Eskom gekap tydens verhore oor tariefverhoging

Argieffoto

Die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut (Safcei) meen Eskom speel nie oop kaarte oor die koste ten einde sy vertroue op steenkoolkragaanlegte voort te sit nie.

Safcei se Liz McDaid het Maandag tydens ʼn openbare sitting van die nasionale energiereguleerder (Nersa) oor Eskom se jongste tariefaansoeke gesê sy glo die kragreus speel nie oop kaarte oor die koste van die opwekking van steenkoolgebaseerde krag nie, deur nie alle kostefaktore betrokke by sy aanlegte te verklaar nie in sy motivering vir ’n jaarlikse prysverhoging van 15%. In teenstelling hiermee word alle koste wat verband hou met hernubare energie op die tafel gelê.

McDaid het gesê te midde van kommer dat die kragreus kan misluk, met rampspoedige gevolge vir die ekonomie, moet daarop gelet word dat Eskom alreeds die meeste Suid-Afrikaners in die steek gelaat het. “Ek weet van huishoudings waar die stoof nou ʼn ornament is.”

Volgens McDaid sal dit oneerlik wees om Suid-Afrikaners te vra om verdere opofferings te maak om Eskom te laat voortgaan op die huidige manier op grond daarvan dat die korrupte bestuur vervang is en dit die maatskappy se ellende sal oplos. Sy het in stede daarvan versoek dat Eskom se bedrywighede heroorweeg moet word en gesê dat steenkoolaanlegte gesluit moet word en met ‘n netwerk van kleiner hernieubare kragaanlegte vervang moet word.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het tydens sy voorlegging gesê Eskom se bedrywighede is onvolhoubaar en die kragreus daarvan beskuldig dat hy effektief oopsiklus-gasturbines gebruik om die permanente minimumlas wat ’n kragtoevoerstelsel nodig het te lewer, teen groot koste vir die verbruiker.

Argieffoto: GCIS

Ronald Chauke, Outa se woordvoerder oor energie, het aangevoer dat Eskom nie tariefverhogings verdien nie en het gesê dit sal op liefdadigheid neerkom indien Nersa die verhogings toestaan. Hy het gesê Eskom moet maniere vind om koste te bespaar, insluitend ʼn vermindering in personeel en aktief ondersoek in te stel om vernietigende steenkoolooreenkomste te beëindig. “Die publiek moet nie die prys betaal vir Eskom se korrupsie en swak leierskap nie.”

Carl Opperman van Agri Wes-Kaap het gesê die verhogings wat Eskom versoek het, sal die provinsie se boerderygemeenskap verlam en voedselsekerheid in gedrang bring.

Eskom vra ʼn tariefverhoging van 15% vir 2019 tot 2021. Die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid het verlede week gesê dit is onwaar om te aanvaar dat dit oor drie jaar op ’n verhoging van 45% neerkom.

“Nersa het reeds ’n verhoging van 4,41% toegeken en wanneer ons dit by die 15% byvoeg, kyk ons reeds na ʼn verhoging van byna 20% in jaar een. Die volgende 15%-verhoging sal toegepas word op ’n tarief wat reeds verhoog is en die derde 15%-verhoging sal van toepassing wees op ’n tarief wat reeds twee keer toegeneem het sodat die totale verhoging oor drie jaar bykans 59% sal wees en nie die 45% wat berig is nie.”

Die verhore sal Dinsdag voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
remondo

hernubare energie is die antwoord

jaco

Meeste munisipaliteite wat geld vir Eskom skuld, word deur die ANC beheer. Eskom is n semi-staatsinstansie waarin die Staat, wat deur die ANC beheer word, die meerderheidsaandeel het. So eintlik skuld die ANC vir die ANC geld. hierdie probleem kan met ‘n uiters maklike administratiewe proses van niks langer as 1 week nie, opgelos wees. skryf eenvoudig die skuld af. Dis dan die ANC wat die vir die ANC skuld, so dis eintlik familie-politiek. Die ANC roem hulle so oor hulle alliansie met die SA Kommunistiese Party en oor al die steun wat hulle in die struggle jare kommunistiese lande… Lees meer »

Natascha

Laat alma lkrag betaa, .dan sal dit nie nodig wees om verhoging in tariewe te vra nie. Almal betaal nie krag. Daar is gebiede wat gratis krag kry. En die top bestuur kan op hou om hulself meer salarisse te betaal.
Ons as gewone burgers sukkel reeds om kop bo water te te hou. Wil hul nog ons brood geld ook vat???

Janine

Ag dankie tog! uitendelik staan iemand op en gee Eskom die vuishou in die bek!
dis so waar ek gebruik al vir 4 jaar nie meer my stoof ek’t ‘n 2 plaat gas stofie gekoop.
ons verarm elke liewe dag in die patetiese land, wens hulle kan die hele kabinet ook
herskep en “revamp”
dankie MM ons het weer hoop dalk kan ons die skoolgelde begin betaal

N Lourens Reitz

Die verhore is goed en daar word baie goeie vra gevra en NERSA is baie streng tydens hierdie verhore en tog kry Eskom nog elke keer wat hy gesoek het .? ?