Eskom: ‘Kragnetwerk onder druk’

[OPVOLG] Eskom het Donderdag om 17:41 bevestig Fase 1-beurtkrag word ingestel.

Betoging by Eskom se Megawatt Park in Johannesburg (14 Junie 2018). Foto: Twitter via @NUM_Media

Ná ʼn dag van protesaksie by verskeie Eskom-kantore en -kragstasies het die nasionale kragvoorsiener ʼn beroep op verbruikers gedoen om elektrisiteitverbruik te verminder om beurtkrag te voorkom.

Eskom het laat Donderdagmiddag in ʼn verklaring gesê die nasionale kragnetwerk is onder druk weens die dag se betogings en daarom word verbruikers gevra om tot 20:00 geisers, verwarmers, swembadpompe en alle nie-noodsaaklike elektriese toestelle af te skakel.

“Eskom werk saam met ander nasionale strukture en belanghebbendes om die kragstasies aan die gang te hou te midde van die protesaksie. As ʼn laaste uitweg sal Eskom sy kragstelsel-gebeurlikheidsplanne implementeer, insluitend beurtkrag, om ʼn totale afsluiting van die nasionale kragstelsel te verhoed,” lui die verklaring.

Indien beurtkrag wel toegepas moet word, sal dit volgens munisipaliteite se gepubliseerde beurtkragskedules gedoen word, het Eskom gesê. Eskom-kliënte kan Eskom se webtuiste besoek vir die beurtkrag-skedules.

Intussen het Stad Tshwane Donderdagaand op sy amptelike Twitter-profiel bevestig dat beurtkrag reeds in verskeie gebiede in die munisipaliteit ingestel is.

Khulu Phasiwe, Eskom se nasionale woordvoerder, het op Twitter foto’s gedeel van betogers wat voorwerpe brand en paaie afsper (14 Junie 2018). Foto: Twitter via @KhuluPhasiwe

Maroela Media het vroeër berig lede van die vakbonde NUM en Numsa het Donderdag in groot groepe buite Megawatt Park in Johannesburg saamgedrom. Die werkers eis ʼn salarisverhoging, maar Eskom het reeds vroeër gesê die kragvoorsiener se benarde finansiële posisie laat hom nie toe om enige verhogings aan te bied nie.

Eskom het ook vroeër gesê dat die betogings met sabotasie en intimidasie gepaardgegaan het en dat daar verskeie voorvalle was waar personeel aangeval is, paaie versper is en elektrisiteitsinfrastruktuur opsetlik beskadig is. Steenkoolaflewerings per pad is ook weens veiligheidsredes gestaak.

Numsa het Donderdagmiddag op sy amptelike Twitter-profiel gesê Eskom het sewe dae kans om op die vakbonde se eise te reageer of daar sal ʼn “nasionale afsluiting” van die kragstelsel wees.

Eskom het gesê hy sal deurlopend nuwe inligting deurgee oor die stand van kragtoevoer in die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Pieter ·

Loadshedding reeds aan die gang.Moot in Pretoria reeds van die eerstes.Gaan n lang winter word.

Jan Nel ·

Die dreigement op Numsa se amptelike profiel?

Numsa se bestuur behoort dan kragtens die wet op terrorisme gearresteer te word.

MCS ·

Die president van die land moes die nonsens al stop gesit het. Voor 1995 sou die weermag ontplooi gewees het en sou persone geskiet geword het as mens ‘n staat instansies skade wou berokken. Maar weereens kan ons nie staatmaak op die president.

Nic ·

Ramaphosa sal niks aan die vakbonde doen nie. Onthou, hy was self ‘n vakbond leier, dit is hoe hy in die politiek beland het!

Tokkie ·

Maar net nog n staats beheerde instelling wat uitmekaar val

Afdank ·

Dis ‘n noodsaaklike diens. Fire die stakendes. Stel mense aan wat wil werk. Of nee, wag, ek het vergeet, wat van hulle MENSEregte…

Koos de Meyer. ·

Dit is die gevolge daarvan omdat Unies toegelaat is. Nou maak hulle soos hulle wil en daar word elke keer aan hulle eise voldoen, al dwing hulle die land op sy knieë hulle gee nie ‘n venter om nie. Niemand gaan hier kom belê as dit so gaan nie.

James ·

Ons sit nou al vir 2ure sonder krag. Kinders kry koud na bad. Hoekom gebrur dit nou. Kos is ook half gaar gewees

Witvel ·

‘n Witvel sou lankal vir sabotasie, terrorisme en ondermyning vd staat in die tronk gesit het. Dis uiteraard wat met lede vd boeremag gebeur het.

Alida ·

Elarduspark sit ook in die koue en brood eet al van 6 uur af!

Sann ·

Die “toeval” is net te groot dat hierdie krag-krisis oorvleuel met die laaste dae waarin vertoë teen Onteiening ingedien moes word. Dit is deeglik beplan om sodoende die aandag te verskuif tussen die (spreekwoordelike) duiwel en die diep blou see. Maar ek kan nie help om ook letterlik na die een kant as die duiwel te kyk, en Eskom as die bodemlose (blou) see waarin ons laaste belastinggeld gepomp word nie. Mag God Drie-enig by ons bly en wees – ons wat tot Hom roep.

Jannie ·

Nee Koos hierdie is die gevolg van verkeerde kruisies op stembriewe trek.
En dit kan verder teruggevat word as 1994.

pieterdp ·

Help nie ou koeie word uit die graf gegrawe nie. Kyk voorentoe en bou kyk liewer wat jy kan doen om ons te beskerim.

Ai mense ·

Kom ons neem aksie (maar ek het vergeet, ons kan nie sonder die gemakikheid klaar kom nie…tegnologie – Facebook, Twitter, Instagram,…(wat net negatiwiteit veroorsaak)…sit almal hul krag af van 20;00 tot 05:00…vir n maand,…eskom wek krag op, wat nie gebruik gaan word nie, finansieel gaan dit hul op hul kniee bring, ….dink bietjie daaroor

Nikita ·

Dis nie so maklik nie ons lewe nie meer in oer oue dae nie, ons het almal groot geword met krag. Meeste van ons koop kruideniersware vir n maand het ons yskaste nodig almal is nie gelukkig om kragopwekkers te he nie. Glad nie meer soos in Voortrekkers se tyd nie. Die ekonomie is ook afhanklik van krag. Dit sal goor wees veral vir die kinders en ou mense.

Boertjie ·

Wat sou jy voorstel ek moet doen sonder krag? Ek slaap in die nag met ‘n masjien wat my aan die lewe hou, en wat krag gebruik. Die nagte wat ons kragonderbrekings het, sit ek maar so half regop en dut, omdat ek ophou asemhaal in my slaap. So ek sien vir my geen ander uitweg as om my krag van 20:00 tot 05:00 aan te hou in die nag nie….

snoefie ·

daar begin dit. beurtkrag as gevolg van om die tekort aan goeie steenkool te verdoesel. as hulle dit mos lank genoeg gaan volhou, dan sal die gebruikers volgende jaar smeek om 40% meer vir krag te betaal. die zuma’ en guptas se besigheid sowel as al die onwettige verbindings in die gemeenskappe, die groot bestuurskorps met hoë salarisse en groot bonusse byt julle nou in die hakskeen. doen wat reg is. moenie die gebruiker leeg melk om julle traagheid, baantjies vir boeties en vergrype te subsideer nie.

Gertryda ·

Jinne maar die stakers is slim ouens
Weet net wanneer om te staak
Nou met SWB
Studente net voor eksamens
Paaie toe met paasfees
Paaie toe met comrades
Daarvoor hoort hul n pluimpie te kry
Hul mag nie staak??? Noodsaaklike diens!!!! Waar is eskom se dreigement om n hof bevel te kry??
Nee wat as verpleegsters polisie en almal in noodsaaklike diens nie die selle het om te weet dit doen die land skade aan, is daar geen salf aan te smeer nie.
Ek is voorbereid op plaas
Water in tenks
Braai staan reg
Extra petrol
Versterker vir yskaste
As ek nie krag het het ek nie eens water nie
Hier leer ons gou

Veritas ·

Geen wonder dat die ANC, tydens die konflik met die SAW, verkies het om ‘n terreurveldtog te loods nie. Dit wys nou tog weer duidelik hoe ruggraatloos die leierskorps is. In enige beskaafde land sou sulke dade as sabotasie beskou en hanteer word. Die ANC weet nou nie meer watter kant toe met hul ondersteuners nie en dus gaan die fout weer by apartheid gesoek, en die blankes blameer word. Hulle is egter besig om die holruggeryde perd in die grond in te ry en wat dan? Selfondersoek? Ha-ha.

John ·

Wie ken nog die resep hoe om ‘n koelkas te maak met uitgebrande kole wat onder ‘n koelteboom hang en net afhanklik is van die gratis en verniet windjie? Miskien moes ek nie die gratis wind gemeld het nie want netnou moet ons ook daarvoor opdok. Dis nodig dat die prys van gas bestudeer moet word. Hierdie handevat van gas en petrol vir prysvastelling is ‘n onding. Dit wil lyk asof Eskom sy hand in die paai het. Waarom moet gas so duur wees? Indien die krag af is, moet daar op gas gereken word en Eskom sorg elke jaar dat sy treurmares vir meer geld die verbruikers in die winter tref sodat die publiek geen verweer teen sy magtige gulsige pens het nie. Afpersing is skynbaar Eskom se hoof-motto.

GM ·

Nou moet almal anders weer gestraf word. Daar is baie maatskappye wat nie verhogings kan bekostig nie. BAIE. Gaan haal jul verhogings by jul korrupte boeties. Hoeveel mense gaan nou sterf by hospitale? Gaan die Eskom werkers aangekla word vir moord? Hoeveel kry krag verniet? Laat ALMAL vir krag betaal, dan is daar ekstra geld vir verhogings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.