Eskom-‘instandhoudingsfees’ dié naweek

Argieffoto

Argieffoto

Eskom het Woensdag in ʼn verklaring gesê hy is opgewonde oor ʼn groot “instandhoudingsfees” wat hierdie langnaweek sal plaasvind.

“Eskom gaan hierdie naweek ʼn groot instandhoudingsfees hou in ʼn poging om die prestasie en betroubaarheid van sy kragopwekkingseenhede te verbeter voor die verwagte spitstyd in die winter,” het Brian Molefe, waarnemende uitvoerende hoof, gesê.

Ongeveer 64% van Eskom se bestaande geïnstalleerde basislaaikragstasies is reeds in die middel van hul leeftyd en vereis langer kragonderbrekings en uitgebreide hersteltye as wat beplan is. “Hierdie instandhouding word betyds gedoen om te verhoed dat die toerusting nie breek nie en dus die vermoë, om betroubare elektrisiteittoevoer aan gebruikers te verskaf, verbeter.”

Volgens Molefe het Eskom se aanlegprestasie sedert Desember 2014 van 65% na 70% verbeter. “Dit is in lyn met die maatskappy se visie om 80% van sy aanlegte beskikbaar te stel, terwyl 10% beplande instandhouding gedoen word met 10% onbeplande instandhouding oor die volgende drie jaar.”

“Ons het ʼn instandhoudingsagterstand weens ooreenkomste om ‘die ligte aan te hou’ en dit het daartoe gelei dat die kragstasiebeskikbaarheid versleg het en dit het uiteindelik tot beurtkrag gelei,” het Molefe bygevoeg. Hy het verduidelik die stelsel benodig daagliks minstens ʼn bykomende 3 000 MW. “Ons benodig egter ʼn minimum van 3 000 MW en ʼn maksimum van 5 000 MW vir ʼn buffer aan óf die aanvraag na elektrisiteit of die verskaffing van elektrisiteit om die agterstand van tussen drie en vyf jaar in te haal en beurtkrag te verhoed.” Hy het gesê residensiële gebruikers kan die grootste verskil maak, aangesien die aanvraag gewoonlik in die aand toeneem.

Alhoewel daar na verwagting genoeg kragtoever beskikbaar is vir die aanvraag vir die grootste deel van die dag, kan die aanvraag in die winter tot 36 000 MW toeneem, veral tydens die kort spitstyd tussen 17:30 en 18:30. “Hierdie styging is hoofsaaklik te wyte aan die gebruik van elektriese verwarmers, geisers en mense wat in hierdie tyd kosmaak.”

Die winterseisoen sal na verwagting soortgelyk wees aan verlede jaar, maar die risiko neem gewoonlik skerp toe tydens uiterste kouefronte, veral wanneer dit tydens die week plaasvind. “Net soos die winter in 2013 sal kragopwekkingsinstandhouding ook in die winter plaasvind, maar sal in Junie afplat om ʼn volhoubare elektrisiteitstoevoer te bied.”

Eskom beplan om binne die volgende vyf jaar twee van die grootste steenkoolaanlegte in Afrika te bou teen ʼn geraamde koste van R280 miljard. “Sedert 2001 het ons 32 kragopwekkingseenhede bygevoeg en dit bring die bestaande aantal eenhede op 121 te staan.”

Eskom sal ook binne die volgende vyf jaar meer as 17 000 MW nuwe kapasiteit by die nasionale netwerk bygevoeg, 9 756 km nuwe kragdrade en 42 470 MVA van transmissieversterking. Altesaam 6 238 MW is glo reeds bygevoeg en 5 814 km kragdrade en 29 655 MVA is reeds geïnstalleer.

Molefe het bygevoeg Medupi Eenheid 6 is ook op 2 Maart 2015 suksesvol gesinchroniseer op die nasionale kragnetwerk en word tans getoets en geoptimaliseer om seker te maak dat dit by die kragnetwerk ingeskakel kan word. Medupi het ses eenhede wat elk 800 MW sal verskaf, dus 4 800 MW – 12% van Eskom se algehele kapasiteit. “Eskom doen alles in sy vermoë om seker te maak dat die afhandeling van die oorblywende vyf eenhede nie opgehou word weens tegniese- of arbeidskwessies nie.”

Sere-windplaas naby Vredendal in die Wes-Kaap het reeds op 31 Maart 2015 volle kommersiële kapasiteit bereik teen 100 MW. “Hierdie mylpaal is ook in lyn met Eskom se ooreenkoms wat betref tyd en koste en die resultaat van suksesvolle interaksie tussen Eskom en ons kontrakteurs.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Peet Schabort ·

Blaas hoog die kers se vlam.
Ek sien daar is ‘n voorstel komende van Eskom dat alle verbruikers direk aan hulle moet betaal.
Bravo!

anon ·

peet ek weeti wat di eskom nog beplan ni maar di beurt krag maak my somer vies eks n plaasjapi(vrou) gewoond aan als maar ja

Spokie ·

Ek wens ons kan kaartkrag installeer.dit sal wonderlik wees,maar hul doen dit nie op plase nie!dit steek my dwars in die krop dat hul plase op beurtkrag het wanneer dit donker is(snags)dis ‘n ideale teiken vir booswigte om hul gemene dade uit te voer!!hul is reeds nou so bedrywig hier in die Waterberg omgewing.groete.Spokie

Fred ·

Wat rook Eskom…dit is nie die publiek wat die probleem is nie maar industrielle instansies. Ry in die aande rond en kyk. Hoeveel kantoor blokke se ligte brand vir die spoke? Hoeveel fabrieke en ander werksplekke se ligte brand onnodig snags? Maar nee dit is die publiek se skuld.

Rene ·

En moenie vergeet van die straat ligte wat deur die dag onnodig brand nie. Daaraan word ook niks aan gedoen nie en dit is krag wat ons as belasting betalers ook moet betaal.

anon ·

spokie dit is so pikgat donker op di groot plaas veral as dit in di aande beurtkrag is

Annett ·

instandhoudingsfees … ek hoop net nie daar is drank betrokke by die fees nie …. dan gaan niks gedoen word nie …

Piet Pompies ·

Die berig dra baie meer positiewe feite as negatief, baie van die onbevoegde bestuurders is afgedank of geskors. Daar is tans ‘n goeie plan in plek om elektrisiteit voorsiening betroubaar te maak, dit gaan tyd neem met ongerief, maar die uiteinde gaan die beste wees. Manne, geniet die instandhoudingsfees!

Eish! ·

Vir my beteken dit net een ding: En dit is ‘n massiewe ” brainstorm ” om te kyk hoe en wat kan hul steel van die betalende gebruikers.
En die wat dink ons kragboks gebruikers, wat vooruit krag koop word nie geraak deur beurtkrag nie…..wow of jy al betaal het of nie, jou krag word afgesit.
Tog ek verstaan die plase se problem want in die dorp is dit al klaar pikdonker.

Stoere Boer ·

Fase 1 – 2 ure sonder krag, fase 2 – 3 ure sonder krag, fase 3 – 4 ure sonder krag en met fase 4 kom Eksdom na jou huis, blaas jou kerse dood en vat jou flits se batterye

Lawrance ·

Eskom rekeninge direk lewer aan klante. Dit sal nooit gebeur nie. Self voor 1994 het die inkomste van elektrieseteit by munisipaliteite ander afdelings gesubsideer. Die inkomste van water en ander is net eenvoudig te min. Die beste is, HULLE WEET DIT.

scalla ·

Ek dink dit is van al die feeste dat eskom nou in hul maai is,

Blondie ·

Kom aan ouens, gun die mense ook n paar langnaweke. Hoe dan anders, hulle moet ook rus. Werk dan soooo hard aan beurtkrag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.