Eskom koester ook e-motor-droom

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Terwyl hoë fases beurtkrag voortduur, was Eskom een van die plaaslike borge van die afgelope naweek se E-Fest in Kaapstad met ’n borgskap van R2,1 miljoen.

Die sukkelende kragverskaffer droom boonop daarvan om sy hele vloot van 13 000 voertuie teen 2040 met elektriese voertuie te vervang.

Eskom het die naweek bekend gemaak dat hy reeds die heffingstarief van residensiële tyd-van-gebruik (ToU) vir goedkeuring by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ingedien het. Sou dit goedgekeur word, sal die eienaars van elektriese motors aansienlik baie spaar wanneer hulle hul motors buite spitstyd laai.

Eskom is vuur en vlam oor die ontwikkeling van die elektriese mobiliteitsektor in Suid-Afrika en het selfs ter ondersteuning van die ontwikkeling belowe om deel te wees van die ankermark vir elektriese voertuie.

Die kragvoorsiener het die naweek bekend gemaak dat hy reeds ’n projek van stapel gestuur het om elektriese voertuie aan sy vloot bekend te stel. Eskom sal binnekort op die uitkyk wees vir geskikte vennote wat openbare laaistasies op Eskom-terreine oor die hele land kan oprig.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die energie-ekonoom Lungile Mashele sê egter nou Eskom se borgskap van E-Fest en planne met die verkryging van elektriese motors getuig van swak smaak gegewe die tydsberekening daarvan.

Beurtkrag duur nou al maande lank met fases so hoog soos 6 wat die afgelope paar weke geld. Daar is ook geen aanduiding dat beurtkrag binnekort iets van die verlede gaan wees nie.

Mashele sê egter ook dat Eskom saam met die Nissan Leaf een van die vroeë pioniers van elektriese voertuie in Suid-Afrika was en lankal dié aspirasies het.

“Eskom glo dat elektriese motors inderwaarheid elektrisiteit aan die netwerk kan terugploeg, veral tydens spitstye.” Maroela Media het vroeër berig oor elektriese vragmotors wat in spitstye gebruik kan word om krag terug in die stelsel te plaas, en te laai wanneer die vraag na krag uiters laag is. Dit is danksy ’n nuwe tegnologie, genaamd V to G (vehicle to grid).

Mashele sê gegewe die feit dat EU-lande teen 2030 slegs elektriese voertuie wil invoer, is daar ’n groot gaping in Suid-Afrika se motorvervaardigingsmark wat Eskom nou ooweeg om te vul. Dit wil hulle onder meer doen deur navorsing oor die volhoubaarheid van elektriese motors in die land, asook die ontwikkeling van volhoubare laai-infrastruktuur, verduidelik Mashele.

Eskom is ook besig om mikronetwerke te ontplooi wat die groei van e-mobiliteit in die land sal ondersteun. Die elektrisiteitsvoorsiener het tans vier terreine wat deur die mikronetwerktegnologie aangedryf word, waaronder ’n terrein in Ficksburg in die Vrystaat en Lynedoch in die Wes-Kaap.

Eskom sê dié terreine verskaf hernubare elektrisiteit aan meer as 200 huishoudings, ’n polisiestasie en ondernemings in die gebiede.

Die meeste van die geïdentifiseerde terreine sal fotovoltaïese sonkrag (PV) as die primêre bron van energie gebruik en litiumioonbatterye vir bergingsvermoë. Ander terreine sal mikro-windturbines en kleinskaalse hidroturbines gebruik.

Hierdie projekte sal oor die volgende vyf jaar van stapel gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Martie Smartie ·

Vader behoede ons. Dis soos Jannie wat droom van sy eie kar en nie eens fiets kan ry nie

Blomkind ·

Wat n grap…Liewe aarde…Kom by…Ek gaan altyd in die moeilikheid wees want my kar gaan nooit gelaai kan word nie want daar is nie krag nie…Ag asseblief tog…

Burgermeester ·

So as ESKOM hulle hele vloot met e-voertuie vervang, gaan hulle diensverskaffings kapasiteit nog verder agteruit gaan. Daar is nie eers genoeg krag om aan basiese krag vereistes te voldoen nie, so alle e-voertuie gaan net staan en stof opgaar.

Johann ·

Net nog bewys dat “ESKOM” totaal verwyderd is van wat rerig in SA aangaan. SKANDE!!!!!

Prikkie ·

Lees ek korrek? Eskom borg R2.1 miljoen aan ‘n E-fest?? Met geld wat hulle waar kry??

Hier is nie eers genoeg krag vir wonings nie, wat nog te sê vir elektriese motors.

Wie het daardie borgskap goedgekeur?

Amelia ·

Geld om te mors maar nie vir herstel werk Gaan die krag tot dan 2040 hou nee wat ek glo nie op einde van dag GEEN krag vir niemand en wat gaan hul dan met hul e-karrethjies maak stoot

Koos 100 ·

En daar is die antwoord nou. Eskom bemoei hom met ander velde en versaak sy primêre doel.

domheks ·

Droom voort soos onse prez, ‘n goudstad – sonder liggies. LOL!

Tubac ·

Ek stel voor doen eers goeie navorsing oor die hoeveelheid krag wat deur die voertuie gebruik gaan word. Kry maar eers julle huis in orde , droom dan verder.

Aai ·

Dan gaan die clowns nog minder doen want hulle voertuie gaan staan.Ha Ha

Elma ·

So dis hoe hulle die ekstra geld wat hulle gekry het vir diesel en steenkool aankope, bestee. Daars nie pille nie.

Alta ·

Hul oë en ore is toe gemaak,lewe in n fool’s paradise!!!!!

Johanncb ·

Hulle kan dan nie daarin slaag om die ligte aan te hou nie!?

Jacques ·

Wat ‘n grap. Nou wil hulle die krag netwerk onder nog meer druk sit, terwyl hulle reeds ‘n sinkende skippie is. Elektriese karre gaan nie werk in Afrika nie. Werk nie eers in 1ste wêreld lande nie.

Allop ·

Nuwe geleenthede vir kaders om te skep Wonder net waar gaan die elektrisiteit vandaan kom??

Eugene ·

Eskom is ooglopend siek. Die peiling oor de Ruyter is ook baie swak aangesien 3 uit die 4 vrae basies dieselfde is. Saamgevoeg lees hulle “de Ruyter is ‘n hedendaagse geld….. en sou groot sukses behaal het….. En hy moes lankal…..”

Gaitsigubib ·

Hulle kan maar koester wat hulle wil. Mens moet alle bande met hierdie korrupte spul verbreek as jy n halwe kans kry! Hulle is amper so sleg soos telkom wat boere in ladelike gebiede versaak het, aandele aan hul BEE tjomies gesmous het, teen fraksie van die waarde, net om later n beter deal aan jou te wil smous. Hou maar julle groen krag, ons sal n ander plan maak.

Marthinus Johannes ·

Het nie geld om die Stoom Turbines behoorlik reg te maak nie (spoeg en plak net met handjies ONDER die tafel) maar het geld om aller ander strooi te Borg ( met dubbel hande onder die tafel). Geen wonder hulle kon nie gou genoeg van De Ruiyter onslae raak nie.

Stofdonkie ·

Dan as hulle al die e-motors het, waarmee gaan die motors gelaai word? Met al die beurtkrag kan ‘n motor nooit genoeg laai dat jy hom kan benut nie.

Stofdonkie ·

Dalk moet eskom eers probeer om elektrisiteit te kan verskaf voor hulle kom met slim planne om elektriese motors te wil besit

Pierre ·

Elke E-motor gaan seker ‘n Ventertjie met ‘n generator saamsleep.

Shakespeare ·

Nog n “elektrogasme” as iets goed gebeur. NOT GOING TO HAPPEN !!!

Pietertjie ·

Dis eintlik baie slim. Hulle weet dat die elektriese motors met eskom krag gaan loop, sodoende word olie-baronne gesystap en meer steenkool verwissel van “hande”.

Papsak ·

Ag asb hoe pateties kan jy kry hier is dan nooit krag waar gaan hulle hulle voertuie charge huh skrik wakker uit jou nagmerrie en kom by vat daai geld en ruk Eskom reg

Adri ·

Hulle beplan seker om die voertuie met sonkrag aan die loop te hou. Klomp narre wat nie snaaks is nie.

Yolandie ·

Klink voorwaar na ‘n April fools joke……..net hierdie keer is dit nou regtig nie snaaks nie. Hulle kan dan nie eers krag voorsien aan die hele SA nie, maar nou wil hulle elektriese karre aanskaf? Nou wanneer gaan hulle dit ry????? Tydens loadshedding …….dis sooo langwekkend.

Belinda ·

HAHAHAHAHAHAHAHAHAHAHAHAHAHAHA!!!!!!!!!!!!!!!! En Eskom dink oor 7 jaar sal alles weer goed gaan… vertel nog ‘n grappie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.