Eskom is ʼn perfekte voorbeeld van staatskaping, sê SARK

Argieffoto: GCIS

Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) het aan die parlement gesê Eskom verteenwoordig die perfekte voorbeeld van staatskaping en dat die geestelikes ʼn omstrede kernkragaanleg ter waarde van R1 biljoen (“trillion”) teenstaan.

Biskop Malusi Mpumlwana, algemene sekretaris van SARK, het gesê staatskaping is ʼn goed ontwerpte plan om bates van die staat te stroop deur ʼn korrupte kliek wat besig is om staatsbeheerde ondernemings laat verswak.

Mpumlwana het met LP’s van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings vergadering oor die inhoud van die SARK se eie verslag wat wys hoe pres. Jacob Zuma, sommige kabinetministers en beamptes van staatsbeheerde ondernemings na bewering die plundery gefasiliteer het tot voordeel van Zuma se seun Duduzane en die Gupta-familie.

“Eskom is die perfekte voorbeeld van staatskaping. [Voormalige uitvoerende hoof van Eskom] Brian Molefe en [hoof finansiële beampte van Eskom] Anoj Singh is albei vanaf Transnet herontplooi,” het Mpumlwana gesê. “Dit is duidelik dat daar ʼn mafia-agtige beheer van staatsbeheerde ondernemings is deur ʼn elite wat draai om die president, en die bates van die staat word sistematies geplunder en enige moontlike doeltreffende manier van wetstoepassing word afgestomp.

“Dit is duidelik dat die probleem groter is as korrupsie. Dit is ʼn grootskaalse ontwerp vir die mafia-agtige beheer van openbare ondernemings en ander beduidende regeringsagentskappe en staatsliggame.”

Mpumlwana het gesê hul verslag het begin toe die SARK se nasionale konferensie ʼn “Unburdening Panel Process” in April 2016 begin het vir enigiemand wat wou bely hoe hulle deur hoëprofielpersone onder druk geplaas is om korrup te wees in ruil vir ʼn bevordering, ʼn aantreklike posisie of geld of enige ander guns.

“Ons het inderdaad ʼn aantal beamptes gehad wat onder druk geplaas is om onbehoorlik fondse aan te wend vir sekere aktiwiteite wat niks te doen het met die werk en doel van die begroting nie,” het Mpumlwana verduidelik. “Daar is persone wat onder druk geplaas is om tenderprosesse te ontwrig ten gunste van sekere maatskappye en individue, of om reëls te buig vir ʼn spesifieke uitslag.”

Hy het gesê die verrotting in staatskaping is groter as Eskom en dit is selfs op provinsiale en plaaslikeregeringsvlak.

“Die verrotting is groter as staatsbeheerde ondernemings en ander staatsliggame. Dit het ʼn kankeragtige uitwerking. Diegene wat die Grondwet wil onderhou, word uitgeskuif. Ervare en toegewyde professionele persone word uitgeroei en vervang deur diegene wat nie in die belang van die land optree nie.

“Daar word baie gefokus daarop om onthullings oor dit wat op ʼn nasionale vlak gebeur, te ontwrig met kleurvolle e-posse wat die openbare belang aanwakker, maar ons weet daar gebeur baie meer op ʼn plaaslike en provinsiale vlak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

popeye ·

Ha…die Zumptas het daai. 25 basis punte van die repokoers ook gevat. Dis eintlik tragies dat ons sulke grappe moet maak en toekyk hoe korrupsie net aangaan en aangaan en…

Bessie ·

Lankal tyd dat SA se KERKE ingrype en ANC n goeie pak slae gee.

Arie ·

Is die hele anc verhewe bo die wet? Nog niemand is in hegtenis geneem vir staatskaping nie

Cherokee ·

Tale is veranderlik en hou aan met groei. Nuwe woorde word geskep en ouer weergawes verdwyn. Dit word egter bevraagteken wanneer feitelike woorde soos bv lieg uitgespreek word as jok om dit minder ernstig te laat klink. Die nuutste wat opgeduik het is staatskaping wat in ‘n kort rukkie (byna) net so bekend geword as die woord apartheid. Dit is soos lieg en jok wat dieselfde ding is terwyl die sagter weergawe minder ernstig klink. Waarom staatgreep verander is in staatskaping sal niemand weet maar dit is steeds ‘n staatsgreep en niks anders.

Nee ·

Die woord lieg is nie ‘n sagter weergawe vir jok nie. Dis eintlik die meer onaangename woord om te gebruik.

John ·

… en niemand wil of mag erken by wie en waar hierdie staatsgreep begin het nie. 23 jaar gelede het mense hulle begin ingewurm in hogere plekke deur kamma hulp en raad te verleen soos om toesprake te skryf en finansies te bestuur… As ons leiers nie ons geldsake in veilige hande plaas nie is dit ‘tickets’ met ons.

Kosie Kramer ·

Dis nie net staat-/provinsiale-/munisipale-instansies nie…dit gebeur in ons eie midde…daar waar jy dit die minste verwag, deesdae. Jou eie mense!
Pasop WIE jy vertrou.

Johann Marx ·

Waarom kan ek nie ook ongesiens ‘n vinnige R30 miljoen êrens vaslê nie? Ek is so gestraf met hierdie “gewete” besigheid dis nie eers snaaks nie.

Riaan ·

Mpumlwana openbaar baie goeie insig in hierdie sake. Ek wens so dat die algemene publiek wat so aanhou anc stem dit sal besef. Dis asof hulle net dink die probleem is zuma maar die werklike probleem is die anc self.

Cacophony ·

Politiek en geloof word weer vermeng. Het die kerke dan nie lesse geleer uit die apartheidsjare nie?

Pietie ·

Hierdie korrupsie benadeel die gebruiker van elektrisiteit wat ten duurste moet betaal. Eskom en die ANC staatskapers gaan stellig na niemand luister nie. Wat van ‘n veldtog teen die betaling van verhogings, soos bv ‘n landswye petisie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.