Eskom-hoof onskuldig; binnekort weer op sy pos

Argieffoto: GCIS

Eskom het Dinsdag in ʼn verklaring bevestig dat Abram Masango, die geskorste uitvoerende direkteur van groepskapitaal by Eskom, onskuldig bevind is aan wangedrag.

Phakamani Hadebe, die waarnemende uitvoerende Eskom-hoof, sê Eskom wou regverdig wees en na alle bewerings teen sy geskorste hoofde kyk en nie die werknemers onderwerp aan dissiplinêre prosesse met voorafbepaalde uitkomste nie.

Hadebe sê daar is deur die hele proses verseker dat onafhanklikheid, openlikheid en regverdigheid seëvier.

“Eskom respekteer die uitkoms van die dissiplinêre proses teen Masango en sal binnekort ʼn datum onderhandel vir hom om terug te keer,” het Hadebe gesê.

Masango is in November verlede jaar geskors en het tot in Februarie vanjaar volgehou dat die redes wat vir sy skorsing gegee is, “onverklaarde konflik van belange en algemene korrupte gedrag” is.

Hy het vroeër verduidelik hoe hy geteiken, geïntimideer en gedreig is nadat hy ʼn “fluitjieblaser-verslag” saamgestel het wat handel oor kommer oor korrupsie by die kragvoorsiener.

Masango het gesê hy het ʼn verslag oor wanadministrasie en korrupsie by die kragvoorsiener ingedien by die voormalige voorsitter, Ben Ngubane. Ngubane word in die voormalige openbare beskermer se verslag oor staatskaping deur die Gupta-familie geïmpliseer.

Die verslag is in Februarie verlede jaar ingedien. Masango het bygevoeg hy het nie verwag dat dit wat in die verslag was, die volgende maand tydens ʼn raadsvergadering bespreek sou word nie. Hy was onder die indruk dat hy die verslag vertroulik gedeel het.

“Ek het die verslag saamgestel en was nie bewus dat my lot bepaal sou word nie. My geloofwaardigheid en integriteit is uitgedaag, my pos is in gedrang gebring en ek het onveilig gevoel.”