Eskom is van buite Eskom bestuur, sê Mabuza

Jabulani Mabuza, raadsvoorsitter van Eskom (Foto: Nhlanhla Phillips/African News Agency/ANA)

Jabulani Mabuza, voorsitter van Eskom, het Maandag aan die Zondo-kommissie gesê belangrike besluite oor die kragvoorsiener is geneem deur mense wat nie binne die aangestelde strukture gestaan het nie.

Mabuza het getuig hoe Gupta-verwante individue opdragte aan uitvoerende lede van Eskom gestuur het oor waarborge en steenkoolkontrake. Hy het gesê die raad het tot die gevolgtrekking gekom dat Eskom in 2015 van buite sy kantoor bestuur is. “Buitestanders het besluit wat gedoen moet word. Hulle het besluite geneem en dit deurgestuur en dit op Eskom se briefhoof geplaas of dit aan die raad voorgehou en die raad het dit goedgekeur waarna dit ʼn Eskom-besluit geword het,” het hy verduidelik. “Eskom is van buite Eskom bestuur.”

Mabuza het vroeër sy bewering benadruk dat e-posse, wat van die voormalige uitvoerende hoof Matshela Koko se bediener bekom is, aangedui het dat Eskom se vertroulike dokumente in 2015 na die e-posadresse gestuur is wat met Salim Essa verbind word. Essa is na bewering ʼn vennoot van die omstrede Gupta-familie wat in staatskaping geïmpliseer word.

Mabuza het ʼn e-pos aan die kommissie voorgelees, na bewering van Koko, oor ʼn Round Robin-resolusie deur die voormalige raad waar ʼn Eskom-waarborg van R1,6 miljard vir die Guptas se Optimum-steenkoolmyn in 2015 voorgestel word. Die resolusie, wat as ʼn Eskom-besluit voorgehou is, het aangedui wat Eskom met ʼn myn moet doen wat die Gupta-familie by Gencore wou aankoop.

Mabuza het gesê ʼn eksterne maatskappy, Regiments Capital, het die resolusie saamgestel om dieselfde dienste aan Eskom te verskaf. Regiments, McKinsey en Trillian het R1,5 miljard ontvang vir kontrakte wat tussen 2012 en 2016 toegeken is; ten spyte daarvan dat stawende dokumente nooit ontvang is nie.

Mabuza het ook ʼn e-pos aan die kommissie voorgehou van die voormalige uitvoerende hoof van die Gupta-beheerde Oakbay Resources, Nazeem Howa, aan die voormalige hoof van regsdienste, Suzanne Daniels, oor die steenkoolkontrak met Optimum Coal wat Daniels na bewering op ʼn Eskom-briefhoof geplaas het.

Ander e-posse het ook die voormalige finansiële hoof van Eskom, Anoj Singh, verbind met bewerings dat vertroulike Eskom-dokumente aan Regiments se uitvoerende hoof, Eric Wood, uitgelek is en vice versa waar Wood bankbesonderhede van die Gupta-beheerde Tegeta Resources vir Singh aangestuur het.

Mabuza het gesê Eskom het vier klagtes teen Koko aanhangig gemaak, onder andere dat hy vir die parlement gejok het en dat hy vertroulike inligting aan Essa verskaf het.

Mabuza het gesê Eskom het drie klagtes teen Daniels aanhangig gemaak, onder andere dat sy e-posse aan Essa gestuur het, haar rol in die McKinsey-saak en Optimum Coal, en dat sy R800 000 in regskoste aan die voormalige raadsvoorsitter Ben Ngubane oorbetaal het vir sy verhore by die SAUK.

Die kommissie het verdaag ná Mabuza se getuienis. Die kommissie hervat Dinsdag, maar die volgende getuie se naam is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Alida ·

En die destydse afjunk pres het van NIKS geweet nie. See no evil hear no evil speak no evil! Ai tog party van ons het grysstof

willie ·

Dit het tyd geword dat die verantwoordelikes pa staan vir hul dade en daadwerklik vervolg word, ongeag titel en posisie! Die skade is onberekenbaar!

Hennie ·

So moet ons Eskom nou jammer kry? Sit af die krag laat ons die ding nou vir eens en altyd uitsort.

Viva ·

Goed en wel, wanneer vind die eerste arrestasies plaas…….

Se maar net ·

Uitstekende draaiboek vir n fiksie rolprent net jammer dit het werklik in Suid Afrika gebeur.

marco polo ·

In enige normale land sal hierdie stories HOOGVERRAAD wees. In SA word dit net berig, kommissie van ondersoek ingestel, en dan gebeur niks verder nie.

Johanna Botha ·

Ja van buite en binne so waneer gaan iemand tronk toe ….NIKS gebeur nie ! !

BlinkStephaans ·

Mabuza trek nou maar ñ Agrizzi op jouself en noem hulle op die naam… ek weet daar is nog baie wat jy kan vertel… ons weet nog steeds nie of enigiets met enige iemand gaan gebeur… maar tenminste is dit uit in die lig. Jou lys van stelers en delers is langer as wat jy vir ons vertel.

Manie ·

Na al die baie stories van Eskom het niemand nog nie oranje pakkie gekry. Die anc het gekom om SA en Afrika te plunder

JJP ·

Net n paar vrae. Wie was die ouditeure? Hule het verseker nie hulle werk gedoen nie en of was hulle bang hulle gaan die oudit in die toekoms verloor? Die Oudit professie het net so verswak die afgelope 24 jaar.

Tammy ·

Die hele staatskapingondersoek maak my naar, hoekom word die Guptas nie na SA terug gebring om te kom getuig nie?? Hoekom het Gavin Watson en vele ander nognie voor die Zondo kommisie verskyn nie? Is daar van hierdie uitverkorenes wat bietjie grasie kry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.