Eskom: Jy spring dalk vandag beurtkrag vry

Argieffoto

Die kragvoorsiener Eskom sê Suid-Afrikaners kan moontlik Saterdag beurtkrag vryspring.

Eskom sê die geringe waarskynlikheid vir beurtkrag Saterdag is te danke aan talle kragopwekkers wat weer in plek gestel is.

“Ons gaan voort om huise én ondernemings te vra om krag spaarsamig te gebruik deur onder meer hul geisers gedurende die dag af te skakel – veral in spitstye tussen 07:00 en 10:00 asook tussen 18:00 en 21:00. Dis ook belangrik om nienoodsaaklike beligting en ander toestelle wat met elektrisiteit werk in dié tye af te skakel,” lui ʼn verklaring van die kragvoorsiener.

Indien beurtkrag wél noodsaaklik is, sal Eskom en munisipaliteite gebruik maak van die amptelike beurtkragskedule. Hierdie skedule is beskikbaar op die Eskom-webwerf.

Beurtkrag het verlede week sy onwelkome terugkeer gemaak nadat protesaksies en sabotasie by Eskom se kragstasies en streekskantore die nasionale kragnetwerk onder druk geplaas het. Eskom het toe gesê die kragnetwerk sal tot tien dae neem om ten volle te herstel.

Eskom-werknemers van die vakbonde Solidariteit, NUM en Numsa eis dat die kragvoorsiener salarisverhogings toestaan, maar Eskom het vroeër ʼn 0% salarisverhoging aangebied en aangevoer sy benarde finansiële posisie laat hom nie toe om enige verhogings aan te bied nie.

Vakbonde eis salarisverhogings van tussen 9% en 15%, asook ander voordele soos onder meer ʼn R2 000 behuisingsubsidie. Lede van NUM en Numsa het verlede week begin staak en betoog nadat Eskom geweier het om verder te onderhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

marous ·

Waarom moet diegene wat deur hul ore betaal enigsins dankbaar wees hiervoor? Eskom is veronderstel om elektrisiteit verniet te verskaf vir al die skade en ongerief wat hulle veroorsaak.

Selfbeskikking ·

As ons vir selfbeskikking onderhandel, en ons kan, sal kragbetroubaarheid vanselfsprekend wees.

Jem ·

Wil net se dat munisipaliteite ook skuld moet dra. Daar is baie areas waar straatligte dag en nag brand. Onwettige koneksies is ook n groot probleem wat nooit aangespreek word of teen opgetree word nie.

ferdi ·

Sny di krag af vir eens en vir altyd en kry kla hou op om vrees by di publiek in te jaag

AD ·

Ek stem saam. Dit voel of mens heeltyd gyselaar gehou word. Heeltyd getart word.

Dries ·

Het kort gelede verby Garankuwa gery, die mas ligte brand helder oordag. Een mas lig gebruik vier gloeilampe teen 1000 watt per gloeilamp.

jaco ·

Vreemd dat so baie wit mense op Maroela kla oor die beurtkrag, maar niemand kritiseer die wit Solidariteit vir hulle deelname aan die Eskom-staking nie.
Julle wat so droom van selfbeskikking moet net onthou, daardie stakers van solidariteit gaan dan saam na julle tuisland toe en sodra hulle daar nie hulle sin kry met werksomstandighede en salarisse nie, dan staal hulle weer. So dan sal julle wit tuisland ook maar deur julle eie mense ontwrig word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.