Eskom hof toe gevat om dorpe landwyd se krag aan te hou

Argieffoto: GCIS

Die sakeorganisasie Sakeliga en Eskom sal op 20 November in die hof wees oor elektrisiteitsonderbrekings in plaaslike gemeenskappe.

Sakeliga beoog om met hierdie regstappe beginsels neer te lê wat Eskom verhoed om, net omdat ’n plaaslike owerheid se rekeninge by Eskom agterstallig is, betalende gebruikers in daardie munisipaliteite se elektrisiteitsvoorsiening te onderbreek.

In die jongste geding, die vierde vanjaar, hervat Sakeliga sy regstappe teen Eskom in Musina, nadat die Musina-munisipaliteit nogmaals vanjaar in gebreke gebly het om die verskuldigde geld aan Eskom oor te betaal. Die optrede volg ná ’n kennisgewing deur Eskom op 2 November in Musina se plaaslike media dat Eskom beoog om vanaf 19 November elektrisiteitsvoorsiening aan Musina te onderbreek.

Piet le Roux, uitvoerende hoof, verduidelik Sakeliga se toetrede: “Sakeliga kan nie toelaat dat betalende elektrisiteitsverbruikers se krag afgesny word net omdat een arm van die staat, ’n plaaslike munisipaliteit, nie sy rekeninge aan ’n ander arm van die staat, Eskom, betaal nie. ’n Ekonomiese katastrofe ontvou in plaaslike gemeenskappe en boonop gaan plaaslike sakelui groot koste aan om die kragonderbrekings stop te sit. Sakeliga tree daarom met hierdie toetssaak in Musina toe in belang van plaaslike gemeenskappe en plaaslike ekonomieë landwyd.”

Sakeliga het intussen ’n ondersteuningsblad op sy webwerf beskikbaar gestel waar gemeenskapslede van dorpe wat deur soortgelyke probleme geraak word, die hofsaak teen Eskom oor kragonderbrekings kan steun.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Le Roux wys op die omvang van die probleem: “Meer as 20 dorpe verskyn tans op Eskom se lys vir beplande kragonderbrekings. En vandeesweek nog het Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, by die parlement verslag gelewer dat munisipale skuld aan Eskom vanjaar in ses maande van R13,6 miljard tot R17 miljard toegeneem het.

“Dít is ’n landwye krisis, en om die krag van plaaslike ekonomieë af te skakel, gaan nie die probleem oplos nie. Daarom tree Sakeliga toe om die nodige beginsels te vestig om ’n algemene, werkbare oplossing te vind.”

In sy jongste hofstukke versoek Sakeliga die hof om ’n dringende interdik toe te staan wat verklaar dat Eskom se besluit om elektrisiteit na Musina te onderbreek ongrondwetlik, onwettig en ongeldig is, Eskom se besluit tersyde gestel word, asook dat Eskom en die Musina-munisipaliteit nie hul verpligtinge nagekom het om die geskil oor skuld by te lê nie.

Sakeliga wil verder hê die hof moet gelas dat die respondente saamwerk om die probleem op te los en dat Eskom verbied word om kragonderbrekings te gebruik om die Musina-munisipaliteit te dwing om sy agterstallige skuld aan Eskom te betaal.

Dit is reeds die vierde keer vanjaar dat Sakeliga en Eskom in ʼn regsgeding teen mekaar betrokke is. “Eskom se besluit om elektrisiteitsvoorsiening aan Musina en ander plaaslike munisipaliteite te onderbreek is onaanvaarbaar. Dit is vir Eskom ’n gerieflike illusie om te maak asof munisipaliteite eenvoudig sy kliënte is en dat hy derhalwe by magte is om elektrisiteitsvoorsiening aan munisipaliteite met agterstallige skuld te onderbreek.

“In werklikheid is hierdie entiteite almal verskillende bene van die staat en onderhewig aan statutêre bepalings oor geskilbeslegting, al ignoreer Eskom dié bepalings geriefshalwe. Natuurlik moet munisipaliteite hul rekeninge aan Eskom betaal, maar ons voer aan dat betalende eindgebruikers nie belas kan word met interne koördinasieprobleme tussen verskillende vertakkings van die staat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Lerato ·

Jy sit met ‘n catch 22 situasie. Sny hulle die krag af ly die betalende inwoners van die dorp.

Sit hulle nie die krag af nie betaal ons wat elders bly hulle krag rekening dmv verhoogde tariewe.

Dries ·

Dis absoluut waar Lorato.
Wat my jare lank verstom is, in elke wanbetalende munisipaliteit, sit werkers wat maandeliks betaal word, wie se uitsluitlike werk di uitstuur van rekeninge, of die betaling van rekeninge is. Wat doen hulle n hele maand lank, om enige sallaris te regverdig?

aj ·

Eksdom sal jou swaar laat kry!

Verminder jou afhanklikheid van Eksdom se krag deur stelselmatig oor te skakel na alternatiewe kragbronne.

Klim af van die Eksdom netwerk … of gaan onder!!!

Grassie ·

Iets in hierdie hele opset maak nie vir my sin nie. Ek het simpatie met inwoners wat hul krag betaal, maar die munisipaliteit betaal dit nie oor aan Eskom nie. Maar Eskom is nie die vark in die verhaal nie, die munisipaliteit is. Regstappe moet teen die munisipaliteit geneem word. Die hof moet gevra word om die spul onder administrasie te plaas, ouditeure moet die aangeleentheid ondersoek, al die plunderaars en stelers en onbevoegdes moet geïdentifiseer en siviele sowel as kriminele stappe moet onmiddellik teen hul geneem word. As die hof besluit om bloot Eskom te belet om die krag af te sny kan die onbevoegde spul net lustig voort plunder onder die beskerming van ‘n onbillike hofbevél. Dit is duidelik dat die munisipaliteit en duisende nie-betalers hier skaamteloos parasiteer op die klompie arme drommels in die dorpsgebied wat net moet dinges en betaal.

Landi ·

Kan ons nie ons krag direk van Eskom kry, in stede van korrup munisipaliteit nie?

zoom zoom ·

Ek kan nie glo dat die betalende verbruikers nie ‘n klag kan lê by die Suid-Afrikaanse Polisie Sikus Om die burgermeester en Sy trawante Te dagvaar. Is dit deel van ‘n sekere politieke party om fondse te kry vir hulle stem kopery vir 2019

Henk ·

Die stadsrade stuur rekeninge uit met belaglike verhoogde tariewe vir eksdom krag aan hulle kliente. Die kliente moet betaal anders word hulle krag afgesit. Hulle gee dus valslik voor jy moet betaal want hulle benodig die geld om eksdom te betaal. En dan kry eksdom nooit hulle geld nie want die korrupte anc lede verryk hulself. Hulle pleeg derhalwe bedrog omrede daar wanvoorstellings is tot nadeel van die verbruiker EN eksdom. MAAR daar word nooit bedrog klagtes teen die stadsrade en hulle korrupte lede gemaak nie. Waarom nie? Dieselfde redes dalk waarom die zuptas nog nie gearresteer is nie? Omdat die anc en sy bestuur net so korrup is soos mugabe en sy party?

Boervrou ·

Doen eerder dmv die hof aansoek dat alle elek direk van Eskom af aangekoop word. Hoe kan Eskom bly voortgaan om krag aan kliente te verkoop wat nie betaal nie. As ons wat direk van Eskom af aankoop nie ons krag betaal nie word dit binne n week afgesny. Maar dan is dit net ons krag wat afgesny word en affekteer nie my buurman nie. As my klient my nie betaal nie skakel ek onmiddelik hom uit as my klient , maar nou wil julle n hofsaak maak dat Eskom nog steeds krag aan nie-betalende kliente moet voorsien. Dit is belaglik. Al wat gebeur is krag word al duurder en al minder betaal daarvoor maar ons wat voedsel moet voorsien moet maar die duur krag betaal.

Wonder maar net! ·

Die blaam lê by die regering wat die nie betalende publiek onder die indruk gebring het dat “toegang tot basiese dienste soos water,krag en ander dienste” beteken dat dit verniet is. Dit is nie duidelik gestel dat n mens moet betaal vir die gebruik daarvan.

DonkerAfriks ·

En so sit ons weereens in Pretoria oos sonder krag ……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.