tot `n totale verlies van inkomste. Die spanning wat dit plaas op `n huwelik en persoonlike gesondheid is maar deel daarvan. Dit is maar `n klein gedeelte daarvan om `n fluitjieblaser te wees. Daar is absoluut geen meganisme in Suid Afrika om fluitjieblasers effektief te beskerm en / of te vergoed nie. Wanneer jy as fluitjieblaser optree teen `n geldmag is dit verstommend om te sien tot watter uiterstes daar teen jou as indivedu opgetree word. Dit word uit en uit `n langdurige toets van jou deursettingsvermoe en karakter. Fluitjieblasers bly steeds die mees effektiefste metode om bedrog en korrupsie met stawende feite te ontbloot.

Johan ·

Alhoewel daar wetgewing is wat fluitjieblasers behoort te beskerm, is daar blykbaar vele gebreke in die praktiese uitvoering.

Ek dink Ramaphosa kan gerus aandag gee aan praktiese dinge, soos om maatreels te skep by elke staatsdepartement wat werknemers in staat stel om WERKLIK ANONIEM klagtes onder die aandag van ‘n ONAFHANKLIKE instansie te bring. Daar sal sekerlik ‘n hoeveelheid “vals alarms” wees, maar uit die massa klagtes sal die werklik ernstige gevalle dan gouer uitgelig kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.