Eskom gaan langnaweek woeker om krag te herstel

Eskom se Ingula-pompopgaarskema. (Foto: Eskom)

Eskom gaan die langnaweek gebruik om verskeie van sy eenhede wat gebreek of uitgeskop het, weer aanlyn te kry.

André de Ruyter, hoof van Eskom, het Donderdagoggend tydens ʼn inligtingsessie oor die stand van die netwerk gesê beplande instandhoudingswerk staan op 6 042 MW, terwyl algehele onbeplande herstelwerk beteken 14 180 MW is in hierdie stadium verlore vir die stelsel.

“Die vraag tydens spitstyd sal vanaand na verwagting heelwat laer wees, soortgelyk aan ʼn Vrydagaand, omdat dit die begin van ʼn langnaweek is,” sê De Ruyter.

Die vraag sal vanaand sowat 27 183 MW beloop, naastenby 2 000 MW minder as die vraag tydens Woensdagaand se spitstyd. Met die inwerkingstelling van fase 2-beurtkrag, behoort Eskom vanaand dus redelik gemaklik aan die vraag te kan voldoen.

Eskom is ook steeds op dreef om beurtkrag Vrydag om 05:00 op te skort.

“Ons sal die verwagte laer vraag wat gewoonlik oor ʼn langnaweek duur, gebruik om ons dieselreserwes op te vul en te verseker ons damme is so vol as moontlik,” sê De Ruyter. “Dit behoort ons in ʼn posisie te plaas waar ons reserwes voldoende is vir die begin van die week op Dinsdag.”

Weens die onvoorspelbare aard van die stelsel, is daar egter steeds risiko’s – en dit kan beteken dat beurtkrag moontlik wel tot in volgende week sal moet voortduur. Hulle doen alles moontlik om dit te verhoed, maar daar is geen waarborge nie, sê De Ruyter.

By die Ankerlig-kragsentrale word daar op diesel staatgemaak en tenkvlakke staan tans op 77%. Dit beteken 26 beskikbare ure, indien alle eenhede gebruik word.

By die Gourikwa-kragsentrale is die dieselvoorraad opgevul en die tenkvlak staan op 86,5%. Dit beteken 37 beskikbare ure.

Eskom se pomp-opgaarskemas is nog nie waar dit moet wees nie en dit sal nog 77 uur duur voor die boonste dam by die Drakensberg-pomp-opgaarskema volgepomp is. Dit is meer as wat hulle sou verkies, maar die langnaweek behoort minstens verligting te bring, sê De Ruyter.

By die Ingula-pomp-opgaarskema lyk sake effens beter, hoewel daar heelwat uitdagings weens die swaar reën in KwaZulu-Natal is. Die boonste en onderste damme is propvol en daar sal deur die loop van die naweek stelselmatig water uitgelaat word. Dit word baie gekontroleerd gedoen, sodat skade nie aan die Ingula-vleiland, wat tot erfenisgebied verklaar is, aangerig word nie.

“Ons doen alles moontlik om skade te voorkom en die water sal stadig vrygestel word,” sê De Ruyter.

By Gourikwa word vyf oopsiklus-gasturbines tans gebruik – nie ʼn ideale situasie vir dié tyd van die dag nie. Teen vanaand sal dit na verwagting na sewe turbines opgestoot word sodat daar in die spitstydaanvraag voldoen kan word.

Eenheid twee by Kusile het gisteraand uitgeskop en is in die vroeë oggendure weer aanlyn gebring. By Majuba se eenheid wek ʼn vibrasie op een van die turbines kommer en dit is van lyn af gehaal sodat ʼn inspeksie – en herstelwerk, indien nodig – gedoen kan word.

Camden se eenheid sewe is gisteraand weer aanlyn gebring, maar eenheid drie by die Kendal-kragsentrale het uitgeskop.

“Ons het sommige eenhede wat uitgeskop het, weer aanlyn gebring. Dus is die vooruitsig dat ons beurtkrag tot Vrydag om 05:00 sal volhou, waarna ons dit oor die langnaweek sal opskort indien alles volgens plan verloop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

VaalDonkie ·

My stiefpa het telkemale ook so vir my ma gese hy gaan welke naweek ophou drink en geweldadig raak. Maar dan is dit maar net weer so. Eskom is die hele land se stiefpa.

Wondermaarnet ·

Word julle personeel nie betaal om DAAGLIKS te woeker nie?

Willempie ·

ESKOM wil nou in een langnaweek doen wat hulle nog nie kon vermag in die afgelope paar jare nie.

marius ·

Is dit nie wat julle elke dag moet doen nie ? Of is dit nou ‘n oortyd inisiatief ?

Vossie ·

Vals hoop! Moenie dat die opskrif jou verlei nie. Eskom het jare nodig nie net ‘n naweek mie

SjN ·

Dubbele oortyd word dus betaal op die vakansie dae, as hul daagliks gewoeker het soos dit hoort, sou dit nie nodig gewees het nie.

AmY ·

Woeker: Jy moet met jou talente woeker. [Jou gawes so goed as moontlik gebruik.]
Sterkte ESKOM.

Christa ·

Woeker! Nou maar toe laat ons sien hoe dit eintlik gedoen moet word. Ek hou net nie my asem op nie! As julle nou mooi deur die werksplan werk soos beplan, dan kan die publiek ook baat vind daarby. Hoop dit gaan om die hondjie en nie die halsbandjie (moola) nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.