Eskom-hoof positief ondanks reuseskuld

Argieffoto: GCIS

Phakamani Hadebe, wat minder as twee weke gelede as Eskom se waarnemende hoof aangewys is, het Dinsdag tydens die bekendmaking van die kragreus se finansiële resultate vir sy halfjaar nie doekies omgedraai nie.

Hadebe het voor die bekendmaking van die finansiële resultate tot einde September 2017 gesê beduidende finansiële uitdagings staar die kragreus in die gesig. Volgens Hadebe kan dit toegeskryf word aan swak leierskap, ʼn gebrek aan korporatiewe bestuur en Eskom se balansstaat.

“Ons het ʼn stadium bereik waar dit duidelik geword het dat die volhoubaarheid van Eskom nie bereik kan word deur lenings nie.” Hy het gesê hulle het egter reeds met vier groot leners gesels om die kragreus met likiditeit te help. Die partye is wel positief oor die gebeure by Eskom, maar het versoek dat korrupsie hokgeslaan word.

Hadebe het gesê daar is met finansiële instansies vergader en hy glo Eskom sal die R20 miljard wat benodig word om die ligte aan te hou in sy bankrekening hê. Daar word onder meer gefokus op die aanstelling van ʼn groep- uitvoerende hoof en finansiële hoof. “Die raad hanteer ook die kwessie van uitvoerende beamptes wat beskuldig word van ernstige korrupsie en ander onbehoorlike dade.”

Hadebe is oortuig daarvan dat Eskom ʼn ommeswaai kan maak. Hy glo dat die uitdagings wat die kragreus in die gesig staar meestal toe te skryf is aan sekere enkelinge.

Calib Cassim, waarnemende finansiële hoof van Eskom, het intussen bekend gemaak dat Eskom se skuld tot R367 miljard gestyg het. Die kragvoorsiener se inkomste vir die ses maande tot einde September het tot R95,5 miljard gedaal.

Eskom se wins ná rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (Ebitda) het tot R30 miljard gedaal. Teen einde September 2016 was dit R32 miljard. Volgens Cassim kan die afname toegeskryf word aan die 2,2%-tariefverhoging en ʼn afname in verkope.

Eskom se netto wins ná belasting beloop R6 miljard. Teen einde September 2016 was dit R10 miljard. Die kragreus se likiede bates het van R30 miljard tot R6 miljard gedaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

367 miljard rand skuld is ‘n asem-intrek syfer maar met ‘n inkomste van 200 miljard in een jaar is dit kleingeld. Afname in verkope? Eskom het self gevra dat die publiek minder elektrisiteit koop.

John ·

Ja, ek glo goed hy is positief…. oor sy eie reuse salaris en droombonus as hy nie die pyp kan rook nie. Weet hy al hoeveel Eskom skuld of hoop hy Cyril het ‘n paar tassies vol $€£¥ uit Europa saamgebring?

bgj van der westhuizen ·

Eskom maak genoeg geld maar jy kan nie geld so mors soos hulle nie en as hy nie geld het nie dan moet jy in kort op goed en minder geld mors soos stoele vir baie geld aan koop

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.