Eskom: Guptas wil vrae vooraf sien

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Die parlementêre ondersoek na Eskom is Donderdag uitgestel tot Januarie volgende jaar met ʼn onderneming dat die Gupta-broers en Ben Martins, die adjunkminister van openbare ondernemings, in die nuwe jaar voor die ondersoekkomitee sal verskyn vir ondervraging.

In Martins se geval het die komitee besluit om hom te dagvaar om te kom getuig nadat hy ʼn brief gestuur het dat hy nie sal getuig nie, maar wel ʼn geskrewe verklaring sal maak.

Zukiswa Rantho, voorsitter van die ondersoek, het gesê dit is jammer dat medelede van die parlement nalaat om die parlement se werk te respekteer. “Nou sal ons hulle dagvaar en ons sal moet begin met ʼn lid van die parlement,” het sy gesê met verwysing na Martins, wat verlede maand deur die getuienis van Suzanne Daniels, geskorste hoof van Eskom se regsdienste, onder verdenking geplaas is.

Daniels het gesê Martins was saam met Duduzane Zuma toe sy deur Ajay Gupta gepols is oor die verhoordatums oor Eskom se pensioenbetaling aan die voormalige hoof, Brian Molefe. Martins het ontken dat hy teenwoordig was by die vergadering.

In ʼn brief aan die komitee het Martins gesê hy het net ʼn dag waarskuwing gekry dat hy moet getuig.

Prokureurs vir die Gupta-broers het in ʼn brief aan die komitee geskryf die broers sal nie beskikbaar wees om tussen 8 Desember en 15 Januarie voor die ondersoekkomitee te verskyn nie. Hulle het ook aangedring dat die vrae wat aan hulle gestel gaan word binne tien werksdae skriftelik aan hulle gestuur word.

Natasha Mazzone, die DA se woordvoerder van openbare ondernemings, het gesê sy verwag dat die broers op 16 Januarie voor die ondersoekkomitee sal verskyn en sien uit daarna. Die komitee het ook gevra dat Duduzane Zuma, ʼn aandeelhouer van die Gupta-familie se Tegeta Exploration, vir ondervraging moet verskyn.

Die geskorste hoof- finansiële beampte van Eskom, Anoj Singh, sal ook in Januarie getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chrisna Botha ·

Hulle wil seker genoeg tyd hê om hulle stories uit te dink. Sal verbaas wees as hulle wel aanmeld….

Ronel ·

Mag hulle aandring om die vrae vooraf te sien? Volgens my is dit bietjie arrogant?

Adam ·

Seker dat hulle vooraf uitgewerkte antwoorde kan verskaf Hulle moet juis nie weet watter vrae hulle gevra gaan word nie Hoor klaar hulle kan bewys hulle was nie daai tyd in die land nie

GAB ·

Ek stem. Vrae voor die tyd is so goed soos eksamen skryf met did antwoorde tot jou beskikking. Enige liegstorie kan opgemaak word om by die vrae te pas….

Blits ·

Al hoekom hulle die vrae vooraf wil sien is om lieg stories op te maak, nes die dat hy kamstig 8000km ver weg was tydens die vergadering.

Hulle moes al lankal voor die hof gedaag geword het maar nou word hulle arrogant en maak asof hulle verhewe is bo almal in sa en dit sluit ons grondwet en on wette in

Penellope Jones ·

O, seker om lekker leuenstories uit te werk wat perfek by the vrae pas!

Cor ·

Die Guptas sal nie genooi word vogende jaar nie. Die komitee voorsitter gaan ook herontplooi word, met n nuwe gekaapte voorsitter. Die nuwe pres. N DZ gaan al die ondersoeke staak. Daar sal dan ‘n sogenaamde ondersoek span aangestel word waarvan die name reeds vooraf gekies is in afwagting op die pres se aanstelling.

Rudie Thirion ·

Ben Martins is adjunk-minister van Openbare Ondernemings (Public Enterprises), nie Openbare Betrekkinge nie. Daar is nie so ‘n departement nie.

Mariné Lourens ·

Dagsê Rudie

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

PJC ·

Hierdie ouens is so seker dat hulle beskerm sal word deur JZ en sy luitenante daarom dat hulle so ń arrogante houding inslaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.