Eskom-fluitjieblaser Suzanne Daniels nog nie geskors nie

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Eskom het Vrydag bevestig dat hy die fluitjieblaser Suzanne Daniels met nuwe dissiplinêre aanklagte bedien het vir “ernstige wangedrag”, en haar daarna verhoed het om na die werk terug te keer.

Daniels, Eskom se hoof van regsake, het ʼn wipwaentjierit met die kragvoorsiener gehad nadat sy inligting onthul het oor haar vergaderings met die omstrede sakeman Ajay Gupta en hoe hy van voornemens was om sy invloed by Eskom uit te oefen en die kragvoorsiener te kaap.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het verlede week beslis dat Daniels se skorsing deur die vorige Eskom-raad onregverdig was en dat Eskom skuldig was aan onbillike arbeidspraktyk toe hy Daniels weer in Oktober en Desember verlede jaar wou skors.

Die KVBA het Daniels vyf maande se salaris as vergoeding toegeken en beveel dat sy volgende week Maandag mag terugkeer werk toe.

Eskom het Vrydag gesê hy respekteer dié uitspraak en het nog nie ʼn finale besluit gemaak of hy sy besluit of enige aspekte daarvan sal hersien nie. Eskom het bygevoeg die KVBA het nie enige uitspraak gemaak oor dissiplinêre aanklagte nie en dat dié aanklagte voortduur.

Daniels het verlede week nuwe dissiplinêre aanklagte ontvang wat verband hou met ernstige wangedrag wat betref die verspreiding van vertroulike inligting, skikking van die McKinsey/Trillian-saak en betalings wat aan McKinsey en Trillian gemaak as, asook haar betrokkenheid by die terugbetalings aan Optimum en Tegeta.

Eskom het gesê die nuwe raad benader die nuwe en bestaande aanklagte met ʼn vars uitkyk en sal in die belang van Eskom optree wanneer ernstige aanklagte van wangedrag deur enige werknemer onthul word.

“Gegewe haar posisie, die ernstige aard van die aanklagte en die voortgesette ondersoek, sal dit nie reg wees as me. Daniels in hierdie stadium na Eskom terugkeer nie. Sy is die afgelope week die kans gebied om redes te verskaf waarom sy nie geskors moet word nie. Sy het die dokumente ingedien en Eskom sal dit nou oorweeg. ʼn Besluit oor haar skorsing sal binne die volgende paar dae geneem word.”

Lees alle vorige berigte oor Suzanne Daniels op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Han ·

Diegene wat die waarheid praat, word vervolg. Solank jy lieg en bedrieg, is jy veilig in die werksituasie! God sien al hierdie ongeregtigheid.

Eps ·

Suzanne Daniels word nou geviktimiseer omdat sy teen korrupsie optree. Ek hoop die hope buegerregteorganisasies spring in om haar by te staan. Ons almal is iets aan haar verskuldig.

Hansie slim ·

Ek verstaan nie mooi nie, as sy ‘n “fluitjieblaser” was, behoort sy onskuldig te wees. Maar, dit lyk of sy, nieteenstaande, pelle van die Guptas was!!
Meng jou met die semels…

CHRISTA ·

Eskom is ‘n staatsinstansie wat deur ONS BELASTINGBETALERS befonds word. Hoe hulle ons belastings spandeer raak ons!! Hoekom moet hulle finansiële state verberg word? WAT het hulle om weg te steek? Is Ramaposa se belofte om bedrog uit te roei net ‘n liegstorie? HY moet baie gou hier ingryp!!!

J ·

Eskom het seker nog om weg te steek dat hulle bang is daar kom nog blikke wurms uit.

Sê net ·

Goeie paar jaar terug vir ñ wel bekende maatskapy gewerk. Fluitjie blasers was af gedank. Gedink dit was baie onregverdig. Hoekom die werkers aan moedig om misdaad te raporteer, maar dan word jy in die vark in die verhaal. Net daar besluit, as ek so iets sien, sal ek net maak of ek dit nie gesien het nie. Gaan nie my pensioen op gee vir ñ ander ou se nonsens nie. Gelukkig was ek nooit in daai situasie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.