Eskom-hoës terug by werk

Argieffoto: GCIS

Eskom het Woensdag gesê Matshela Koko, die geskorste waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, en Prish Govender, die voormalige waarnemende hoof vir groepskapitaal, is weer in hulle poste aangestel ná hulle in ʼn dissiplinêre verhoor onskuldig op alle aanklagte teen hulle bevind is.

Khulu Phasiwe, woordvoerder van Eskom, het gesê die dissiplinêre verhore vir die hoofde was deursigtig en regverdig.

Phasiwe het gesê na afloop van die verhoor het die voorsitter van die verhoor die verslag aan Eskom se raad oorhandig op 15 Desember. “Hulle het dit gelees en die minister van openbare ondernemings [Lynne Brown] in kennis gestel hulle moet die inligting openbaar maak.”

Koko het ses aanklagte in die gesig gestaar, onder meer die beweerde versuim om ʼn konflik van belange te verklaar nadat die afdeling wat hy bestuur ʼn tender toegeken het aan die maatskappy waarin sy stiefdogter aandele het.

“In Desember 2017 het die Eskom-raad die finale verslag ontvang by die voorsitter van die verhoor. Die verhoor het hom onskuldig bevind en hy is effektief vanaf 2 Januarie heraangestel in sy pos,” het Phasiwe gesê.

“Die senior advokaat wat die aantyging van onbehoorlikheid in die McKinsey/Trillian-saak ondersoek het, het Prish Govender ook onskuldig bevind en hy is dus ook heraangestel in sy pos. Die ondersoek het onthul dat daar geen oortreding van Govender se kant af was nie, maar as daar enige gegriefde partye of individue is wat ander inligting het wat die raad nie in daardie stadium gehad het nie, kan hulle dit na vore bring.”

Eskom het sedertdien geëis dat die meer as R1,5 miljard wat onwettig sonder kontrakte aan McKinsey en Trillian betaal is terugbetaal word.

Volgens Phasiwe het Govender reeds weer aangemeld vir werk terwyl Koko volgende Maandag sal begin werk.

Phasiwe het gesê die publiek moet onthou dat daar ʼn parlementere ondersoek na Eskom se sake, insluitend sy steenkoolkontrakte en sy korporatiewe bestuur, is wat binnekort sal voortgaan.

Natasha Mazzone, die DA se woordvoerder vir openbare ondernemings, het Eskom daarvan beskuldig dat die kragvoorsiener iets probeer wegsteek oor Koko en Govender se heraanstellings omdat die maatskappy nog nie ʼn amptelike verklaring daaroor uitgereik het nie.

Die DA het verlede maand aanklagte teen Koko gebring omdat hy glo die Wet op openbare finansiële bestuur oortree het.

Die geskorste hoof- finansiële beampte van Eskom, Anoj Singh, moet nog in kennis gestel word wanneer hy voor die parlementere ondersoek moet verskyn. Dit kom ná hy LP’s die harnas in gejaag het deur ʼn dokument van 400 bladsye in te dien minder as 24 uur voordat hy voor die ondersoek oor die kragvoorsiener moes verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JOKER ·

Dit gebeur net met sekere mense in SA. As jy van enige ander afkoms of politieke siening is, sal jy tweede kom. Lekker in SA. Julle sogenaamde ondersoeke en die woord regverdig is nie die papier werd waarop dit geskryf staan nie. Maar natuurlik is dit net my mening. Kader ontplooiing en nepotisme is baie gewild in SA, en niemand word as gevolg daarvan vervolg nie, want ‘almal’ doen dit.

zoom zoom ·

Was dit n opdrag van bo wat hulle beveel het om geen tugstappe te neem of is hulle regtig onskuldig. Kan ons die dokumente te sien kru oor die verhoor

Blue Butterfly ·

Dit is totaal onaanvaarbaar en belaglik dat hulle weer in hulle poste aangestel is. Dit is tyd dat elke liewe korrupte hooggeplaasde strafregtelik aangekla word en behoorlik verhoor word. Indien skuldig moet hulle vir ‘n bitter lang tyd weggestuur word – maar nou ja dan sal die (alreeds oorvol) tronke uit hulle nate bare. Lyk vir my soos ‘n geval van “ek hou jou uit die tronk en jy hou my uit die tronk en so ry ons lekker saam op die gravy train”. Om van absoluut NAAR te word.

Chris ·

……en ons betaal vir die gelag met die hoë elektrisiteits tariewe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.