Eskom: Gee ons krag dié winter

Beurtkrag is nog lank nie iets van die verlede nie, maar Eskom hou voet by stuk die situasie gaan binnekort verbeter. (Foto: pixabay)

Eskom hou Suid-Afrika in die donker – nie net met die gewraakte beurtkragstelsel waaraan hy Suid-Afrikaners die afgelope week weer onderwerp het nie, maar ook met die ware stand van die kragnetwerk. Die onafhanklike energiekenner Ted Blom het vandeesweek opnuut gewaarsku dat Suid-Afrikaners hulle moet staal vir nog beurtkrag dié winter, ʼn waarskuwing wat Eskom die afgelope paar dae self herhaal het.

Met die winter op hande is mense toenemend bekommerd of Eskom die ligte – en verwarmers – kan help aanhou.

“Ons gaan beslis onderbroke beurtkrag tot aan die einde van die winter sien, indien nie langer nie,” sê Blom. Dit, sê Blom is hoofsaaklik omdat Eskom nie genoeg geld óf tyd het om behoorlike instandhoudingswerk te doen nie. In die winter is daar boonop ʼn verhoogde vraag na krag waaraan Eskom eenvoudig nie kan voldoen nie.

Gebrek aan instandhouding

(Foto: Eskom)

Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, het Suid-Afrikaners vroeër die onderneming gegee dat daar danksy instandhoudingwerk teen die einde van April ʼn verbetering in die kragsituasie gaan wees, met ʼn beduidende verbetering wat teen die einde van September verwag kan word.

Blom meen egter De Ruyter bou lugkastele.

Volgens hom benodig Eskom sowat R600 miljard en minstens vyf jaar om sy sukkelende kragsentrales weer goed geolie te kry – geld en tyd wat die kragvoorsiener nie eens naastenby het nie. Eskom se skuld beloop in hierdie stadium meer as R450 miljard.

Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, sê die instandhoudingsprogram moet die verouderende sentrales aan die gang hou. “Wanneer dit afgehandel is, sal die gevaar van beurtkrag teen die laaste kwartaal van die jaar afneem, maar nie heeltemal uit die weg geruim word nie.

“Die eerste groep eenhede wat aan die stelsel onttrek is vir beoogde instandhoudingswerk is teen laat April vanjaar weer in diens gestel.”

ʼn Tweede groep eenhede word nou aan diens onttrek, ook vir instandhoudingswerk.

Beurtkrag is verlede naweek op kort kennisgewing ingestel nadat tien opwekkingseenhede binne 24 uur meganiese probleme ondervind het.

Eskom hamer voortdurend op instandhoudingwerk wat jare lank agterweë gebly het – en wat hy nou probeer inhaal – asook oor die ouderdom van talle van sy kragsentrales.

Hoewel instandhoudingswerk inderdaad etlike jare lank nie gedoen is nie, het Eskom steeds in daardie tyd begroot daarvoor. Dié miljarde rande is oënskynlik skoonveld.

Blom sê egter dit is nie die volle storie nie.

Hy sê wêreldwyd word talle kragsentrales wat veel ouer is as dié van Eskom steeds suksesvol bedryf.

Weens die ouderdom van die kragsentrales is digitale diagramme en spesifikasies volgens hom nie geredelik beskikbaar nie en onderdele moet vervaardig word – ʼn proses wat maande lank kan duur. Dit is egter heeltemal doenbaar, mits die regte stappe gevolg word.

Volgens Blom is Eskom in hierdie stadium besig met ʼn “spoeg-en-plak-projek” wat instandhouding betref. Die kragvoorsiener steier boonop weens ʼn gebrek aan vaardighede: Óf omdat mense afgetree het, of omdat hulle Eskom vaarwel toegeroep het.

Steenkool van swak gehalte

Die Majuba-kragsentrale in Mpumalanga (Foto: Eskom)

Blom sê Eskom laat toe dat steenkool van swak gehalte gebruik word wat beduiende skade aan veral die ketels by kragsentrales aanrig.

Hy verduidelik dat die ketels die hoofskakel is in die omskakeling van energie van steenkool na stoom wat gebruik word om krag mee op te wek. Indien steenkool van swak gehalte dus gebruik word – en klippe byvoorbeeld in die stelsel beland – word groot skade aan die ketels aangerig wat die leeftyd daarvan beduidend verminder.

“Eskom koop steenkool by enige spazawinkel en doen nie gehalte beheer nie,” sê hy.

Wanneer elektrisiteit by ʼn steenkoolkragsentrale opgewek word, word die kole poeierfyn gemaak voordat dit met suurstof in die ketels ingeblaas word om te ontbrand. Suid-Afrika se steenkool is reeds nie van uitstekende gehalte nie en ontbrand stadiger, wat beteken wanneer die kole deur die skoorsteen gaan, is dit steeds besig om te ontbrand.

Weens ontwerpfoute is hierdie kwessie veral ʼn probleem by die Medupi- én Kusile-kragsentrale en aanpassings moes gedoen word om die probleem reg te stel.

Blom sê ook die meeste kragsentrales is gebou om nagenoeg 40 jaar lank gebruik te word, waarna die steenkoolbron daar naby gewoonlik uitgeput is. In Suid-Afrika se geval is talle kragsentrales reeds verby dié ouderdom en moet steenkool van oraloor aangekoop word om in die vraag te voldoen.

Verhoogde vraag in winter

Die grootste vraag na krag is tussen 17:00 en 21:00. (Foto: pixabay)

Mantshantsha sê weens die gebruiklike hoër vraag na krag in die winter verminder Eskom die hoeveelheid instandhoudingswerk wat in dié tyd gedoen word, juis om aan die groeiende behoefte aan krag te voldoen.

Suid-Afrika se winterspitstyd is tussen 17:00 en 21:00, met die hoogste vraag tussen 17:30 en 18:30.

Dit word toegeskryf aan verhoogde gebruik van vertrekverwarmers, geisers, swembadpompe en kombuistoerusting.

“Om die verskaffingskapasiteit tydens die winteraanvraag te handhaaf, het Eskom sy instandhoudingskedule aangepas sodat minder instandhouding gedoen word en meer kapasiteit beskikbaar is,” sê Mantshantsha.

Langtermyninstandhoudingswerk word egter voortgesit.

In dié tyd verlaag nywerhede hul gebruik sodat aan die vraag voldoen kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

casper ·

Die regering kan niks bou nie – net afbreek !!
Geen groot damme in die laaste 20 jaar – dan word gekla oor droogtes –2 absurde poging om krag sentrales te bou in 20 jaar — nou nog nie klaar nie.,.
Maar droom van smart cities en bullet treine so deur die dagga walms dit is reg ne !!

Marius ·

Die onderhoud wat tans op die kragsentrales gedoen word is maar baie oppervlakkig- met ander woorde ‘n spoeg en plak om die goed vir nou aan die gang te hou.

Vir ‘n langtermyn ommeswaai is daar veel groter en in diepte instandhoudingsprogramme nodig.

Die ommeswaai gaan begin by om die huidige werksmag almal af te dank en dan die wat wel die vaardigheid het aan te stel en die “ou Eskom manne” terug te bring.

Moeggeploeg ·

Raak ontslae van al die onwettige verbindings dan sal daar genoeg krag wees.
Daar sal ook genoeg fondse wees as almal betaal

Chris dupreez ·

Luister mnr Blom, André de Ruiter is nie n spoeg en plak mens nie, vir hom is dit belangrik dat dinge reg gedoen word, al trap hy op tone. Hy is n eerbare en opregte mens, en jy kan maar glo wat hy vir jou sê, hy is nie n kader of n politikus nie

Pietertjie ·

Die storie is altyd dat die kragstasies verouderd is en met onderhoud verg, maar Kusile en Medupi wat splinternuut is, gee ook moeilikheid! Hoe nou?

Persheks Adri ·

Kry net die verdomde krag reg dis bitter koud verby! Ons betaal immers vir dit… Probeer julle in die koue sit met ‘n nek en rug operasie en spasmas dan praat ons weer Eskom! Roer daai boude en kry rigting gou ook

Bushy ·

Kusile en Modupi sal die eerste kragsentrales word wat hul leeftyd sal bereik nog voor dit voltooi is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.