Eskom in dispuut met Oracle gewikkel

(Argieffoto: pixabay)

Eskom het Maandag bevestig dat hy in ’n kontraktuele dispuut gewikkel is met die Suid-Afrikaanse arm van Oracle Corporation wat gekontrakteer is om ’n aantal tegniese dienste aan Eskom te verskaf.

Die sagtewarereus beskuldig Eskom daarvan dat hy hom te min betaal.

Luidens ’n verklaring deur Eskom het Oracle aanvanklik aangevoer dat die kragvoorsiener hom ongeveer R7,3 miljard te min vir sy dienste betaal het. Eskom het dié bedrag betwis en die bedrag is na bykans R400 miljoen verlaag.

Volgens Eskom skuld hy die sagtewarereus net sowat R166 miljoen en sal hy nié “geboelie” word om die geld te betaal nie.

Eskom het aangebied om die R166 miljoen te vereffen en ’n verifikasie- en hofproses voorgestel om die geskil “regtens en volhoubaar” op te los. Oracle het egter dié voorstel verwerp en gedreig om sy dienste aan Eskom te staak.

Eskom het dus die hooggeregshof genader om Oracle wesenlik te dwing om voort te gaan met die verskaffing van tegniese ondersteuningsdienste vir die duur van hul ooreenkoms tot April 2022.

Die hof het egter dié aansoek verlede week van die hand gewys. Eskom beoog nou om ’n aansoek om verlof tot appèl in te dien.

“Eskom vind die wyse waarop Oracle die aangeleentheid gehanteer het betreurenswaardig en wil die mense van Suid-Afrika daarvan verseker dat Eskom as entiteit wat met openbare fondse te doen het, alle wettige weë volg en nie geboelie sal word om enigsins geld buite die land se regsprosesse te betaal nie,” sê die kragvoorsiener in sy verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jack ·

Ek betwyfel of Eskom skoon handjies het en alles reg gedoen het.So as Oracle besluit om Eskom so bietjie te skud is dit dalk ‘n goeie ding.Soos SAA is Eskom reeds omgeslaan en moet nog net val.

Alet ·

Kyk ons praat nie eers van SAA na die debakel in België nie waar die loodse nie eers die sommetjies reg kon doen nie.

Yvonne ·

Hoekom boelie Eskom nie die mislikepaliteite om hulle skuld te betaal nie…hulle het reeds vir te lank weggekom met moord..die gebruiker wat betaal trek aan die korste end..skande op skande

DieKriek ·

As ek en jy in n dispuut met Eskom is, sny hulle eenvoudig ons krag af, al is dit Eskom se fout. Laat hulle eie medisyne kry. Ongelukkig sal ons daarvoor moet boet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.